Oom Martiens skiet oppie wieng

Enige iets pas hier/ discuss anything here
Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Koos Barnard »

Oom Martiens skiet oppie wing

Oom Martiens het kom kuier en soos gebruiklik het ons langs ’n vuur gesit en was daar ’n skaaprib op die kole. Ek het kondensmelkkoffie in my beker gehad en Oom Martiens die gebruiklike geselswater in syne. En so saam met die geur van die braaiende vleis en die genoeglikheid wat die kragwatertjies verskaf het, het ’n stukkie onthou iewers in oom Martiens losgeraak.

“Kola, het jy al oppie wieng geskiet?”

“Hoe bedoel Oom nou? Voëls?” vra ek.

“Ja Kola, voëls. As hulle so opvlie, dan skiet jy vir hulle innie lug in. Die Ingelse noem dit wieng shooting. Waarvoor weet ekkie, want jy skietie die voëls se vlerke nie, jy skiet vir doodskiet na hulle se lywe toe.”

“Ja Oom, ek het so ’n paar keer voëls in vlug geskiet,” antwoord ek.

“Kola nou verstaat ekkie mooi nie. Wat bedoel jy met innie vlug skiet? Hulle vlug mos as hulle probeer wegkom. Natuurlik het jy hulle innie vlug geskiet.”

“Ai Oom, as voëls vlieg, dan sê jy hulle is in vlug, of hulle nou weg vlieg of sommer net vlieg.”

“O, ek sien Kola, maar seg dan so vannie begin af man. Ewenwel, net soos jy, het ek ôk eenmaal voëls in hulle se vlug geskiet en jong was dit nou vir ’n neukery. Toe weet ek mos noggie vanie wieng skiet nie. Ek dog jy skiet net.”

“Nou vertel ’n bietjie,” sê ek, terwyl ek die rib draai.

“Man, dit was toentertyd, toe bly ek mos tydelik daar innie Kolonie net so skuins neffens Stellenbosch. En daar leer ken ek ’n jongetjiesmens vannie Universiteit. Een aand bel hy my en seg lat hy en ’n paar vrinne gaat voëls skiet en ek moet saam. Kola en nou ken jy mos vir Taffie, my stêffie brak. Hy gaat mos oral saam. Toe ek sê Taffie moet saam, toe sug die jongman en seg dan moet ek hom maar bring, solank ek hom net kan beheer. Nou ja, so sit ons toe een môre af Grabouw se kant toe waar ons glo fisante gaat skiet.

“Man, en toe ons oppie plaas aankom, sien ek daar staat al ’n plaat karre. Dit lyk skoon soos Nagmaal op Pofadder. Ons klim uit en sommer met die intrapslag toe wonner ek vir myself of die blerrie wieng shoot met my gearentheid sal strook kry.”

“Hoe so Oom?”

“Jong, toe ek die eerste man teëkom, dog ek dis ’n dominee so deftig is hy opgedrês. Hy had so ’n tweedbaadjie aan en ’n mooi das en op sy kop een van daai fênsy plat kêppe watie ryk mense dorp toe dra. Sy broek was duidelik ôk duur en het tot so by sy kniege gekom. Eerste maal lat ek ’n Godsman so ’n broek sien dra. Ek dog toe in my stilligheid dis darem ’n gewyde skietery hierie, ’n dominee open glad met skriflesing en gebed. Kwit Kola, maar dié rein gedagte in my kop hetie lank gehou nie want toe word ek ennie “dominee” aan mekaar bekend gestelle.

“Toe my jong vrind my voorstel, toe kykie baadjieman my so op en af en skielik kry hy ’n trek op sy gesig wat lyk of hy honnestront ruik toe hy vir Taffie sien. Man, en in plaas van my blad skud, knik hy net sy kop so effens.”

“Laurent-Bannerman,” seg hy terwyl sy oge weer af hier na my broek toe dwaal en toe draai hy vinnig weg.

