3 Junie 2021
Geagte kollega
Hierdie nuusbrief handel uitsluitlik oor kommentaar op sosiale media wat beweer dat SA Jagters tot nadeel van die vuurwapen-, jag- en bewaringsgemeenskap optree.
Bewerings op Sosiale Media
SA Jagters en spesifiek Lizanne Nel, bewaringsbestuurder, was onlangs die teiken van onregverdige aantygings in boodskappe wat op sosiale media (Facebook en WhatsApp) gedeel is. Hoewel die boodskap enkele feite insluit, is daar materiële onwaarhede en persoonlike aanvalle op Lizanne. Hoewel SA Jagters normaalweg nie op growwe wanvoorstellings reageer nie, laat die spesifieke aard van hierdie geval ons geen ander keuse as om die koring van die kaf te skei nie.
Die onderstaande boodskap is klaarblyklik op die HAWASA (Hunting and Wildlife Forum Associations) WhatsApp groep gedeel en ook wyer aan heelparty lede van SA Jagters versprei. Ons reageer op sommige van die stellings wat gemaak word om te wys dat hierdie stellings van alle waarheid ontbloot is.
Boodskap (verbatim) soos aanvanklik versprei
HAWASA (Hunting and Wildlife Associations of South Africa)
Lizane vir SA Jagters is op rekord dat SAJWV nie intensiewe omheining van wildsplase steun nie. Hulle steun nie intensiewe teling van wild en erken slegs "gedeeltelike" eienaarskap van wild deur 'n boer.
SAJWV beveg tans die "Animal Improvement Act" in die hof en die wilds boere - Wildlife Ranching is onder andere deur hulle gedagvaar in die saak.
SAJWV steun 'n nuwe "Game meat act" wat behels dat - 'n jagter beperk word op hoeveel wild hy mag skiet tydens 'n jag
Hy mag slegs vir homself skiet
Jy mag nie wild wat jy geskiet het aan iemand anders voorsit nie
Jy mag nie vir familie of vriende 'n bok skiet nie
Jy mag nie wild skiet en vir die werkers op die plaas gee (of vir jou werkers nie)
'n Boer of 'n PH mag nie wild wat geskiet is aan gaste voorsit nie
'n Vleisinspekteur moet teenwoordig wees tydens 'n jag om vleis te sertifiseer en toe te sien dat dit binne regulasies geslag en geberg word
Daar is nog vele ander. By 'n onlangse vergadering het een van Wildlife Ranching se ouens opgemerk, hulle moet dalk jagters wat by hulle opdaag vra waar hulle lede is en indien hulle antwoord SAJWV moet hulle dalk vir die ouens sê, jammer maar julle is nie welkom nie.
SA Jagters se kommentaar op sommige van hierdie stellings is soos volg:
…SAJWV nie intensiewe omheining van wildsplase steun nie. Hulle steun nie intensiewe teling van wild en erken slegs "gedeeltelike" eienaarskap van wild deur 'n boer
SA Jagters steun inderdaad nie intensiewe en selektiewe aanhou en teel van wild nie, roofdiere ingesluit. Hierdie besluit is reeds by ons kongres in 2015 goedgekeur ná volledige bespreking en motivering.
Die stelling dat SA Jagters “slegs gedeeltelike eienaarskap van wild deur `n boer erken” is onwaar. SA Jagters het nie enige standpunt oor hierdie saak ingeneem nie en dit kan dus nie aan SA Jagters toegeskryf word nie.
Volgens Suid-Afrikaanse reg, behoort wild aan niemand nie (res nulius). In leketaal beteken dit dat wild aan die Staat behoort, behalwe indien die eienaar `n vrystellingsertifikaat het wat deur die betrokke provinsie uitgereik is. Sommige provinsies noem dit `n sertifikaat van voldoende omheining. So `n Vrystellingsertifikaat of Sertifikaat van Voldoende Omheining het tot gevolg dat die wild op daardie spesifieke plaas aan die grondeienaar behoort.
Hierdie is nie SA Jagters se standpunt nie, maar is `n regsbeginsel in Suid-Afrika se regstelsel.
SAJWV beveg tans die "Animal Improvement Act" in die hof en die wilds boere.
Dit is korrek dat SA Jagters `n hofaansoek (saaknommer 9568/19 in die Gauteng Noord Hooggeregshof) beteken het op die departement van landbou wat verantwoordelik is vir die implementering van die Diereverbeteringswet. Die Raad het besluit om `n hofaansoek te bring nadat SA Jagters sedert 2016 probeer het om die kwessie met die registrateur vir diereverbetering in die departement van landbou te bespreek, sonder enige sukses.
Die agtergrond is soos volg:
Die Wet op Diereverbetering is van toepassing op produksie- en geselskapdiere (beeste, skape, bokke donkies, perde, honde, katte ens.) en maak voorsiening vir `n lys vir “landrasse” (inheemse diererasse) in `n skedule tot die wet. Hierdie lys maak voorsiening vir rasse van diere, nie spesies nie. (`n Spesie is bv. beeste, terwyl rasse Afrikaners, Friese, Jerseys, Bonsmaras ens. is.)
