Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Koos Barnard »

Naandsê
Na baie jare se deeglike navorsing het ek uiteindelik die regte jakkalsskiet-kaliber ontdek en ook die beste scope daarvoor! Gebruik gerus hierdie kombinasie en sukses sal gewaarborg wees!

Goed, dis sommer net tong in die kies... ek is nie ernstig nie. Ek vertel sommer van die afgelope twee dae se jakkals- en bobbejaanskiet.

Ek is tans besig met 'n projek waar ek probeer om jag 'n bietjie meer uitdagend te maak. My plan is om te kyk hoeveel spesies ek met die rooikol-visier (red-dot) kan jag aangesien ek drie van dié visiere besit. My oë is eenvoudig te swak om met oop visiere te jag. Ek het dus 'n Aimpoint Micro op my 7x57 gemonteer en om dit nog meer tradisioneel te probeer maak, besluit om 175gr-koeëls te laai. In my kas het ek 'n klompie Hornady rondeneuse wat vir die doel sou werk. Ek het begin deur 39.7gr S365 agter die Hornadys te laai en die Garmin-chronograaf sê hulle verlaat die loop teen 2225vps (die oorspronklike data vir die 7x57 dink ek was 'n 173gr-koeel teen 2296vps). Dis 'n ligte lading (die doppe brand swart tot verby die skouer/nek-aansluiting van die dop) maar ek het besluit om eers die 20 wat ek gelaai het uit te skiet.

My aftree-joppie is om plaasbestuurder te speel op 'n 7 200ha Klein-Karooplaas wat ek weekliks besoek. Daar is geen ander werkers nie en ook net wild op die plaas. Ek het gister lyndrade gestap en op pad terug na die bakkie toe op die ingewing van die oomblik besluit om aan die bokant van 'n kloof te sit en jakkalse te roep (sommer met my mond want ek het die fluitjie in die bakkie vergeet). Dit was so 20 voor elf die oggend maar bewolk en koel.

Groot was my verbasing toe ek na minder as 5 minute se roep skielik 'n jakkalspaar van onder uit die kloof aangehardloop sien kom op seker so 300m. Ek het hoog teen die rant gesit wat oor die kloof afkyk en kon die jakkalse die hele tyd mooi dophou. Die reun was voor (dit uitgevind nadat ek geskiet het) en die teef so 40 treë agter hom en hoër op teen die rant. Hulle wou na links sirkel om onderkant die wind in te kom. Toe die voorste jakkals seker so 60m van my af was, het ek 'n fyn blêrgeluid gemaak wat hom laat stop het. Hy het sonder 'n geluid geval nadat hy een maal in die rondte getol het. Terloops, dit was die swaarste jakkals wat ek nog op die plaas geskiet het.

Die teef het omgespring en agter 'n bos ingehardloop. Ek het dadelik weer geroep en die volgende oomblik kom sy te voorskyn maar kyk af na waar die reun lê. Sy was na skatting so 100m weg. Toe die skoot klap, het sy 'n paar maal in die rondte getol en getjank en toe dood neergeslaan.
Die reun het die skoot reg van voor in die bors gekry en die koeël is onder sy pens uit, halfpad tussen die voor- en agterbene. Die teef is reg agter die blad getref en die koeël is op dieselfde plek agter die verste blad uit. Ek was nogal verbaas oor hoe groot die uitgangswonde was in ag genome die stadige koeëlspoed en die feit dat dit slegs jakkalse was. Ek weet egter uit ondervinding dat die Hornady-koeëls maar vrek sag is, sagter as die ou PMPs waaroor baie mense so gekla het.

Later die namiddag in 'n ander deel van die plaas spring daar toe 'n jakkals reg langs die bakkie op en hy draf die veld in. Hom het ek reg van agter af geskiet op seker skaars 40 treë. Hy was brandmaer en het sommer so ineengetrek gedraf. Ek neem aan hy was dalk siek of verhonger want dit was 'n jong jakkals.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Koos Barnard »

Vanoggend was ek gelukkig om 'n bobbejaanmannetjie by die opstal te skiet waar ek altyd oorbly. Ons het baie las van die bobbejane. Hulle besoek gereeld die ou huis en het al waterpype gebreek en selfs ons bakkies wat buite geparkeer gestaan het, het deurgeloop. Ons moes 'n ou, half-oop skuur met sinkplate toeslaan en die voertuie daarin trek om hulle te beveilig. Ek het die kese al verskeie kere probeer voorsit by die huis en drie geskiet maar hulle kom maar altyd weer. Vanoggend was ek laat uit die blokke (eers 10 voor ses opgestaan en toe daar rondom die huis boerboonbome natgemaak). Toe kombuis toe gegaan en ontbyt voorberei voordat ek veld toe gaan. Ek het net my oggendkoffie klaar gedrink toe ek 'n klein bobbejaantjie agter die huis hoor skree. Steek toe my neus by die kombuisdeur uit en hoor hoe brom die bobbejane reg langs die huis - diegene wat al naby genoeg bobbejane was sal presies weet hoe hulle "loop en gesels". Ek gryp toe die geweer en staan teen die kosyn binne-in die kombuis vanwaar ek 'n goeie uitsig oor 'n groot deel van die werf het.