“Kwit man, ek kyk toe af om te sien of ekkie dalk nog pantoffels aan hetie, maar my voete was heel skaflik bedek met my velskoene en oorlat ons mossie kerk toe gaan nie, het ek nou nie sokkies aangetrek nie. Maar ek kannie dink lat my voete so uit my velskoene gestink het lat hy hulle kon ruik nie. En my kakiekortbroek was nou ôkkie my nuutste ene nie, maar tant Bessie het die groot winkelhaak hier skuins oor die linkerbeen eintlik heel mooi reggemaak. Ek meen, ek kon toggie een van my nuwer dorpsbroeke loop staan en aantrek het virre jag nie. Bessie raak mos maar skoon skuins bemoerd as ek mette vuil of geskeurde dorpsbroek by die huis aankom.

“Jong en voor ek my nog kan vies virie Lourens-Binneman toe is ons by die volgende man. Hy kyk my skoon mis, sien net vir Taffie raak en seg toe ewe kontant. ‘Wat soek die basterbrak hier?’ Man, en ek ver-erre my en ek seg vir hom dié basterbrak het al meer wild gevang as wat hy in sy lewe gesien het. ‘En jy is?’ seg die vent. “Ek is Marthinus Johannes Barnard, gebore en getoë innie agter-Hantam. Edel van inbors en ek skuld g’n niemand ’n sent nie, seg ek hom. ‘Ek is perfesser Arend Hoogendyk,” seg hy, maar hy kyk my nie mooi innie oge nie Kola, hy kyk so koes-koes grond toe soos ’n hond wat vet gesteel het.

“Anyway, uiteindelik is ons veld toe. Man, en daar beginne ek mos amper tuis te voel. Ek meen, ek voel toe amper soos een van daai lords wat so oppie moere skiet daar in Ingeland.”

“Wat se moere Oom, skiet hulle dan op mense?” wil ek weet.

“Ai Kola, ek kan sien jou Ingels is helemal verlep. Moere man, moere. Daai operige, platterige grasvelde waar daar soms bietjie water ôk is.”

“Oom bedoel ’n moor?”

“Is mos wat ek die hele tyd aan jou verstand probeer bring Kola. Anyway, hulle laai vir ons en die klomp pointerhonne af by so operige plek waar daar oral ôk sulke boskolletjies is. Jong en net daar het ek moeite met Taffie want hy frommel toe sommer dadelik een vanie pointerbrakke op oor dié te naby aan hom gekom het. Die “dominee-kêrel” skrou vreeslik op my en die ander spul kyk my met sukke suur gesigte aan, maar ek was so trots op Taffie lat ek my nie eers erg vir hulle nie, want daai anner brak was groter as my Taffie.

Anyway, toe lat staat hulle vir ons in ’n lang ry en toe moet ons nou so stadigrig stap innie ry in. Die pointers sal glo vooruit loop en vir ons die voëls point, dan moet ons skiet. Nou weet ek ôkkie hoe sleg die stadsjapies se oge dan was latie honne vir hulle die voëls moet kykie. Maar oorlat ekkie van wieng shoot ken nie, dog ek dan sal ek en Taffie maar dinge uitkyk. I mien, when in de Roum, do as de Poup.”

“When in Rome, do as the Romans do, Oom.”

“Whatever Kola, ek en Taffie maak toe so, en toe ons begint te stap, toe skrou een man elke dan en wan ‘Kiep de lain, kiep de laain’. Dis nou lat ons reguit moet stap né. Jong en toe ons nou so ’n ent weg is, toe sien ek van die point storie. Die man hier links van my se teef loop slat skielik brieke aan en daar staat sy, skone standbeeld, kop en stert in ’n reguit lyn. Dit lyk kompleet sy is vasgesweis oppie grond. Man, en toe daai teef haar stert so reguit lig, toe sien Taffie seker hier is besigheid en hy spring vir haar. Hel, maar toe moet jy die baas vanie brak hoor! Smaak my hy braak gal. Maar as ek Taffie was, sal ek seker ôk maar my make probeer maak het, ek meen dit was ’n heel aansienlike tefie.

