Die naam is Stephan en ek het vandag aangelsuit na weke se roofkyk
So bietjie jag agtergrond vir die wat sou belangstel :
Laas jaar het ek die eerste keer die voorreg gehad om saam te gaan jag (te danke aan skoonpa). Na 'n paar maande se oefen met die .243, inligting en tips van skoonpa is ek opgewonde en vol senuwees die veld in. Die eerste oggend was die beste doop in die veld - het niks geskiet nie en het die geleentheid gehad om die bosveld bietjie beter te leer ken en te sien dat jag nie net oor bok skiet is nie! Na 'n lekker middagete was dit sulke tyd...ons sien 'n trop blesbokke en ek kry die groen lig om saam met die gids af te spring en te begin bekruip. Twintig minute later sit die gids die skietstok neer en se vir my "daarsy". Ek le aan agter die teleskoop maar die ram wat vir my staan en kyk lyk bitter ver. Nee, ek se vir die gids ek dink hierdie skoot is bietjie bo my vuurmaakplek, ons moet nader. Omtrent 30 meter verder sit hy weer neer en se vir my "Hier is min bome en bosse om agter weg te kruip, ons gaan nie nader kom nie". So vinnig en kalm soos ek kan probeer ek al die tips onthou (min wetende dat omtrent 300 meter verder sit 5 manne en kyk hoe hierdie afspeel...). Die skoot loop en ek verloor die ram in die teleskoop agv die recoil. Gids stel my gerus "Jy het hom. Mooi skoot". Blesbok het so paar meter gehardloop en daar sy laaste asem uitgeblaas. Resultaat : Skoot was op ongeveer 268m en horings 15".
Die volgende oggend was ek gelukkig om weer kans te kry en het 'n rooibok ooi op ongeveer 80 meter gekry. Die trop het die eerste paar druppels bloed toe gehardloop en my hart het in my keel gesit vir omtrent 100 meter toe ons haar kry.
Ek is BAIE gelukkig om nog nie 'n storie oor n kwesbok te he nie so 'so far so good'. Twee skote - twee bokke. Hopelik gaan hierdie jaar ook goed.
Nodeloos om te se maar die gogga het ordentlik gebyt en ek is in die proses om my eerste roer aan te skaf - 'n 30.06 Musgrave Mod 83.
Hoop om nog lekker te gesels hier en lekker kennis op te doen!
Bly om almal te ontmoet


