Ons het op 300m ingeskiet en toe na 700m beweeg vir die kompetise. Daar was 26 twee-man spanne, die een skut skiet na die springbok en die ander na die swartwildebees. Elke skut skiet 3 skote op elke afstand op sy eie teiken vanaf 700m, 600m, 500m, 400m en vanaf 300m 3 skote vir die kop. Die teikens is eers besigtig na die wedstryd, al die skote is gemerk met die afstand waarop dit geskiet was.
Die standaard van die toerusting was van die beste - daar was slegs twee gewere wat nog korrels en visiere op gehad het, die res was almal dikloop varminter/ teikengewere. Slegs Harris tipe opvoubare "bi pods" is voor tesame met 'n sandsakkie agter toegelaat as ondersteuning. Die kompetisie was totaal oorskryf binne 10 dae met 8 spanne op die waglys vir moontlike onttrekkings voor alle verdere inskrywings gestop is. Ons sal waarskynlik volgende jaar twee aflossings probeer inpas en dit opstoot na so 40 spanne toe.
Die doel van die kompetisie is om te kyk in hoe 'n mate tegnologie en toerusting die skuts in staat stel om 3 doodskote op elke afstand te kan skiet. Die borgskap werk dan onder andere ook so dat elke teiken op elke afstand 'n R100 Safari geskenkbewys kan verdien mits al drie die skote op daardie afstand tellers was. Elke skut het dus die kans gehad om tot R500 in die proses te wen, maak nie saak van sy algemene posisie op die ranglys nie. Die groot prys was R10 000 Safari geskenkbewyse vir die wenspan mits al die skote doodskote was. Indien die wenspan wel een of meer mis of kwesskote geskiet het, dan verminder die prysgeld na R5000 vir die span. Die R10 000 prys is nog baie veilig.
Die tellings het as volg gewerk: 5 punte vir die hart en kop, 4 punte vir die sentrale longe, 3 punte vir die groter long area en nek, en -1 vir alle mis en kwes skote.
Hierby aangeheg is die spanne se resultate en grafieke wat die resultate op elke afstand aandui.
Op 700m was daar slegs een persoon wat 3 doodskote kon skiet op die wildebees, geen op die springbok.
Op 600m slegs 2 persone wat 3 doodskote elk op die wildebees kon skiet, geen op die springbok.
Op 700m was slegs 24% van die 78 skote doodskote op die wildebees, en op die springbok slegs 13% doodskote.
Sowat 50% van die kopskote op 300m vir beide teikens was doodskote.
Op 400m was die skuts baie meer suksesvol, veral by die wildebees waar 60% doodskote was.
Op 500m was skuts meer suksesvol as met 300m kopskote by die wildebees.
Vanaf 600m kom die wiele heeltemal af.
Die Safari manne, Benand Els van Pretoria en Stefan van der Linde van Rivonia het hulle baie goed van hulle taak gekwyt en 7de geëindig.
Ek en my spanmaat, Flippie van Tonder van die MAN span het die 700m gewen met 2 raak skote elk, maar op 600m het die wind my weer gevang en al 3 was mis.
Sien aanhaling van Dr Alewyn Conradie oor die skietdag:
Goeiemore Hercules en die Skietkomitee
As wenners van die pas afgelope Langafstand skiet wil ons graag n woord van waardering rig aan u as organiseerders sowel as die persone wat die ondankbare werk agter die skerms gedoen het van hierdie puik kompetisie!
Die dag was n wonderlike sukses en werklik goed georganiseer. Die borgskappe was baie goed en weereens ons opregte dank aan julle vir die reelings hier rondom en ook ons opregte dank aan al die borge. Ook die T-been, soos verlede jaar,was baie spesiaal. Die skiet was, om dit sagkens te stel, uitdagend.
Dit kos regtig tweekeer se dink voordat n mens kan besluit om onder normale jagtoestande op lewendige wild los te brand op hierdie distansies!
Ons hoop dat hierdie skiet n jaarlikse instelling sal bly by SA Jagters.
Nogmaals dankie en vriendelike groete,
Alewyn en Elardus