Anyway, na die vrede herstel is en ek streng opdrag het om vir Taffie kort te vat is ons verder. Jong, en wil jy glo, kort voor lank stop daai teef weer maar sy point hier skuins my kant toe. Ennie manne stop en ek voel hulle kyk vir my en ek kyk virie hond. En ek sien die brak staar na iets hier voor ons en ek sien Taffie het weer smaak virie tefie en toe praat ek hard met hom. Jong, maar daai teef bly point ennie manne bly my kyk en wragtag toe ek mooi kyk, sien ek daar sitte fisantvoël innie gras skaars tien treë voor my. Man, maklike skoot en ek gooi aan want ek het mos al baie muishonne en musseljaatkatte in Bessie se hoenerhokke geskiet. Ek blaas daai fisant met my ou Stevens lat jy net sien vere waai.

“Maar toe issie hel behoorlik los Kola. Ek wil nog ewe bakarm van trots nader stap ennie voël optel toe gil ’n Ingelsman op my. ‘What you doe hey, you blerrie fool, de bird must flaai.’ Kwit Kola, ek dog as die voël vlieg gaat hy mos wegkom. Maar so leer ek toe. Jy mag glo nie skiet assie voël nie vlieg nie. Nou kyk, daai hetie vir my sin gemaak nie. Ek meen jy gaat mos baie patrone mors. En jong, dit was nou presies die geval metie stadsjapies. Daar was baie fisante en ôk kwartels en soosie dag vorder, skiet daai klomp hannevol patrone weg sonner om ’n veer anne voël se lyf te raak.

“Man, en oppe kol kry die man langs my dit wragtag reg om twee voëls met twee skote te skiet toe daar drie fisante gelyk opvlieg. Hene Kola, toe moet jy sy bek hoor. Hy praat latie kwyl spat oor sy geweer se chokes en splendid balance en pêterns vannie hael. Ek dog by myselwers dis ’n splendid fo!k&n geluk want die man loop allie hele môre en choke, nog niks raakgeskiet nie. En hy wassie die enigste wat so loop en choke hetie, die Lourens-kêrel van vroeër en ’n hele paar anner het net so gechoke.

“Nou ja, so loop ons toe maar verder. Kwit Kola en skielik vlie daar ’n fisant voor ons weg maar hy vlie nie op nie, hy hardloop so deurie gras. Jong en die choker langs my is vas annie slaap, hy skiet nie. Ai Kola, en koeroes wat hardloop innie bos was mos allie jare my kos. Ek dress daai fisant lat hy eintlik so rol. Want sien, in my opgewonnenheid vergeet ek toe weer skoon vannie wieng shoot.

“Hel Kola, tóé moet jy die klomp se bekke hoor daar innie laain in. Dit skree en raas. Wat hulle als sê, hoor ek nie mooi nie maar ek maak darem uit van ieknorent rokspaaider en bekveller en stoepit, an-ediekytet Dutchman. Nou kyk Kola, ek het nog nooit rok gedra nie, so ek weetie waar kom hulle aan daai rok-besigheid nie.

“Man, en net daar ver-erre ek my bloedig vir die bloemieng spul en ek spreek vir hulle in hogerige Ingels aan. Iet is not me det is stoepit, it is you. Why you fire al dous haelkorrels in de air for naffing. De people in de faktorie work hard to make dous bullets and you jest fire dem away. Is you stoepit in de head hey? Det is a very bad place to be stoepit in becos dêr is no pills toe fix stoepit in de head.

“Kola en ek wou nog vir hulle ’n klomp anner dinge geseg het maar Taffie het my nie kans gegee nie. Hy sien toe skielik weer die hond wat hy so gefrommel het en ek dink hy was noggie heel tevrede met die slae wat hy uitgedeel hetie. Man, voor jy kan sê point, toe is Taffie alweer op daai brak en tóé byt hy vir hom nou behoorlik. Hene Kola, net daar stop die hele wieng shoot en hulle vra die jongetjiesmens wat my gebring het lat hy my en my hond tog asseblief dadelik moet verwyder oor ons disorderly mênners.

