Nadat ek in my roere se lope gekyk het, het ek daai ding diep weggepak vir ten minste 'n maand. 'n Man se gestel kan net soveel pak vat.
Laas week lek my bakkie se lugversorger water op my voete terwyl ek bestuur. Die werktuigkundige vertel my daar is 'n blokkasie en ek hul sal die hele instrumente paneel moet uitmekaar haal om die lugversorgings eenheid oop en skoon te maak. Bogger dit. Ek druk daai katoeter voor by die uitlaatpypie onder die enjinkap in en bespied sy ingewande. Dit lyk soos sesweke oue koolbredie van al die verrotte blare daar binne.
'n Stuk tuinslang voor aan my WAP stofsuier het sommer vinnig die blokkasie uitgesuig plus amper 3 liter water wat in die lugversorger vasgevang was.
Dus nou 'n lang aanloop, maar dit het my aan die dink gesit; hoe lyk my gewere se dempers binne in. Die laaste tyd merk ek op dat na 'n dag op die baan waar ek 20 of meer skote geskiet het, daar 'n koolstof kors op die kroon vorm. Binne in die demper is dit asof die "kors" oor die kroon "groei" terwyl ek skiet.
Ek beloer my .243 se demper en dit lyk soos 'n tagtigjarige rookverslaafde wat in standerd 3 begin het se longe. Ek spoel hom eers effens met kragparafien uit soos ek al voorheen gedoen het, maar dit verkleur net die parafien. By Kaap-Agri koop ek "drain-cleaner". Daai goed vreet die "stainless" van staal af as jy nie oppas nie.
Ek maak toe maar 'n hout prop en slaan hom liggies aan die voorkant van die demper in en gooi die reiniger met 'n tregter aan die skroefdraad se kant in tot amper bo. Die storie begin borrel en na 'n uur is ek nuuskierig. Ek gooi die reiniger in 'n plastiek bakkie uit en spoel die demper met water uit. Ek spuit hom dadelik sopnat met Q20.
Hier is die voor en na foto's na 'n uur met die reiniger in. Ek het die stilasie prakseer om die demper regop te hou en 'n waaier oor hom aangesit om die gasse weg te neem.
Hy gaan nou oornag staan met die reiniger in en hopelik is daar môre oggend iets oor van my staal demper.
Manne ek weet die goed vreet ook aluminium en lood, so wees versigtig. Dit vreet selfs gate in die lappe waarmee ek die reiniger wat gestort het opgevee het.