Na 'n paar sekondes kom stap daar toe vier bobbejane voor my verby net onderkant die huis by 'n ou windpomp waar daar 'n sonpomp is. Uit vrees dat 'n bobbejaan reg by my op die agterstoep sal spring en my dadelik sien en alarm maak, het ek aangegooi en was gelukkig om die mannetjie in sy spore plat te trek. Toe moet jy sien hoe hardloop die res. Ek het op die oop stoep uitgehardloop en nog so twee skote agter die vlugtende klomp aan gegooi maar hulle was reeds te ver en het te vinnig gehardloop, beide skote was mis.

Die tweede foto is van die jong jakkals wat ek gistermiddag geskiet het.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Last edited by Koos Barnard on Fri Dec 19, 2025 9:30 am, edited 1 time in total.
JohanvB
Hero Member
Hero Member
Posts: 2592
Joined: Thu Jun 30, 2011 9:28 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by JohanvB »

Yessou, jy is bedrywig! Mooi man!
User avatar
DWB
Hero Member
Hero Member
Posts: 6969
Joined: Tue Mar 08, 2011 11:48 am

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by DWB »

Lekker Oom Koos.

Aimpoint bly baas! My 7x57 het ook een op.
Noem my sommer Deon
7x57 - 404 Jeffery - 450 Rigby - 500 Jeffery
Overkill is underrated!
"All men die, but few men ever really live"
User avatar
Jassie
Hero Member
Hero Member
Posts: 548
Joined: Wed May 11, 2011 4:17 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Jassie »

Lekker storie Koos. Vir die interesantheid, watse geluid het jy met jou mond geroep om die kerneelse te prikkel?
"Pas jou jakkalse mooi op om hulle later makliker van kant te kan maak" T. Mulder
User avatar
Ratel
Hero Member
Hero Member
Posts: 1876
Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Ratel »

Dis 'n groot kees daai. Die groot mannetjies het indrukwekkende tande. Mooi fotos en lekker storie Koos.
Maak 'n verskil
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Koos Barnard »

Jassie wrote: Fri Dec 19, 2025 6:40 am Lekker storie Koos. Vir die interesantheid, watse geluid het jy met jou mond geroep om die kerneelse te prikkel?
Ek druk my neus toe met twee vingers en maak 'n blêrgeluid terwyl ek my hande bak voor my mond hou. Dit sal seker maar net dom jakkalse wees wat vir die geluid val maar ek het al verskeie op die manier geskiet.
User avatar
Capt. Yoda
Hero Member
Hero Member
Posts: 13524
Joined: Thu Apr 11, 2013 12:35 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Capt. Yoda »

Netjies Oom Koos, die is baie lekkerder as om December op Durban se strand rond te staan
A child of five would understand this. Send someone to fetch a child of five.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Koos Barnard »

Capt. ek stem! Hier in Stilbaai is daar nou ook 'n helse bedrywigheid. Ek vermy die dorp en strande ten alle koste. Baie lekkerder en rustiger op die plaas.
Mooi loop
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 982
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by partner »

Baie dankies Koos vir die 2 stories en fotos.
Ockert1992
Hero Member
Hero Member
Posts: 827
Joined: Wed Mar 13, 2013 7:35 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Ockert1992 »

Netjies oom Koos!
User avatar
win270
Hero Member
Hero Member
Posts: 2104
Joined: Tue Nov 05, 2013 11:53 am

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by win270 »

Goed gevaar, Koos. Jy bly maar 'n kranige skut en storieverteller. Hou so aan en laat die probleemdiere val daar op die plaas! Baie dankie vir die vertellinge.
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2172
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Johan Nel »

Dis nou lekker interessant gewees om te lees, dankie.
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
User avatar
Vaalboer
Full Member
Full Member
Posts: 168
Joined: Thu Jan 20, 2011 3:53 pm

Re: Nuwe jakkalsskiet-kaliber!!

Post by Vaalboer »

Dit was waarlik lekker om te lees.. My “Oom Koos” kaliberboek lê langs my in my bedkassie en word gereeld geraadpleeg! Ek dink egter dit is tyd dat Oom Koos al die nuwe kalibers bysit in uitgawe 2!!
Post Reply