Kopskote en daardie volksvreemde goete

Enige iets pas hier/ discuss anything here
Post Reply
Toxxyc
Hero Member
Hero Member
Posts: 1349
Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am

Kopskote en daardie volksvreemde goete

Post by Toxxyc »

Sienende dat manne stories wil lees, en ek hou van tik (op die rekenaar, nie die Kaapse krisalletjies nie), hier gaat hy.

Ek was maar nog jonk in die grootmenslewe. Soos manne sal sê vandag, nog groen agter die ore. Nie oud genoeg vir my eie liksense nie want die staat het mos besluit ons moet eers kan drink en karre dryf voor ons kan gunne kry. Maar nou ja, 'n man moet mos die biltong huis toe bring, so ons dag toe ons wil probeer.

Sittende so in my baas se kantoor, weet nie waaroor nie, seker weer iets verkeerd gedoen of gesê vir iemand, toe kom ons op die onderwerp van skiet en jag. Daar noem ek toe ek is lus vir 'n jag, maar die geld is skraps, want hy weet mos wat ek verdien. Nee seg hy, ons kan nie bonusse kry nie want die kampenie is maar arm, maar hy ken 'n oom daar in Memel in die Vrystaat wat blesbokke het wat nou te veel is, ons moet gaan help.

So gesê, so gedaan, ons klim in die bakkies en daar gaat ons. My skoonpa (toe nog nie my skoonpa nie, net 'n oom met 'n oulike dogter) gaan saam, met sy .303. Ons ry en kom daar en dis bitter koud, maar ons gaan jag. Die boer daarso vertel nog sy bokke het hy die "laaste paar jaar" nie laat skiet nie so hulle is groot. Hy wil so 30 van hulle afhaal. Ek het my beursie so gekyk en die oom se pryse so gekyk en gebesluit die kredietkaart sal maar een bokkie kan hanteer, en een bokkie sal maar een vir die span moet vat hierso.

Ek was nog nuut met die blesbokke en goete, want ons is mos maar bosveldjagters. My kennis strek so ver as ek kan skiet, en dis maar nie veel verder as 100m nie. So ek luister maar wat die manne praat en vinnig leer ek ons gaan die pitte ver gooi die naweek. Afgepak laai die oom ons almal op sy Hilux en daar trek ons. Hy gaan ons sy bokke wys.

Sommer vinnig kan ons sien die bokke is nie geskiet nie. Die goed het tyd gekry om bietjie aan te sit. Hulle is groot. BAIE groot. Die manne begin sommer dadelik wegtrek en vinnig vinnig val die bokke. Die grootmense kry eerste kans om te skiet en hulle maak so.

So kry skoonpa ook 'n beurt en hy klits 'n bokkie mooi agter die blad. Hy hardloop saam met die trop so teen 'n heuweltjie af, waar hulle verdwyn. Die boer ry nader en na 'n paar sekondes is die bokke deur die rivier en begin hulle die anderkantste wal uitklim. Die boer sê net heeltyd "die agterste een, dis hy, skiet weer" so skoonpa lê aan en skiet weer, sommerso in die hardloop. Die agterste bok begin rondtrap asof hy parkering soek en na 'n paar sekondes slaan hy agteroor neer. Soos ons nader ry sien ons egter die was nie die agterste een nie, want skoonpa se eerste bok lê net voor die rivier met 'n netjiese bladskoot. Maar nou ja, so is sy kwota ook vol.

Na so uur of ses is dit my beurt en daar lê ek oor die bakkie se dak met 'n ou Majubakettie en koekeloer na 'n bok op so 400m deur die Leupold 3-9x40. Bok staan so op 'n randjie, reg op die bokant.

Nou as jy al in daardie wêreld was onthou jy seker een ding - wind. Die wind WAAI. Daarso het boere nie van daardie Kaartsjer se haai preshir spreis daar nodig nie, jy draai net die kraan oop daar by die windpomp want daardie ding POMP.

