Lees tog maar Oom Martiens se kommentaar met 'n knippie sout. Hy kan maar outyds in sy sienings wees en soms ondeund ook... net om 'n paar mense se siele uit te trek.
Oom Martiens ennie groot plae
Dit was heldermaan, ’n Afrikaanse naguiltjie het soebat-soebat deur die Karoonag gesoek na ’n maat en van iewers ver af, het ’n jakkals se melankoliese roep op die aandluggie aangesweef gekom.
Ons het elk met ’n drinkding in die hand gesit, ek en Oom Martiens. My blikbeker het kondensmelkkoffie in gehad, syne was gevul met versterkwater want die herfsluggie was al koel en, soos Oom Martiens beduie het: “As jy ’n ou mens is, moet jy nie eens die deur oppe skrefie virrie winter oopmaak nie anners kom byt die kouete vir jou volbek aanie lyf.”
Die skaaprib op die soetdoringkole het gesellig gesis en beide van ons het uitgesien na die vleis en die dik snye brood wat ons mildelik met regte botter en sultana-korrelkonfyt sou dokter. Daar was ’n aangename, afwagtende stilte rondom die vuur maar toe ek weer die rib draai, het Oom Martiens die stilte verbreek.
“Kola,” het hy gewigtig gesê, “Ek dink die eindtyd issie meer ver’ie, daar’s oral moord en doodslag en peste en plae ôk nog. En dis juis allie plae wat vir my so onrustig stem. ’n Mens sal sweer ons is terug in Egipte in.”
“Hoe bedoel Oom dan nou? Ek verstaan nie.”
“Ai Kola, lyk my ek moet jou nog innie Woord ook onnerig. Kyk, doerie tyd toe staat al watte Israeliet is mos voet innie stiebeuel om na die beloofde land toe te trek, maar daai Nevertiete koning wil mos toe niks weetie. Is mos toe latie Egiptenare so gekasty worre met die plae saam.”
“Bedoel Oom nou Nefertiti?”
“Daai einste Tiete Kola, daai einste.”
“Maar Oom, Nefertiti was ’n Egiptiese koningin, nie ’n farao nie. Sy was die vrou van koning Akhenaton wat geheers het gedurende die agtiende dinastie van die ou Egiptiese farao’s. Ramses II was die koning wat nie die Israeliete wou laat trek het nie.”
“Whatever Kola, moe’ nou nie kom neuk mit allie hierogliewe-name vannie faroese nie. Makie saak offit Ramses, Ram-sewe of Nevertiete was nie man. Die goue draad vannie storie gaat oorie plae. Moet jy nou vir my mit boekekennis saam voorie kop kom staat gooi as ek jou vannie Woord wil leer. Julle jongetjiesmense het hopeloos te veel boekgelerentheid en bôkkerol lewenswysheid en kommin sense.”
“Ekskuus Oom Martiens.”
“Nou toe, stil nou, waar wassik nou weer?”
“By die eindtye Oom.”
“O ja… nou kyk, dit smaak my deeske dae is al daai plae aan’t woel hier onner ons, veral onner die jagters en skieters.”
“Genade, waar val Oom nou uit? Hoe sal siektes en plae die geweermanne tref? En wat se siektes nogal?”
Oom Martiens het effens vorentoe gesit en met sy beker my kant toe beduie… “Kwit Kola, al daai siektes ken ekkie by die naam nie maar laat hulle die skietmanne beet het, dié is ’n feit. Kyk, wat ek weet, is lat een se naam die Dee-siekte is.”
“Dee-siekte? Ernstig Oom?”
“Ernstig Kola.” Ek hoor hulle praat vannie Ousie-dee, Eidie-dee, Eisee-diesee en nogge klomp Dee-goete wat ekkie eers die name van ken nie. Smaak my dis eintlik deeske dae ’n statussimbool om een of anner Dee te hê lat jy moet sekwaaietrist toe gaan vir koplesings. Mens kan g’n niks meer sê of doen nie, dan is jy glo heel in in jou dee se disorder in.”
“Oom bedoel seker ’n psychiatrist, ’n sielkundige. En die siekte is OCD, obsessive compulsive disorder en sommige van die ander goed wat Oom genoem het is nie siektes nie,” sê ek, terwyl ek die rib draai.
“Nou Kola, ek seg mos die mense is buite order. Het jy nou weer jou Ingels verloor vedag? Anyway, smaak my die mensdom is siek en die ergste kranklikes is onnerie skietmense. En weet jy, daai ipekonners beginne die dag as hulle ’n deposit loop neersit oppe roer.”
“Hoe so Oom?”
“Jong, saam metie deposit beginne daar ’n Ousie nesskop in hulle se binneste.”
“Oom bedoel ’n bekommernis.”
“’n Groot verkommerte Kola, ’n grote. Want dis dan lat hulle beginte wonner oor allie koeële en greine en waffer koeël hulle mit waffer grein moet laat handvat om hul bokke dood te kry. En van allie verkommer om doodskote te kan skiet, beginne hulle velocity te praat, want velocity isse vreeslike doodskietding, hoor ek. Ma’ die koeële ennie velocities moet mekaar eers like, annerster word ’n roer se doodskiet ’n bontskiet.”
“’n Bontskiet Oom Martiens.”
“’n Bontskiet Kola, en dis nou daai bontskiet watie skieters skoon de Ousie-dee in maak. Hulle wil hê hulle roere moet bonnelskiet, nie bont skiet nie. Hulle soek ’n bonnelskiet kleiner asse muis se oog op 100 jaarts. Jong, en kry hulle nie daai reggie, dan beginne daai Ousies aanteel sôs konyne …”
“Soos konyne Oom?”
“Net so Kola, soos konyne. En een vannie eerstes wat gesig kom wys issie Ousie-dee vannie brandsiek.”
“Brandsiek Oom?”
“Brandsiek Kola. Kyk, as jou bonnel nie bonnel soos jy hom gebonnel wil hê nie dan soek jy die oorsaak van daai slegte gebonnelte en dan wonner jy of elke korreltjie kruit innie dop uitbrand as jy die sneller trek. Want brand amal glo nie uit nie, kry jy ’n vreeslike ekseem wat wyd versprei.”
“Oom bedoel seker ’n groot extreme spread van koeëlsnelheid.”
“Nee ek wetie Kola, maar dis glo ’n bittere ekseem daai. Jou koeël trek sommer soosie pie van ’n man met prostaatprobleme… een oomblik galop daai straal soose .270 se koeël ennie volgende oomblik issit net so ’n slap .303-bogie. Dan vlieg hy weer weg en net soos jy dink dinge loop klopdisselboom, ruk jy sommer so innie ry dood.”
