Jassie wrote:Hoekom is die smartiebok bedryf in sy kanon in?
Eenvoudig...
Die prys wat deur vraag en aanbod bepaal is was nie oor die langtermyn volhoubaar nie.
Verskaffers/boere/industrie moet besluit of hulle bloot net "vraag en aanbod" blindelings wil najaag en vergeet van volhoubaarheid en of dat hulle volhoubaarheid wil nastreef.
Ons slaap in die beddens wat ons eiehandig opgemaak het. Maw ons dra die gevolge van ons kort- en langtermyn besluite oor ons en ons kinders se leeftyd.
Jy raak 'n waar ding aan.
Die week wat die eerste swart rooibok op 'n veiling NIE vir 'n mal prys (in lyn met sy vleis of jag waarde) verkoop het nie, praat ek met een van die voorlopers in die wild veiling bedryf. Veral van die smartiebokke.
Hy het gesê: "Nou gaan wildboere moet doen wat boere doen. Hulle bokke vermeerder en geld maak uit die aanteel."
Hy het na wildboere verwys as sakemanne/entrepreneurs wat smarties gekoop en verkoop het. Nie Oom Fanie wat 'n verhouding met die koöperasie se personeel het en volhoubaar wild aan die mark beskikbaar stel nie. Nee, die manne wat alles net reël, jy sien nie sy gesig nie.
Die gevolge van daardie entrepreneurs se besluite ry nou nog die bedryf. Daar is spesies se prys wat nou nog nie is wat dit 15-jaar terug was nie. Voor die mal pryse.
Die man se ander kommentaar: "Dit is tog wat entrepreneurs doen. Skep en gebruik geleenthede."
Ek het met 'n bekende landbou ekonoom daaroor gesels. Self 'n gesiene beesboere wat al baie posisies beklee het.
Sy antwoord: "Dit gebeur in alle bedrywe."
Hy het 'n paar voorbeelde genoem. Nguni beeste het al die aanslag gehad. Boerbokke ook, om twee te noem.
Hier was sy Nguni voorbeeld, so effe ingekleur:
Mamma (Magda) wil 'n Nguni vel hê. Pappa (Jean-Hendrik) is nie bereid om R6 000 vir die vel te betaal in die boutique winkel in Sandton nie. Hy kan dan 'n hele bees koop vir amper daardie geld. Daardie tyd het 'n speenkalf ongeveer R5 000 op 'n veiling gehaal.
Die speenkalf vers is nog nie 'n koei nie, die vel is klein en sy kan nog nie kalf nie. Ook nie sonder 'n bul nie.
Maar, Pappa koop toe 'n paar verse en laat hulle op die naweek plasie wei. Hy moet hulle tog net grootmaak, dan gaan hy muntslaan uit die Nguni velle.
Ek meen, kyk na die somme!
R 5 000 vir die bees (kalf)
Laat hulle net bietjie groei op gratis weiding.
Slag die bees, hou die vleis en verkoop die vel vir R6 000.
Maklik!
En as hulle kalf is die belegging eers goed!
Mamma kies sommer haar vel wat sy in die ingangsportaal wil gooi. Op die veiling, terwyl hulle smul aan vetkoek wat die Landbou Unie tannies bak en verkoop.
Wat van die bul wat nodig is? Bulle kos effe meer... Ons sal later 'n bul koop.
Ag, is dit nie pragtig wanneer die beeste hier voor die dek in die lang gras wei nie?
Nou-ja, 20-maande later kos dit toe R600 om die vel te laat looi en die hare val uit.
Om die vel reg te laat looi kos eintlik R900 en dit is in Bloemfontein. Plus R200 se koerier soontoe en R200 terug.
Mamma se tweede keuse van 'n vel kos toe R1 300. Bargain!
