Nel Fourie van Formalito het in my oor gefluister dat ek 'n klein bietjie moet vasstaan, toe ek navraag doen oor sy aanbeveling vir nuwe glase vir my 243 AI. Nel se voorstel was dat ek eers een van die nuwe teleskope onder oë kry, voor ek besluit.
Ek is nie 'n groot kompetisie skut of uithaler jagter nie. Ek skiet nie een gat groepe nie en my begroting vir buitemuurse aktiviteite, is maar skraps.
My vereistes vir 'n nuwe teleskoop was as volg;
'n Teleskoop met helder glas, waarmee ek 6mm koeël gate, op 200 m kan sien op 'n bok teiken.
Genoeg vergroting dat ek gemaklik my raakskote op staal plate, verder as 350m, kan sien.
Bruikbare vertikale verstelling, sodat ek met gemak tot en met 1000m kan korrel met die 243.
Verkieslik, "oop" verstelknoppe en 'n sero-stop funksie.
Daar is heelwat teleskope wat aan die meeste van die vereistes voldoen, maar daar is altyd iets wat pla.
Gewoonlik is dit maar die prys.
Quenets in Worcster het onlangs, heelwat goeie pryse op teleskope geadverteer en daarmee in gedagte kontak ek vir Ockert om navraag te doen oor die nuwe Leupold. Binne 'n half uur kom die oproep met die goeie nuus. Hy het jou waarlik een vir my opgespoor!
Die transaksie is beklink en Nel was so gaaf om dit vir my te gaan optel tydens sy rondtes in daardie kontrei.
Wel, hier is hy!
Leupold VX-3i LRP. 8.5-25 × 50.
Die teleskoop het 'n paar nuttige funksies wat nie noodwendig uniek is nie, maar definitief nuut is vir Leupold in 'n "standaard" paket.
Die bulletjie het 'n 30 mm buis met 80 Moa verstelling in elevasie. Leupold se nuutste lens tegnologie vir maksimum lig "deur-laat". 'n Relatief hoë elevasie verstelknop met 15 Moa verstelling per rotasie en 'n sero stop. Die rede vir die hoë toring is die skede wat afsak, soos die stelknop gedraai word, om die elevasie, numeries aan te dui. Die wind stelknop se hulsel kan verwyder word en 'n ring word voorsien om die skroefdraad te beskerm, indien jy sou verkies om dit oop te hou. Soos met baie van die groter vergroting teleskope, is die sig wydte kleiner as normaal. Om hiervoor te vergoed is 'n handige hefboompie op die vergroting ring aangebring. Soek jou teiken op 8.5 vergroting en draai dan op tot 25 om te korrel. Die hefboompie kan ook verwyder word en vervang word met 'n plat skroef, indien jy dit sou verkies.
Op die baan het die teleskoop my verbaas. Ek kon my skote gemaklik op 300 m sien op 'n teiken met 'n wit agtergrond.
Die kruishaar is Leupold se T-moa met 'n 20 Moa se afmik strepies vir elevasie en horisontale afwykings. Die horisontale en vertikale bene raak nie aanmekaar in die middel nie. Dit vorm 'n klein opening wat sorg dat jy nooit jou mikpunt toemaak nie.
Wat kan ek nog sê behalwe dat die teleskoop sommer lekker windgat lyk op my 243 en alles doen wat ek graag van 'n teleskoop verlang.
Hierdie is die eerste werklike "veldskiet" teleskoop van Leupold en teen minder as R 20 000.00, sien ek maar swarigheid vir die kompetisie.
Lees meer hier oor die teleskoop.
Leupold VX-3i LRP
Volgens 'n betroubare bron is 'n groot besending oppad en behoort hul binnekort vrylik beskikbaar te wees.

