Ek en my broer is laas week so 'n bietjie weg na my tannie se plaas om te gaan springbok jag. Dit is vanjaar die 2de jaar wat ons dit doen nadat ek die idee vir so 'n tradisie hier op Jaracal gekry het. Die rondte was ons heelwat beter voorberei as laas jaar maar daar het weer heelwat goed opgeduik waarvoor ons nie beplan het nie so ek glo 2016 gaan nog beter wees. Een van die goed wat volgende jaar moet saamkom is 'n ordentlike kamera. Die ou selfoon is nie sleg deur die dag maar parykeer soek 'n man 'n bietjie zoom en by skemer val hy heel uit die bus. Op die einde van die dag het ek 5 springbokke, 2 vlakvarke, 1 jakkals en en 'n hondsdol bakoor geskiet.
Die lekkerste van so 'n trip is nie die skiet nie maar die avontuur. Die miere wat hulle eie highway in die bos oop loop, die voeltjie wat hier onder jou voete by die hide kom sit, die springbok rammetjie wat wil wys hy's baas by die soutklip... Dis die goed wat dit vir my 'n belewenis maak. Ek het ongelukkig net voor ons trippie 'n tipe allergie vir my crocs ontwikkel so vir die meeste van die jag moes ek met oop plakkies loop terwyl die dok se medisyne en salfies hulle ding doen so ek kon nie so baie tyd te voet spandeer soos ek wou nie. Nietemin het ek lekker toon geklap en lekker hogere tale gepraat as die dorings my voetsole kielie. Na 2 dae kon ek sien my voete gaan nie die stryd wen nie en het toe maar voltyds begin voorsit.
Reg so voor ons kon begin jag moes my broer se roer uitgesort word. Nou hy is nie so skiet mal soos meeste van ons nie, skiet onder 20 rontes 'n jaar, en het nogal 'n manier om die ou bokke te bekruip tot hy hom kan doodgooi met 'n klip maar die man vertel my toe hy dink iets is fout want die laaste bok waar hy op die kop gemik het, was 'n lae nek skoot. Die ou Hakko teleskoop het ook glo iets binne wat klingel. Armgat ek besluit toe om op 99 vir hom maar 'n cheapie tasko te koop, die loop te ontkoper en die loop behoorlik te float. Die eind resultaat na so 38 skote se "outydse" lading ontwikkeling is darem 2 duim groepe op 100m en 'n seer skouer. Gelukkig nie myne nie.
Nou voor ek oor die jag praat wil ek eers patrone praat. Ek skiet SST 130gr en Spartan 130gr in my roer. Ek het spesifiek laas jaar die Spartans na my eerste Springbok jag gekoop aangesien my skiet vermoe vir kop skote nie na wense was nie en ek myself voorgeneem het die jaar skiet ek net blad. Dit was dan toe ook waarmee my geweer ingestel was na ek so 'n maand terug by Flip kudu gejag het. Hier op die eerste dag oppad na 'n pannetjie om my boet se roer in te stel kry ons bokke. Ek gee hom toe my roer en sê hy moet 'n bok skiet en hy kan maar blad skiet, die Spartans maak nie baie skade. Hy is toe bosse in agter hulle aan en skiet 'n skoot. Die man kom moedeloos terug en vertel hy het kop gemik en kan nie glo hy het mis geskiet nie. Kry ook nie bloed of iets. Ons is toe daar vort om te gaan instel. Ek besluit toe ook sommer ek gaan terug SST toe want die jaar na 'n paar honderd skote voel ek reg vir kop skote. Volgende dag weer oppad pan toe sien ons aasvoels en gaan kyk. Daar lê sy bok. Die patroon was bietjie laag en het been gemis en die bok het so 'n kilometer van waar hy geskiet is loop vrek. My slotsom is as jy met monos wil kop skiet moet jy KAN skiet. Die goed vergewe nie. Daarteenoor het elke bok wat ek met die SST gedurende die jag geskiet het gelyk of hy 'n handgranaat gevreet het.
Wat die jag betref het skote gewissel van 35m tot 240m. Verste bok het ek op 180m geskiet. Die hoogtepunt van die bok jag was 'n springbok wat ek met my erfstuk .303 geskiet het. Die ding groep gemaklik tussen 1-2 duim op 100m maar as jy hom probeer stel werk dinge nie lekker nie. Ek sukkel nogsteeds om die ding presies te zero maar hy skiet naby genoeg vir blad skote. Met die wete dat die roer so 3 duim links en laag skiet het ek dan ook redelik moeite gedoen om lekker naby my bok te kom. Na so 2.5 ure se lê in die son, bietjie bietjie kruip, laag op die grond soos jy kruip as die ters op jou skiet, en baie duwweltjies was ek so 65m van my bok af en het hom bietjie lood gevoer. 174gr Hornady FB net agter die blad been deur beide longe met 'n mooi uitgangs wond het hom na so 50m groener weivelde toe gestuur. Daar het wel benoude minute gevolg na die skoot. Die skoot het nie mooi gedup soos gewoonlik nie en die bok het ook maar weggespring of niks fout is nie. Gelukkig is daar sommer baie wit klippe op die grond so ek kon die bloed spoor mooi volg en net toe die klippe op raak en my moed my begewe met die son wat nou al agter die horison sit sien ek die bok so entjie voor my lê.
Beide varke het ek by waters geskiet op verskillende dae. Die eerste een op ongeveer 100m en die 2de een op 35m. Die 2de vark was dan ook die grootste vark wat ek nog geskiet het. Hy het 55kg geweeg na die pens en derms uit is. Ek kon sommer sien die man is 'n ou aap. Ek is gewoond die varke is jittery as hul water toe kom maar die man was sommer ekstra jittery. Soveel so dat ek nie kans gesien het om my geweer op die hide se rant te sit nie. Die wind was reeds nie lekker nie en die man het reageer as ek my voet skuif. Inteendeel, toe ek my slot se knip toe maak het hy omgevlie maar na 5 tree weer gestop. Ek het hom toe maar 'n SST gevoer in die staande posisie uit die vuis. Die patroon laag op die blad is nie deur nie maar dinge daar binne in sy enjin kamer het nie goed gelyk nie. Hy het dan ook net daar in sy spore geval.
Die jakkals storie het ek onder roofdiere gepos. Genoeg om te sê dit is my eerste jakkals en ek het die glad nie verwag nie. Die man het op 240m sy moses tee gekom.
Die plaas het ook baie bakoor jakkalsies. Ek het 2 agtermiddae hulle by waters gekry wat hulle inkom om te drink. Solank jy dood stil lê kom hulle nogal maklik in maar laat wiel as hulle agterkom hier naby is dan 'n mens. Ek moes Sondag oggend een van kant maak net voor ons gery het. Die man het sommer daar by die huis kom water drink en alhoewel hy geen agressie teenoor mens getoon het nie het hy ook geen vrees gewys nie. Ek is deur my tannie gevra om hom van kant te maak siende dat hulle redelik gereeld van die manne in die veld kry wat vrek as gevolg van hondsdolheid. Dit is baie hartseer want die goedjies het 'n hengse cute factor aan hulle.
Verder is daar lekker gekuier, gewyn, geeet en gelag. Wat 'n voorreg is dit nie om sulke geleenthede te kry nie.