“Nou ja Kola, ek vat toe my twee fisante en ek stap trug mouter toe. Die klong wat my daar aangebring het, is toe okkie meer te vriendelik nie maar ek was so trots op Taffie lat ekkie omgegee het nie. Ek het in elk geval genoeg gehad van dié klomp se wieng shoot en wou huis toe. Sien, ek het toe al lankal besef ek en Taffie sallie deug om soos lords op ’n moer te skiet nie. Koeroes innie bos en gênsbokke innie laagtes is my ding. En vir so ’n opdressery as jy jag, die het ek ôkkie tyd nie. Nog nooit gesien jy dra kerkklere innie veld nie.

“Kola, maar gee dan eers hier aandag aan my beker jong. Al die vertel vannie wieng shoot wil nou my tong skoon laat staat en vries soos daai pointer wat Taffie gespring het. Laat glip dan daar so ’n knertsie vannie Wynland se beste hier innie beker in. En laat ek jou nou vertel, die inhoud van daai bottel in jou hand is een vanie min goeie dinge wat uitie Boland kom. Ek meen, as ’n mens vir jou opdres en opstêrs loop staat en hou, is jy mossie ’n rêrige mens nie, dan is jy mos vals. Is dan wat jy loop en choke oor jy nie jy is nie. Net soos daai klomp viskop Stormers innie final vannie You Are See.

“Enne Kola, jy moet tog nooit mette das en ’n kerkbaadjie veld neuk as ek naby is nie, gehoor.”
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2173
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Johan Nel »

'n Heerlike storie! Dankie Koos.
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
AOosie
Newbie
Newbie
Posts: 35
Joined: Wed Dec 28, 2016 4:17 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by AOosie »

Dit was nou n lekker lees! Dankie Oom Koos
FN 308
BRNO .22
User avatar
RUPERT
Hero Member
Hero Member
Posts: 1192
Joined: Thu Jun 28, 2012 1:47 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by RUPERT »

Oom Koos!!!! Ek vrek vir jou stories. Baie dankie ek geniet dit so baie
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Koos Barnard »

Dankie manne, ek waardeer
wlm
Hero Member
Hero Member
Posts: 2454
Joined: Fri Aug 12, 2011 5:55 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by wlm »

Ai Koos, lekker Suid Afrikaanse humor.
Darem ook al gewonder hoekom kyk die stadsjagters in hulle camo's my so skeef aan.
Seker maar die blou overall-broek en ou bruin army-trui.
User avatar
ruaanb
Hero Member
Hero Member
Posts: 5557
Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by ruaanb »

Lekker gelag nou! Dankie!
Willem Grobler
Full Member
Full Member
Posts: 154
Joined: Mon Jul 08, 2013 2:48 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Willem Grobler »

Dit is uitstekend Koos! Ek was daar. Gesien, gehoor, geruik, so goed is dit vertel. … en die choke oor jy n vals mens is - laat dit n les vir ons almal wees.


Sent from my iPhone using Tapatalk
User avatar
Jassie
Hero Member
Hero Member
Posts: 549
Joined: Wed May 11, 2011 4:17 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Jassie »

Koos Barnard op sy beste!

Ek mis jou stories Koos, dankie vir die een.
"Pas jou jakkalse mooi op om hulle later makliker van kant te kan maak" T. Mulder
User avatar
Ratel
Hero Member
Hero Member
Posts: 1880
Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Ratel »

Dis so goed vertel dat mens dit voor jou kan sien afspeel. Hehehe. An ediekyted Dutchmen. LOL
Maak 'n verskil
Ockert1992
Hero Member
Hero Member
Posts: 827
Joined: Wed Mar 13, 2013 7:35 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Ockert1992 »

Bitter netjies oom Koos!
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 989
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by partner »

Wonderlike Storie. Baie dankie Koos.
HeinM
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 497
Joined: Sun Feb 07, 2021 4:54 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by HeinM »

Puik. weereens.

Dankie Koos!
User avatar
finch
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 462
Joined: Thu Jul 14, 2016 2:44 pm

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by finch »

Waar is die like knoppie? Dankie vir nog stukkie vrug van die pen oom koos.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2155
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Oom Martiens skiet oppie wieng

Post by Koos Barnard »

Dankie almal, ek waardeer.
Mooi loop
Post Reply