Ek het Oom Martiens se storie begin geniet en nadat ek die rib gedraai en sy versterkwater aangevul het, por ek hom weer aan…
“Genade Oom, die klomp OCDs klink omtrent soos ’n breekspul.”
“Is net so Kola. Dit maak jou helemal rasend. Jy raak só kompalsif lat jy jou patrone begin te trim en skiem en tjoen en bump en joeniefaai en modiefaai oorlat jy bang is hulle beginne dounats ôk nog gooi. Ma’ ek weet nou nie eintlik wat karre en patrone met mekaar te doen hetie. Ons het mos maar net as jongetjiesmense altyd oppe Sondagaand innie pad voor Ou Dominee se huis loop dounatte gooi met my pa se Fairline.
“Anyway Kola, as jy nou die ousie-dee vannie dounatte, die brandsiek ennie bonnels en wat nog als opgedoen het, dan beginte jou moeilikheid nou eers vir jou kasty.”
“Regtig oom Martiens?”
“Regtig Kola. Want as jy nou al daai Ousie-dees opgedoen het dan kom vattie Ousie vannie most iefiesent powder en dop deezaain ôk nog vi’ jou. Daai ousie-dees laat verkommer vir jou moer toe oor velocity per grein, te veel riekoil en erge frast oppie doppe ennie lôkieng laks ôk nog. Alles net oor jy ’n kaliber mitte outydse dop loop staan en skiet. As daai frast te veel is, trek jou hele geweer skewebek en dan kossit nou eers groot geld.”
“Oom bedoel seker bolt thrust.”
“Dit weet ek nou nie Kola, maar ek dink party manne moet maar weer kettie begint skiet of dalk met hulle seloentjies, want mit daai skietgoed is daar minner Dee’s om op te tel. Mitte seloen loop koop jy mos klaar sy patrone, daar’s g’n gevroetel norag nie, jy laai en skiet net. Daarsie norag vir ekperriement nie. Edel ding ’n seloen, hy hetie draadwerk nie. As amal weer met seloens skiet sal ons minner mense met knoop innie derm kry, minner kwaai vroue en minner ei-see-dee-see siektes.”
“Oom, ACDC is ’n musiekgroep se naam en daar is al klaar sprake dat vervaardigers .22-doppe en koeëls apart gaan verkoop sodat mense kan kies watter koeëls hulle wil laai om die .22 nog beter te maak.”
“Nee Kola!”, het Oom Martiens dit letterlik uitgeskree en sy kop geskud. “Behoede ons tog van nogge satansbesigheid.”
Hy het half vooroor gesit en in die vlamme gestaar, skielik oënskynlik sprakeloos. Na ’n lang ruk het hy diep gesug en sy beker na my toe uitgehou.
“Kola, skink dan ’n bietjie vertroosting hier innie hol dingetjie. Ek moet nou eers my senuwees laat settel. Waar gaat die wêreld heen? Ons moet tog net hard bidde latie mense vannie Wynland nie Ousie-dee kry nie want netnou wil hulle ôk beginte eksperriement metie sap vannie edele druiwestok en dan beneuk hulle allie goeie drinkgoed wat ons het.”
Toe Oom Martiens sy beker vir my aangee, het hy skerp geril en omdat ek nie wis of dit uit ontsteltenis was of oor die koue herfsluggie nie, het ek sy drinkding sommer driekwart vol gegooi.
“Oom, maar baie van die dinge wat die manne met die OCD doen is nodig vir beter skiet as hulle aan kompetisies deelneem. Om te wen moet jy fyn skiet. Geringe foute maak dat jy tweede kom.”
“Jaaa Kola, daai kompetisie-ding is nou weer ’n hoener mit heel anner vere.”
“’n Perd van ’n ander kleur, Oom.”
“Ja toe, whatever, ’n hoener is ôkke dier. Anyway, saam met kompetisieskiet kom ’n anner gevaarlike Ousie, die Ousie-dee vannie ego. Kyk Kola, kompetisie en ego is karpêre wat graag innie selle tuie trek. Seker dié lat sekere jagtersverenigings vir al watte ding is sitifiekits en bêdges gee. Ego Kola, isse honger dier. Hy wil ammekaar gevoer raak, ammekaar innie laaimlight wees anners raak hy afgunstig. Enne afgunstige ego Kola, is ’n lelike ding. Jy sien ou seun, daar is mense wat norag het om op die rûe van sitifiekits en bêdges te ry om goed te voel oor hulle selwers. En het hulle nou eers die Ousie vanie ego dan sal hulle alles doen om vir hom kos te gee. Hulle koop sôvil baie gêdgets en êppies en modiefaai hulle roere so kwaai, die goed lyk naderhand soose kruis tussen ’n spinnekop, ’n draadkar, ’n windpomp enne Eskomkragpaal.
“Maar al daardie hulpmiddels en modifikasies is nodig Oom Martiens, want die manne skiet ver en dis moeilik.”
“Ai Kola ja, maar ek skiet liewer naby beterder op my eie as wat ek ver goed skiet met allerhanne êppies en baaipotte of traaipotte en army balsakke en knapsakke wat jy op jou skoot hou vir steadygeit of sandsakke oor pale en annerlike goete. As jy dan nou vir jouself so moet pamperlang mit allie soorte helpe ommie koeël ennie teiken bymekaar uit te bring, mit waffer breëborsgeit kan jy dan spog? Jy ploeg dan mos eintlik mit anner man se kallers.”
Ek het nie dadelik vir Oom Martiens ’n antwoord gereed gehad nie en terwyl ek nog sit en dink wat om te sê, praat hy weer.
“Kola, belowe tog vir my lat jy nooit Ousie-dee sal kry nie. En ôkkie enige van jou roere tot ’n spinnekop-draadkar sal mekêniek nie. Dis te disrespekvol teenie mense wat ordintlike gewere bou en teen die geweer self. Belowe vir my, anners kom kuier ekkie weer vir jou nie.”
“Ek belowe Oom, op my woord van eer.”
“Nou toe, en gooi tog weer vir ons ’n ietsie virie keel, my beker is leeg want ek ontstel vir my erg oor allie plae saam. En kyk sommer daai rib. Smaak my hy gesels nou te lustig mittie kole saam. Ek willie gebrande vleis hê nie, die rib moet net mooi krisp gebraai wees.”
Oom Martiens ennie groot plae
-
Koos Barnard
- Hero Member

