Suidwesjag 2024

Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Suidwesjag 2024

Post by Koos Barnard »

Suidwes 2024

Ek vertel slegs in breë trekke van ons besoek en jag anders raak die storie te lank.

Ek en my vrou het op 26 April die pad gevat Suidwes toe en Noord van Otavi by vriend Siegfried Kühn gaan draai. Daarna is ons Hentiesbaai en Windhoek toe en het die toer afgesluit op Jamy Traut se plaas Panorama (Jamy Traut Safaris). Jamy is ’n bekende jagondernemer in Suidwes wat onder andere verskeie kere met Craig Boddington, Wayne van Zwoll en ander bekende Amerikaners gejag het.

Weens verskeie redes kon ek nie betyds ’n vuurwapenuitvoerpermit goedgekeur kry nie en het dus met een van Jamy se gewere gejag.

Ek het besluit om rustig te ry om brandstof te bespaar. Dus het ons vir byna die volle 4 939km teen110km/h aangekruie (ek skat ek het slegs vir ongeveer 400km teen 120km of vinniger gery). Dit het soms groot wilskrag gekos om by 110km/h te bly maar dit was die moeite werd. Die Toyota se gemiddelde brandstofverbruik was 12.59km/l en die dieselrekening ’n skaflike R9 024.78.

Op vriend Siegfried se plaas het ek vir die eerste keer die Damara dik-dikkies in hul natuurlike habitat gesien (’n groot hoogtepunt). Dié bokkies is volop in die noorde en ek verneem sommige mense noem hulle “Blougatjies” as gevolg van die gryserige hare op die boude en kruis.

Die besoeke aan ander vriende en familie was baie lekker maar ek het my tande geslyp vir die jag by Jamy Traut. Ek het sy een seun, James, se geweer gebruik, ’n Kimber Classic 84L in .30-06. Dis ’n veerligte geweer met ’n Mauser-tipe aksie met gekontroleerde voer. Jamy het 180gr Hornady Custom fabrieksammo voorsien. Ek het sommer plat op my agterwêreld gesit en oor skietstokke die geweer ingestel. Na ses skote was ek tevrede – die geweer het nou 5cm hoog geskiet op 100m en my aanname was dat die 180 greiners hier by 170m sou zero. Dus het ek besluit om my skote te beperk tot nader as 200m. Jamy het genoem dat hy nie kopskote skiet nie dus het ek onderneem om ook lyfskote te skiet – liewer veilig speel en niks kwes nie want indien ek sou kwes, sal dit al wees wat die mense van Panorama agterna onthou.

Ek is om 6.50 die oggend te voet uit die kamp op die eerste jagdag. My bestemming ’n hoë, rooi kliprant sowat 1.5km van die kamp af. Daar aangekom het ek gemsbok gesien en begin bekruip maar hy het vinnig begin aanstap. Ek het hom gevolg en toe halfpad teen die rant twee gemsbokke sien wei. Voor my was ’n paar hoë swarthaakbosse en met hulle as dekking kon ek die afstand laat krimp tot net onder die 150m. Een van die bokke was ’n mooi bul en ek het my 4DeadHold-skietstokke oopgevou en aangelê. Die bul was agter ’n swarthaak maar het toe ’n entjie hoër geklim en mooi oop en dwars vasgesteek. Toe die skoot klap, het hy boggelrug gespring en na ’n stormloop van sowat 60m neergeslaan en goed 10m teen die rant afgerol. Die skoot is deur die hart maar het nie ten volle penetreer aan die verste kant nie.

Nadat die bok gehaal is, het ek die res van die oggend in die kamp saam met Eunia spandeer en toe weer skuins na vieruur veld toe gestap. Hierdie keer in die teenoorgestelde rigting waar daar ’n groot vloer of pan is. Daar het ek ’n springbokram opgespoor en hom lank gevolg totdat ek uiteindelik so 130m van hom af was. Hy het bly aanstap, ek het na hom geroep en toe hy omdraai het ek geskiet.

Die volgende oggend is ek na ’n ander deel van die plaas en het sommer vroeg-vroeg ’n taamlike wake up call gekry. Ek het ’n voetpaadjie aan die voet van ’n rant gevolg en toe ek weer vassteek, blaas daar ’n slang reg by my voete. Eers kyk ek links en toe regs en sien toe dat my regtervoet skaars 15cm van ’n pofadder se kop is. Op die foto kan julle sien hoe goed hy gekamoefleer is.

Ek het die res van die oggend gejag sonder om ’n skoot te skiet – gemsbokke gekry maar een was ’n langhoringbok en die ander se kondisie nie goed nie. Toe het ek ’n berg geklim en bo-op die kruin ’n gemsbokbul gekry. Hom sou ek maklik kon skiet maar om daai bok daar af te kry sou ’n dag se werk wees dus het ek hom laat gaan. ’n Entjie verder het ek (steeds op die kruin) op ’n springbokram afgekom en hom bekruip tot op 34m. Ook hom het ek laat gaan en is toe terug kamp toe.

