Ek begin hierdie hofie om so bietjie terugvoering te gee oor byde die kaliber en die geweer.
n Paar van julle weet van al die intriges met die hele projek maar ek sal in elk geval so vlugtig weer noem. Ek het basies op hierdie kaliber in 2010 besluit toe ek sien dat Ruger hom aanbied in hulle VT reeks. Hierdie geweer kom in n 28 duim loop konfigurasie wat pragtig uitwerk met meeste koeels in die nodespoed departement. Ek het redelik opgelees oor die kaliber en iets wat my by geval het was dat hy teoreties baie goed presteer met S365. Geensins net blote toeval nie aangesien die kaliber so ontwerp was om IMR4350 deur Hornady se manne.
Ek het die geweer bestel en solank al die komponente bymekaar begin maak. Doppe was net van Hornady beskikbaar en het n baie swak smaak in die mond gelos toe ek die 500 van hulle ontvang. Gewigte het ontsaglik gewissel en 100 was nie geaneal soos die res nie. Ek het dit so aan Hornady raporteer en hulle terugvoering was dat dit binne vervaardings spesifikasie was en dat hulle die 100 doppe sal omruil wat nie geaneal was nie. Daar is darem ook nou goeie nuus dat Nosler Custom Competition doppe ook nou vervaardig in die kaliber. Iets wat kretiek is vir enige langafstandkaliber is dat doppe van gehalte beskikbaar moet wees.
Na twee jaar was ek moedeloos want daar was nog geen silwer rantjie te bespeur aan die donker wolk nie. Ek het toe met n spesiale aanbod van S&O afgekom op n Savage LPR in die kaliber. Die geweer het n 26 duim loop wat my gehinder het tot so n mate dat ek toe klaar n 28 duim Shillen Ratched Groove loop bestel het. My ou maat Piet Breedt se ondervinding met sy Savage LPR in 260 Rem was die deurslaggewende faktor wat veroorsaak het dat ek hoogverraad gepleeg het teen my geliefde Ruger's. Die verraad is verder gevat en die keer het my Leupold oorheersing in die slag gebly deur die aankoop van n Nightforce NSX 8-32x56 MOAR kruishaar met die Zero Stop funksie. n Baie handige funksie die Zero Stop waar hy jou verhoed om verder terug te draai as jou zero. Hierdie funksie sou baie handig tepas gekom het op my 25-06 twee weke terug in ons SAJWV se groepering skietdag waar ek die teiken heel mis geskiet het toe ek gedink het ek het die teleskoop na zero toe teruggedraai na ons langafstand skiet daar by Piet!
Wel ek kan met eerlikheid terug raporteer dat daar onheil in my hart is! Ek wil nog Savages he en dit is nie nou nog ekstra kinders nie, hulle twee is al genoeg! Die akkuraadheid van hierdie model is verstommend. Ek het gister n vyfskoot groep geskiet van 10mm en dit was net skoot nommer vier wat ek dadelik geroep het wat hom soontoe gerek het. Vier skote was binne 5mm van mekaar! Hierdie is met virgin doppe wat net gesort is volgens hulle gewig. Geen nekke is geskil of enige iets verder nie. Ek het sonder om die geweer te gehad het besluit op n TPL en tien rondtes gelaai met n lading van 42,5gr S365 agter n 130 Berger VLT met CCI BR primers. Ek het begin met die inskiet van die geweer in ons 100m binnehuise skietbaan by ons geweerwinkel waar die geweer gestoor was. Spoedlesings kon ongelukkig nie geneem word nie maar die groeperings was baie belowend tussen die een skoot en skoonmaak prosedure. Die loop het wel geweldig moeilik skoongemaak en ek kon voel die loopoppervlak was geweldig grof met die deurstoot van lappies. Ek het tot op skoot nommer sewe gekom en gelos.