Terwyl die gaste oor die pragtige kleurvolle vel stap en dit bewonder, wonder Jean-Hendrik aan die werklike uitgawes om die uitsonderlike, tweede keuse, vel te produseer? Want, nou wil al die vriendinne ook velle vir R1 300 hê. Nie vir die R6 000 in die Sandton boutique winkel nie. Hulle gaan ook Nguni verse koop. Sommer gou-gou. Nou-ja, laat hulle maar aangaan.
"Liefie, daar is hierdie komende Woensdag juis 'n veiling en jy kan sommer op die App koop."
"Ja, ek lees dit in die Landbouweekblad."
"Ag, dankie skat! Agt of tien beeste, asseblief. Annemé wil ook een of twee hê."
"Nee, sy sal jou betaal vir die gras. Maar ons kan die vleis hou, sy wil net die vel hê."
"Ja, die veiling is naby die plasie. Izak kan sommer met jou ou bakkie en die nuwe beessleepwa wat jy bestel het hulle gaan haal."
"Dankie my plaasboer Doorsie Pretoors." (Hy heet eintlik Pieter van Graan)
"Ek maak vir jou vanaand 'n nuwe resep uit die Plaasboer uit."
"Nee, dit is 'n nuwe tydskrif wat die haarkapster my van vertel het. Hulle het oulike resepte elke maand vir die beeste wat jy slag."
As gevolg van die groot aanvraag aan Nguni beeste, klim die prys natuurlik. Die ou storie, vraag en aanbod.
So, verkoop die Landbouweekblad meer, 'n nuwe tydskrif sien selfs die lig. Die koöperasie verkoop nou nie meer net die gewone produkte nie. Die noodsaaklike kruideniersware en selfs kampstoele word aangehou. Markte word ontgin en benut.
Kleinjan wat die beeste (wat rustig wei) oppas terwyl hulle nie op die naweek plasie is nie, kos amper 'n halwe speenkalf se prys per maand. En dit is sonder sjeba.
Die kinders het immers sport en hulle kom nou net elke vyfde naweek daar. Of die vakansie.
Die pomp het gebreek en die beeste moet water kry. Bel maar iemand en betaal.
"Is die opgiet middel vir bosluise alweer klaar Kleinjan? Ek sal gou moet ry om die koöperasie oop te vang."
(Die middag aan Mamma: "Vir wat die verbrande spietkops alewig onder daardie koeltebome sit sal ek nie weet nie. R1 000! Ek het net 140km/h gery!")
"Winterlek? Sal Oom Fanie asseblief vir my by die koöperasie oplaai? Ek sal oorbetaal."
Die winter is lank en die drakrag is toe nie 8 beeste op 'n hektaar nie. Dit is 8-10 hektaar per bees, soos Oom Fanie die buurman gesê het.
"Is dit nie skokkend wat bale gras kos nie! In die winter is dit dubbel die prys!"
"Is die twee koeie dood aan Hartwater? Nee, Oom, ek het nie die beeste gespuit nie? Ek was van plan om hulle die naweek te slag."
Kort voor lank, maar te lank om die bedryf te red, prys 'n Nguni speenkalf R18 000 en 'n bul verkoop vir die rekord prys van R185 500, voor BTW.
Hoe mooi die vel is, bepaal die prys. Die manne praat om die vuur oor planne om die velle beter te laat vertoon en allerhande goeters in die water.
Die afslaer kwyt hom goed van sy taak en die bemarkers het mooi beeste gewerf vir die, nou, weeklikse Saterdag veilig. So verkoop 'n (steriele) bul (wat vir die slagpale bestem was) vir die nuwe rekord prys van R500 000. Voor BTW, natuurlik.
Dit, en die bure wat kla, spoor die manne aan om trekkers met implemente aan te skaf sodat daar ook brandpaaie gemaak kan word.
Almal, so te sê, wen uit hierdie storie uit.
Julle weet waarheen díe storie oppad is. Né?
Toe dit moeite raak, of vir 7-jare droog en dit kos geld. Toe word daardie beeste vir minder as die vleis waarde verkoop en die eintlike boer wat sy kudde aan die gang gehou het sit met die gebakte pere.