Die wet maak voorsiening vir die verbetering van hierdie rasse deur middel van erkende en bestaande produksietegnieke soos embriospoeling, genetiese manipulasie en kruisteling met die doel om die produksie van diere te verbeter. `n Goeie voorbeeld is kruisteling van `n Brahman en Simmentaler om `n nuwe ras Simbra te skep. Simbra word dan as ras geregistreer en die eienaarsvereniging het die reg om die spesifieke karaktereienskappe te bepaal waaraan die diere moet voldoen.
Bykans al die inheemse wildspesies in Suid-Afrika – selfs TOPS-spesies - is op versoek van die Wildlife Producers Association by hierdie lys gevoeg. Let wel:
• Dit is spesies wild wat gelys is, en nie rasse soos die wet voorsien nie
• Die byvoeging tot die lys is gedoen sonder enige konsultasie soos die proses vereis
• Die byvoeging is gedoen sonder inagneming van die mandaat van die departement van omgewingsake wat spesifiek verantwoordelik is vir wildlewe en bewaring
• Die implikasie van die gelyste wildspesies is dat kruisteling mag plaasvind om nuwe rasse te skep. Daar is byvoorbeeld reeds kruisings tussen elande en koedoes wat bemark word
SA Jagters beveg nie die Diereverbeteringswet soos beweer word nie maar slegs die onregmatige byvoeg van wildspesies in die skedule tot die wet. Dit is onwaar dat SA Jagters wildboerdery teenstaan.
Wildlife Ranching is onder andere deur hulle gedagvaar in die saak.
Hierdie stelling is vals en dui op `n gebrek aan begrip en kennis oor die regsproses. `n Kopie van die aansoek is wel op WRSA beteken om hulle in kennis te stel van die proses indien die WRSA as die verteenwoordigede vereniging van wildboere sou besluit om die aansoek teen te staan.
`n Soortgelyke kennisgewing is ook op SAAI beteken wat reeds skriftelik bevestig dat hulle nie die aansoek sal teenstaan nie, terwyl WRSA deur hulle prokureursverskyning laat blyk het dat hulle moontlik die aansoek sal teenstaan.
Daar is groot verskil tussen “beteken” en “dagvaar”. SA Jagters het niemand en beslis nié vir WRSA gedagvaar nie.
SAJWV steun 'n nuwe "Game meat act" wat behels dat - 'n jagter beperk word op hoeveel wild hy mag skiet tydens 'n jag
Hierdie stelling is van alle waarheid ontbloot. Die departement van landbou is reeds verantwoordelik vir vleisveiligheid wat hulle deur middel van spesifieke regulasies toepas en uitvoer. Die bestaande regulasies bepaal baie lank reeds dat slegs vleis van diere wat in `n abattoir geslag is in `n slaghuis verwerk mag word.
Die departement van landbou is egter besig om hierdie vleisveiligheidregulasies te wysig met die doel om beperkings te plaas op die aantal diere wat jagters vir eie gebruik mag jag. Die voorgestelde regulasies sal ook bepaal dat wildsvleis wat vir eie gebruik gejag word nie in `n slaghuis verwerk mag word nie en ook nie verkoop mag word nie.
SA Jagters en ander belanghebbendes in die bedryf het in 2020 `n wildsvleisforum (Game Meat Industry Forum) gestig om juis beswaar aan te teken teen sekere van die voorgestelde wysigings. Hierdie forum het verskeie wysigings aan die beplande regulasies voorgestel om jagters juis in staat te stel om onbeperk vir eie gebruik te mag jag en hulle vleis te verwerk.
SA Jagters het op sy eie so ver gegaan en die minister van landbou in `n prokureursbrief gewaarsku dat die Vereniging verdere aksie sal neem indien die versoeke om hersiening van die voorgestelde regulasies nie in ag geneem word nie. `n Kopie van die brief aan die minister is hier beskikbaar.
SA Jagters verstaan dat dit die bedoeling van die departement van landbou is om die slag en verwerking van wildsvleis wat deur slaghuise en supermarkte verskaf word, op soortgelyke wyse te hanteer as bees-, skaap- en varkvleis wat by groot abattoirs verwerk en verkoop word. SA Jagters is van mening dat so `n proses geen beperking mag plaas op die jag, slag en verwerking van wildsvleis wat jagters vir eie gebruik jag nie.
Ek vertrou dat hierdie verduideliking die kwaadwillige bewerings wat op sosiale media versprei is in die regte konteks plaas as loutere onsin. Ek glo dat lede die goedertrou van SA Jagters teenoor sy lede aanvaar en enige soortgelyke boodskappe met die minagting bejeën wat dit verdien.
Daar heers `n wanpersepsie dat die beginsel van vryheid van spraak mense vrywaar teen ondeurdagte uitlatings wat hulle op sosiale media maak. Laster, leuens en haatspraak op Facebook en Twitter kan ernstige nagevolge inhou. Jy kan jou werk verloor, tronkstraf of boetes opgelê word en jou naam sal vir altyd gekoppel wees aan onverantwoordelike optrede. Gaan lees hier meer oor vryheid van spraak, haatspraak en laster binne die konteks van sosiale media interaksie.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB
Kommentaar oor SA Jagters se optrede
- tripodmvr
- Administrator