Teen vieruur is ek weer veld toe en het amper ’n fout gemaak – ek het ’n gemsbokkoei onder skoot gekry op skaars 60m maar net toe ek wou skiet, stap ’n baie klein kalfie agter haar uit die haakbos. Ek het toe in die rigting van my bakkie gestap wat sowat 2km ver weg geparkeer was en op pad soontoe op drie springbokke afgekom. Hulle het my geruik en laat spat maar ek het met ’n ompad nader aan hulle gekom. Na ’n kat-en-muisspeletjie op ’n groot vlakte kon ek naby genoeg aan ’n mooi ram kom deur voor te gee dat ek skuins verby hom stap. Toe die .30-06 praat, het hy so 50m gehardloop en neergeslaan – nog ’n hartskoot.

Vir die laaste drie dae het ons van ons boskamp af na Jamy se hoofjagkamp verskuif om plek te maak vir boogjagters. Vanuit die hoofkamp af is ek elke dag te voet veld toe. Eunia het die eerste dag saam gejag en alhoewel ek twee gemsbokke kon skiet, het ek hulle laat gaan. Dit was sommer net ’n lekker rondstapdag van foto’s neem.

Die laaste twee bokke was ’n jong hartbeesbulletjie en ’n gemsbokvers – ek wou sagte vleis hê. Beide is geskiet nadat ek hulle vir goed twee ure lank bekruip het – daar is baie wild op die plaas en ek moes verby springbokke, koedoes en waterbokke om die hartbees onder skoot te kry. Hom het ek uiteindelik ook op ’n groot vlakte geskiet nadat ek kameeldorings (wat op die kant van die pan groei) as dekking gebruik het om binne skietafstand te beweeg. Die bulletjie was so 170m ver en ek het ’n bietjie hoër gemik en die groot are aan die bokant van die hart stukkend geskiet. Hy het ’n paar treë gestrompel en neergeslaan.

Met die gemsbok moes ek ook vroemôre verskeie springbokke en koedoes vermy en dit was veral die springbokke wat dinge moeilik gemaak het. Die gemsbokke wat ek in die oog gehad het, het in ’n lap withake gewei. Gelukkig het twee van hulle uit die bosse gekom in my rigting begin wei. Toe hulle op 103m mooi dwars voor my was, het ek die jongste een platgeskiet – ook ’n hartskoot. Snaaks genoeg het sy in haar spore neergesak. Al die bokke is uit die staanhouding oor die 4DeadHoldstokke geskiet en as ek na die skootplasing kyk, kon ek maar net sowel kopskote probeer het. Die Hornady Interlock-koeëls mors maar baie vleis met lyfskote. Ek kon verder agter die blaaie geskiet het maar ek het al gemsbokke en ander wild baie ver sien hardloop met sulke skote. Ek wou die bokke doodter as dood skiet (ha-ha!) en ek glo goeie skootplasing versterk die eienaar se vertroue in jou as jagter. Die belangrikste is dat ek vyf bokke met vyf skote kon skiet sonder om te kwes. As ek weer die geleentheid kry om op Panorama te jag, sal ek beslis breinskote waag as die afstande weer dieselfde is.

Ek het die jag ongelooflik baie geniet en Suidwes bly nou maar eenmaal my hartland. Dis baie droog soos julle op die foto’s kan sien maar die baie kameeldorings en haakbos bied goeie dekking en stel jou in staat om lekker te bekruip.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Last edited by Koos Barnard on Thu May 16, 2024 1:28 pm, edited 3 times in total.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Suidwesjag 2024

Post by Koos Barnard »

Eerste gemsbok en springbok en die pofadder
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Suidwesjag 2024

Post by Koos Barnard »

Tweede springbok en gemsbok en hartbeesbulletjie
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Suidwesjag 2024

Post by Koos Barnard »

Die mooi haakbosveld op Panorama, Ons drink 'n sundowner op 'n duin: Eunia, Jamy en sy vrou Rentia. Ek het in die suide by Grunau (Die Withuis) hierdie veldlikkewaan gevang.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
User avatar
Lategan1
Hero Member
Hero Member
Posts: 2956
Joined: Mon Dec 05, 2016 9:12 am

Re: Suidwesjag 2024

Post by Lategan1 »

Dankie vir die deel. Uitstekend gejag in wonderlike wêreld.

Beste.
Jaggewere, haelgewere, rewolwers, jakkelskyk 8)
JohanvB
Hero Member
Hero Member
Posts: 2595
Joined: Thu Jun 30, 2011 9:28 pm

Re: Suidwesjag 2024

Post by JohanvB »

Dankie
J le Roux
Hero Member
Hero Member
Posts: 1113
Joined: Tue May 20, 2014 8:10 am

Re: Suidwesjag 2024

Post by J le Roux »

Baie geluk, welgedaan!
Vat genoeg skietgoed veld toe, daar's nie winkels nie.
JG Landmann .22LR, Howa 30-06, M98 DWM .375H&H deur Ossie Penzhorn, 7x57 Oberndorf AN Mauser, Musgrave Mod 80 30-06.
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 989
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Suidwesjag 2024

Post by partner »

Baie dankies. Vir lekker storie vertel van Jagte. Asook mooi fotos Koos. Ek het nou baie geniet.
Post Reply