- Posts: 2155
- Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am
- Ratel
- Hero Member

- Posts: 1879
- Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm
- PaulM
- Hero Member

- Posts: 881
- Joined: Mon Jul 09, 2012 8:48 pm
Re: Oom Martiens ennie groot plae
Dankie Koos!
Oom Martiens het nou maar die gawe om 'n saak diep filosofies te kan ontleed.
Oom Martiens het nou maar die gawe om 'n saak diep filosofies te kan ontleed.
PaulM
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer.
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer.
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.
-
partner
- Hero Member

- Posts: 988
- Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm
Re: Oom Martiens ennie groot plae
Weer n Great Storie Koos. Baie dankis.
-
partner
- Hero Member

- Posts: 988
- Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm
Re: Oom Martiens ennie groot plae
Weer n Great Storie Koos. Baie dankies.
-
J le Roux
- Hero Member

- Posts: 1113
- Joined: Tue May 20, 2014 8:10 am
Re: Oom Martiens ennie groot plae
Altyd lekker om te lees en wyshede saam met die stories te versmamel.
Vat genoeg skietgoed veld toe, daar's nie winkels nie.
JG Landmann .22LR, Howa 30-06, M98 DWM .375H&H deur Ossie Penzhorn, 7x57 Oberndorf AN Mauser, Musgrave Mod 80 30-06.
JG Landmann .22LR, Howa 30-06, M98 DWM .375H&H deur Ossie Penzhorn, 7x57 Oberndorf AN Mauser, Musgrave Mod 80 30-06.