- Posts: 21608
- Joined: Fri Mar 11, 2011 8:31 pm
Kommentaar oor SA Jagters se optrede
.22 Krico, Howa 223 Varminter, 243 AI Musgrave RSA, Ruger RPR 243, P14 - 7 x 64, BSA 303 Sporter, 375 H&H Musgrave, 30-06 Ruger No. 1A, Khan O/U 12br, Norinco O/U 12br
-
OosKaapJagter
- Hero Member

- Posts: 959
- Joined: Thu Jul 07, 2016 9:14 pm
Re: Kommentaar oor SA Jagters se optrede
Dit is die een groot swakheid van ons volk. As 5 Afrikaners op 'n eiland strand na hulle boot sink, het hulle teen die volgende oggend 3 kerke en 5 politieke partye gestig.
Intussen moet ons probeer saamwerk terwyl politici ons wil ontwapen.....
Intussen moet ons probeer saamwerk terwyl politici ons wil ontwapen.....
-
Basjan123
- Sr. Member

- Posts: 450
- Joined: Fri May 06, 2016 1:06 pm
Re: Kommentaar oor SA Jagters se optrede
Jy praat baie waar, dit is besig om ons eie ondergang te verseker.....OosKaapJagter wrote: Thu Jun 03, 2021 10:20 pm Dit is die een groot swakheid van ons volk. As 5 Afrikaners op 'n eiland strand na hulle boot sink, het hulle teen die volgende oggend 3 kerke en 5 politieke partye gestig.
Intussen moet ons probeer saamwerk terwyl politici ons wil ontwapen.....
- ruaanb
- Hero Member

- Posts: 5557
- Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am
Re: Kommentaar oor SA Jagters se optrede
O jaOosKaapJagter wrote:Dit is die een groot swakheid van ons volk. As 5 Afrikaners op 'n eiland strand na hulle boot sink, het hulle teen die volgende oggend 3 kerke en 5 politieke partye gestig.
Intussen moet ons probeer saamwerk terwyl politici ons wil ontwapen.....
- EtienneA
- Sr. Member

- Posts: 350
- Joined: Wed Sep 03, 2014 7:31 am
Re: Kommentaar oor SA Jagters se optrede
Ons kon nog nooit saamstaan nie. Ons grawe ons eie graf! Elke brommer wil baas wees op sy mishoopOosKaapJagter wrote: Thu Jun 03, 2021 10:20 pm Dit is die een groot swakheid van ons volk. As 5 Afrikaners op 'n eiland strand na hulle boot sink, het hulle teen die volgende oggend 3 kerke en 5 politieke partye gestig.
Intussen moet ons probeer saamwerk terwyl politici ons wil ontwapen.....