Op hierdie staduim het Willem van S&O vir my n produk gestuur wat help met die inbreek proses maar ongelukkig was daar een van die aplikator steentjies kort en het ek besluit om aan te gaan met die inbreek proses sonder hierdie hulpmiddel. Ek kon hierdie nou beter doen by my huis se skietbaan want die lesensie kaartjies was in my hand na een en n half maande se wag. Die eerste skoot van die oorblywende 10 gelaaide rondtes het n spoed opgelewer van 2880ft/sek wat net so rapsie vinniger was as wat QL voorspel het. Die Lott no is 64 wat ek weet redelik in lyn was met QL se gegewens so dit het my vermoede bevestig dat hierdie kaliber en S365 reg gaan wees vir mekaar. Die druk was op hierdie lading so 53 000psi en ek het n vermoede gehad dat hy gaan mooi bymekaar kom hier op 56 000-60 000psi soos baie kalibers al vir my gewys het. ES met die drie skote was net so oor die 25ft/sek. Nie sleg nie maar enkelsyfers was my mikpunt. groepering was net oor die 20mm met die drie skote. Ek het my volgende lading 43,2gr gemaak wat sou hap aan 56 000psi en hier het die ses skoot groep waarvan 3 elk op verskillende dae geskiet was 16mm in totaal gemeet. Twee binne mekaar en een weg. Spoed was gemiddeld 2920ft/sek met n Es van net onder die 10ft/sek. Al nader na wat ek wou sien. My volgende lading was 43,5gr en dit is die een wat 10mm opgelewer het. Die groep is ook mooi konsentries om mekaar behalwe natuurlik vir die een wat ek geroep het. Ek kon ongelukkig nie spoed neem nie want die skaduwees en bewolkdheid het my verhinder. Ons het die naweek iets gekry wat hulle reen noem so dit was my enigste kans.
Ek gaan die die volgende twee batches van 5 skoot ladings(43,7gr en 43,9gr) in die week skiet en hopelik spoed neem. Laasgenoemde behoort baie naby aan maks te wees van 60 000psi en n spoed van 2970ft/sek. Ek hou duim vas dat die resultate baie naby gaan wees aan die wat ek gekry het met 43,5gr sodat ek n lekker bree belt het om in te beweeg. so terloops hierdie is met die swaarste doppe in die batch geskiet en dopkapasiteit is 53,6gr wat amper spot-on is met die van QL se 53,5gr. Die ligte doppe wat so 70% uitmaak van die batch se gewigte is heelwat laer en behoort my dopkapasiteit op te tel na 54,5gr of daar rond wat weer my maksimum snelheid sal lig na 2985ft/sek.
Die Savage se Accutrigger is n droom en so ook die res van die geweer asook die Nightforce. Ek dink eerlikwaar daar is bitter min fabrieksgewere wat kan saampraat met die Savage LPR. Jy sal soos al elders gesien op die forum ook baie werk, tyd, geduld en fondse moet insit in n pasmaak geweer om uit te kom wat jy standaard hier van die rak af koop vir onder R20 000. Hier wys dit net weer dat stelsels soos die nie gebonde is aan nodespoed nie maar eerder aan ander herlaai kreteria. Drukvlakke van 56 000-60 000psi lewer baie keer die gewenste akkuraadheid. Ek moet nog my maksimum TPL meet en as dit toelaat gaan ek dit langer maak om nader aan die idiale TPL met die dop en nek ontmoeting uit te kom vir akkuraadheid soos Ludie al elders geplaas het. Ek is huidig so bietjie kort daarvan en sal dit graag wil verleng. Ek sal ook graag nogsteeds die magesyn wil gebruik so ek hou maar duim vas dit werk uit.
Die 6.5 Creedmoor het stywe opdraende van veral die 260 Rem, maar persoonlik dink ek dit is die beter dopsontwerp vir inherente akkuraadheid. Die kaliber doen ook bitter goed spesifiek met S365 wat uistekende dopvulling tesame met spoed gee in die koeels wat bedoel is vir langafstand werk. Die een aspek wat tot nou toe teen die kaliber getel het was die beskikbaarheid van kwaliteits doppe wat gelukkig nou aangespreek is deur Nosler. As ek moet gaan op my beperkte kennis tot nou toe kan ek net met lof praat van die kaliber sowel as die geweer.
Groetnis
Wouter



