Vrydag 20 September breek die dag toe uiteindelik aan. Ons vriend Konrad het vir ons vier man groepie so vinnige wegbreek naweek gereel , en die manne is almal reg en gereed om die pad te vat Omawiwe toe vir n welkome laaste jag van die seisoen.
Wikus en Konrad spring sommer al weg teen een uur toe die skool uitkom, en Gerhard is so gaaf om te wag tot ek klaar werk, dat ek nie alleen hoef te ry nie. Teeen 4 uur is genoeg ook genoeg, en vat ek en hy ook die pad binneland toe.
Dis n taamlike onwelkome Suid-Ooste wind wat waai toe ons ry, maar ons sien so uit na die naweek dat die wind nie eintlik ons spoed breek nie. Net so voor agt ariveer ons ook op die plaas waar die vuur klaar lekkker brand in die lapa, en die bier yskoud staan en wag.
Die ander manne was al voorheen ook hier, en stel my voor aan Piet, die PH en eienaar, en ons kuier saam tot laat langs die vuur.
Saterdagoogend vroeg kry ons n koninglike ontbyt, en vat toe die pad na die skietbaan om te kyk of al die roere nog reg is.
Ek het my splinternuwe Zeiss nou op, en al wat ek eintlik wil doen, is om die scope in te stel, en net saam met die ander manne te kuier. Konrad wil egter 4 Gemsbokke hê, en stel voor dat ek ook een skiet aangesien ons net die een jagdag het.
Ons kyk eers op 25m wat maak die scope, en die lyn is reg maar net laag. Doen die nodige verstelling, en so twee skote later skuif ek aan na 100m. Nog een skoot, en ek is doodtevrede met my nuwe aankoop. Die ander manne maak ook gou seker van hul skote, en met almal tevrede is ons op die bakkie om in ons onderskeie kampe afgelaai te word.
Ek en Gerhard word eerste afgelaai saam met Casinga die gids, en met die Camelbacks gelaai en gewere op die skouer is ons reg vir die dag.
Die windjie stoot konstant uit die Noord Ooste, wat dit idiaal maak vir die loop en bekruip dag wat voorlê. Nie te vêr in die kamp in, sien ons die eerste Hartebeeste, maar die is in die kamp langsaan oppad na ons toe, en sovêr nie op die menu nie.
Nog so entjie, en ek gewaar die eerste Gemsbok, maar die sien ons ook terselfde tyd, en daar is nie skietkans nie. Ons loop stadig tot op so klein kliprantjie om die wêreld so bietjie beter te beskou, en merk twee Gemsies op wat staan en wy so 500m verder in die bos. Met die wind in ons guns begin die bekruip sessie nou ernstig.
Die veld het n paar mooi ooptes, maar is ongelukkig meestal ruig, so ons sal moet taamlik naby kom om skietkans te kry. Ongelukkig raak die bokke bewus van ons, maar darem nie so dat hul op loop gaan nie, en bly wei net heeltyd voor ons uit sonder dat ons skietkans kry.
Na so twee ure lank se kat en muis spelery, kry ek die eerste keer kans om die skietstokke neer te sit, en aan te lê. Die bokke is skaar 50m voor ons, en heel onbewus van ons teenwoordigheid. Hulle is egter diep in die ruigtes, en ek wag geduldig vir n skietkans. Hier maak ek egter my eerste fout, die skietstokke is so bietjie hoog gestel, en ek druk die skietstoksneller om so bietjie te sak. Hou toe egter nie in rekening my .308 se gewig bo op nie, en die stokke sak tot so amper n meter bo die grond. Nie my slimste move ooit nie.. Die bokke is nou bewus van ons, maar darem nie heel onrustig nie, en skuif so bietjie dieper die ruigtes in. Ek staan nou op my kniee om die skoot te kan vat, aangesien ek nie weer wil stel aan die skietstokke nie, en hou n mooi bul dop deur die Zeiss. Daar is egter so paar takkies voor hom, en ek besluit om nie die kans te vat hier in die ruigtes nie. n Sleg skoot nou sal n baie moeilike soektog tot gevolg hê. Terwyl ons so staan kom daar n vlakvark uit die ruigtes en stap skaars 5m langs ons verby, heel onbewus van ons. Die bokke voel egter aan iets is nie reg nie, en beweeg dieper in die bos in.