So waai die wind. Ek moet korrel. Ek ken nie van ver skiet nie, veral nie met 'n geweer met 'n trajek soos 'n piepiestraal nie. Ek vra maar so vorentoe "nou waar moet ek mik" en almal seg ons skiet kopskote, want ons wil vleisskade beperk. Die een Oom wat saamry verstaan egter my vraag en sê "mik bokant sy boud, so meter boontoe".

En ek mik so meter bokant sy boud en skiet. Dit vat lank vir die koeël om daar te kom want vir die .303 is daardie afstand amper 'n dagreis ver. Uiteindelik kom die Sierra 174gr by die bok uit en ek sien stof uitslaan hier agter sy kop. Die bok slaan neer en almal skud blad asof hulle hulpvaardig was. Selfs die boer beaam "mooi skoot, daar lê hy". Ek sien niks want die grasse is in die pad maar ek is bly my biltong is plat.

Ry soontoe en ons soek bok. Ons soek bok waar hy gestaan het. Ons soek bok waar ons dink hy gestaan het. Ons soek selfs bok waar ons dink hy nie gestaan het nie. Bok is skoonveld. Na 'n hele uur se soek seg boer toe dit was seker maar 'n skoot deur die horing en hy het weggehol, ek moet nog een skiet.

So gesê, so gedaan. Ons is gelukkig en kry nog een, die keer baie nader, met die son in sy oë. Almal uiter weer die kopskoot-gekkery en ek sê nee, ek skiet maar hartlong. Die ~125m is baie nader vir die .303 en hy blaf net een keer. Bok hardloop so 30m en slaan neer. Die keer kry ons hom waar hy geval het.

Afgeslag weeg die blesbok toe 44kg. 'n Meneer van 'n bok. Deur die naweek het die groep van ons 24 van hulle geskiet, waarvan almal oor die 40kg was, en een was 49kg. GROOT bokkies.

So week of wat later bel die boer my. Hy't gery so teen sy drade langs en toe sien hy 'n ding daar onder in die vlei. Hy't nader gery en 'n bok gekry, met 'n netjiese kopskoot van agter. Sy teorie is dat die bok van die skoot stokstyf neergeslaan, en toe gerol het teen die berg af, tot onder in die rivier, en toe daar in die lang grasse verdwyn het, tot hy toevallig hom raakgesien het. Karkas is natuurlik onbruikbaar, maar ek hoef nie te betaal nie, hy wou my net laat weet.

So nou ja, daar het ek geleer van kopskote wat tot daar toe vir my vreemd was. Ek het geleer van trajekte en groot bokke en bakkie-jag. Ek het geleer van die wind wat kan waai en ek het geleer dat my baas al my whisky kan opdrink met Coke as ek te vroeg in die kooi gaan kruip en sy Klippies is klaar.

Maar dis 'n ander storie vir 'n ander keer.
Last edited by Toxxyc on Wed Jul 01, 2026 3:54 pm, edited 1 time in total.
User avatar
Methos
Hero Member
Hero Member
Posts: 580
Joined: Tue Dec 12, 2017 4:12 pm

Re: Kopskote en daardie volksvreemde goete

Post by Methos »

Lekker man! Dankie vir die storie! Ek sit hier by die werk met niks om te doen maar moet nogsteeds besig lyk so dit help!
User avatar
Dehan.Rheeder
Jr. Member
Jr. Member
Posts: 71
Joined: Tue May 13, 2025 8:52 am

Re: Kopskote en daardie volksvreemde goete

Post by Dehan.Rheeder »

Dankie vir die storie deel, dit was nou pret om te lees.
Tikka T3 Lite 30-06
Canik Mete SF Combat 9mm
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Kopskote en daardie volksvreemde goete

Post by Koos Barnard »

Lekker storie, dankie!
User avatar
Lategan1
Hero Member
Hero Member
Posts: 2943
Joined: Mon Dec 05, 2016 9:12 am

Re: Kopskote en daardie volksvreemde goete

Post by Lategan1 »

Lekkerr, dankie.

Beste.
Jaggewere, haelgewere, rewolwers, jakkelskyk 8)
Post Reply