Ek glo almal van ons het seker maar ‘n “Emmer Lysie”. Omdat ek ‘n jagter is, was daar ook ‘n Buffel op my lysie al het ek maar aanvaar dat ek nooit daai een sou kon afmerk nie.
So gebeur dit dat my skoonseun Douglas (R1ch@rds) my so ‘n ruk terug vra of ek wil kom help Blouwildebeeste uit dun. Sonder huiwering sê ek ja, ek is in.
Die plan is toe dat ons Dinsdag die 2e Mei sou ry van sy huis af. Ons ry toe Dinsdag van ons huis af en laai my vrou by ons dogter af, laai my swaer op en val in die pad na La Pumba Safaris naby Naboomspruit. Nog steeds met die gedagte dat ons Blouwillebeeste gaan skiet.
Kom so net na 5 op die plaas aan. Gou skietbaan toe net om te bevestig dat my getroue Brno 375 H&H nog steeds skiet waar ek mik met die 225gr Interlock’s. Toe terug kamp toe waar ‘n regte bosveld vuur ons begroet.
So terwyl ons nog so rustig om die vuur kuier met ‘n glasie rooiwyn, word ons ingelig dat ons nie Blouwillebeeste gaan skiet nie maar dat ek en my swaer elkeen ‘n Buffel gaan skiet met komplimente van my skoonseun af.
Na ek tot verhaal gekom het, bestorm ek my ammo tassie om te kyk of daar iets is wat meer toepaslik is vir Buffel se kind as die 225gr, maar heellaas niks anders nie. Gelukkig ken ek hulle darem baie goed so sal maar moet sorg dat skootplasing perfek is. Gelukkig het my skoonseun vir my ‘n 300gr soliede punt vir daai opvolgskoot.
Met al hierdie gedagtes in my agterkop gaan slaap ek toe, maar is vroeg al wakker. Met ‘n lekker koppie koffie en beskuit agter die blad is ons toe veld toe.
My swaer gee my toe kans om eerste te skiet. Toe ons die trop buffels gewaar is ek toe ook blitsig van die bakkie af en ek en die PH loop toe stadig nader tot op ‘n afstand waarop ek gemaklik voel en lê aan oor die skietstok. Skat dit was so 70 meter. Moes toe net wag vir ‘n oop skoot tussen die ander van die trop en ‘n mooi koei beweeg toe uit die trop uit. Staan so effens skuis na voor en ek mik toe net so binne die linker blad en druk die skoot af. Gelukkig het sy net so tien tree geloop toe gaan lê sy, so ek het nie die opvolgskoot nodig gehad nie.
Die emosie wat in my opgewel het is onbeskryflik en daar bewe ek asof dit my eerste bok ooit was.
Wat ‘n wonderlike geleentheid. Baie dankie Douglas!!
Besef net weer watse wonderlike Vader ons het wat ‘n wonderlike natuur geskep het wat ons ook mag geniet!
My swaer, Douglas en ek