Hier besluit ons om ons taktek so bietjie te verander, aangesien die wind steeds in ons gesigte druk en die toestande gunstig is. Ons gaan nou eerder probeer om hulle roete vooruit te loop, en hul dan op n gunstige plek in te wag. Dis egter makkliker gesê as gedaan. Na nog so uur se agtervolg, en wat al voel soos 10kilometer se loop al vandag, is ons uitendelik effens voor die wild, maar nog steeds n entjie weg.
Ons staan nou teen so effense rantjie, en die bokke wy stadig van links na regs voor ons verby op die oorkanste rantjie. Daar is gelukkig n mooi oop stuk waardeur hul beweeg, en hulle is glad nie bewus van ons nie. Na n lang dag se bekruip, voel ek dat hierdie dalk my beste kans gaan wees, en die gids plant weer die skietstokke, die keer op die regte hoogte. Gerhard wat heeldag saam stap, het sy GoPro voorop die skietstokke gemonteer, en hopelik kry ons n mooi aksieskoot afgeneem.
Die bokke wie rustig, en Casinga gee n fluit sodra een in die opening in beweeg.Ons is egter vêr weg, en die bokke hoor ons nie eens nie. Gelukkig bly staan n mooi bul plankdwars, en kyk stip na ons. Nou is my tyd min, die bok is helder en duidelik in my nuwe Zeiss. Ek mik so bietjie hoog om te kompenseer vir die afstand, en druk die skoot af. Die 150gr. Sierra bring sy kant, en dis n eenskoot doodskoot in die nek. Die Gemsie sak net daar in sy spore, en almal voel goed na die oggend se lang jag. Die rangefinder lees 209m op die boom net agter die bok, so ek is meer as tevrede.
Ons stap nader vir n foto of twee, en sny die bok keelaf en sleep hom in die skadu in. Hier vat ons n waterbreek terwyl Casinga die plek deurgee aan Piet om te kom laai. Ons besluit om die trop verder te volg, hopelik kry Gerhard ook skietkans, met sy 375.
Die oggend se verhaal herhaal hom egter heeltyd, met ons wat naby genoeg kom, maar weens die ruigtes net nooit n behoorlike skietkans kry nie. Toe ons weer sien is ons al naby die huis, en besluit om te breek vir middagete.
Drie uur is ons almal weer reg om uit te gaan, maar ek en Gehard se kantoorstoelbene protesteer met ons lyf na die oggend se sessie, en ons word afgelaai by n voorsit vir Gerhard se beurt.
Hier sit ons in n taamlikke hoe hide, en die veld lê wyd voor ons. Ons gewaar gou n paar Gemsies, maar die is maklik 800m vêr weg, en lyk glad nie haastig oppad na ons rigting nie. Hierdie is egter n geduldige man se sport, en ons wag rustig die tyd om. My ondervinding is dat bokke eers laat middag verby die sout kom, so ons het baie tyd.
Met die windjie koel in ons gesigte, die voorreg om so in die natuur te wees, is dit eintlik lekker om net so te sit en die skepping om jou te geniet. Maar die jaggode is vandag ook aan ons kant, en so twee ure later stap n mooi Gemsbokbul skielik asof van nêrens voor ons in. Gerhard gee hom kans om stil te staan en sy 375 loop met n mooi skoot net onder die oor. Dis egter so bietjie laag, maar sy opvolg was so vinnig, dat die bok na die tweede skoot net daar bly lê.
Wat n voorreg om saam met goeie vriende soos Konrad, Wikus en Gerhard tyd in die veld te spandeer. Al die manne het skietkans gekry, met Konrad en sy seun wat ook elkeen n Gemsie gekklits het, en Wikus wat eintlik die boogjagter is, wat sommer drie geskiet het, waarvan twee bymekaar.
Die voorreg om egter saam te kuier in die veld, kan geld nie koop nie, en dis met n swaar hart wat ons die pad terugvat see toe Sondag.
My Zeiss Conquest se eerste jag!!
- Cor Jacobs
- Sr. Member

- Posts: 255
- Joined: Mon Apr 16, 2012 1:03 pm
My Zeiss Conquest se eerste jag!!
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
- Riaan Beeslaar
- Hero Member

- Posts: 678
- Joined: Tue Mar 05, 2013 9:09 am
Re: My Zeiss Conquest se eerste jag!!
Cor baie geluk aan jou span met die mooi bokke en sommer lekker vertel ook
- Smiley
- Sr. Member

- Posts: 402
- Joined: Sat Nov 17, 2012 2:36 pm
Re: My Zeiss Conquest se eerste jag!!
Ai Ai pure plesier, baie mooi gedoen manne en sommer lekker vertel daar Cor.
- Andrew Leigh
- Sr. Member

- Posts: 439
- Joined: Sat Jun 30, 2012 4:29 am
Re: My Zeiss Conquest se eerste jag!!
Awesome, well done guys. Proud of you boys.
