Net so bietjie terugvoer oor my vinnige trippie op na die Kavangorivier die afgelope naweek..
Redelik impulsief het ek en vrind Johan besluit om die bakkie se neus noordwaarts te skuiwe in die rigting van die bekoorlike Kavango rivier so 260km noord van Grootfontein.
Die plan was om so bietjie ons tiervishengeltegnieke op te skerp. Veral met die Crockango hengelcomp wat begin Mei wag. Vrydag middag so teen 18h00 is die boot in die water en die lyne uit. Een of twee navragies by ons dryf-ase, maar geen tiervisse kon ons vasmaak nie. Die aand 'n lekker steakbraai met ietsie kouds in die staalbekers en nadat ons mekaar oortuig het dat die grotes more boot toe gaan kom, is dit lala-land toe.
Vroeg saterdag-oggend is dit op die waters. Johan kry 'n ordentlike loop op sy stok, maar die sirkelhoek kry nie vatplek nie. Terug stroom-op en ons dryf weer oor die area. Die keer is Johan reg vir hom en nadat hy Job se geduld ten toon gestel het, sit Ta!!! Nog so paar akrobatiese pasies en Tiervis se kind is reg om geskep te word.... 4.45kg!
Nou moet my mombakkies ook af. Die lyne hang leweloos in die water vir die afgelope uur of wat al, en ek besluit dat dit tyd is vir 'n vars uitsoekfillet kurper asie soos net ma hom kan maak vir my hoek. Ek sit my stok in die stokhouer agter my, maar terwyl ek met die mes en aas doenig, is ek salig onbewus dat ek per ongeluk die vryspoel knop op die baitrunner oorgeslaan het en die drag nou vas is.......
Die volgende omblik skrik-kyk en en Johan gelyk op van die splas hier vlak langs die boot...... reken dis krok de kind wat kom groet! Maar dis al die tyd my stok wat met mening oor die kant uit die stokhouer gepluk was! So meter onder die oppervlak sien ek net nog die kurk-handvatsel wat na benede duik. Daai gevolglike sierlike duikslag sou vir Ryk Neetling op sy neus laat kyk het!! Maar na my ore vir die 2de keer "gepop" het en ek soos die hoofrol speler in "The Abyss" voel, kry ek die stok raakgetas en swem na bo. DIT WAS AMPER.............
Die tiervis is wel weg maar ek het my stok gered!!! Johan is dik van die lag en ek sit soos 'n natgereende hoender met Newcaste-siek. Jou moer man ek sal jou wys! In gaan nog 'n vars fillet, en helaas, sekondes later toe fluit daai katrol!! Stadig nou.... rustig.... gee kans dat hy hom mooi sluk......
VAS!!!!!
Spring diekant, duik daaikant, skud sy kop en die Clarus buig mooi maar net toe, moet hy kom! Nounie so dikgevrete cholestrolbom soos Johan s'n nie maar 'n gesonde atletiese 2.28kg.
Ongelukkig het die son water getrek en ons is kamp toe sonder verdere aksie. Sondag more net so vinnige sessie, maar die visse is almal kerk toe soos dit hoort. So 10uur die boot uit en terug huistoe waar ons vir vroulief en enige-iemand anders wat wou luister die stories oorvertel.
Hiermee so paar foto's:
Johan se Tier:

My tier:

Die mooie Kavango- pitkos vir die siel!

