Baie jammer vir die lang opstel, maar ek wil graag die volgende met julle deel....
Ek is besig om planne te maak om vir myself 'n groot kaliber in die klas van 416+ te laat bou, die idee is dat die geweer gereed moet wees vir die 2013 jagseisoen. Ek is ongelukkig ook een van die ouens wat hou van iets anders as die standaard fabrieks kalibers wat jy agter elke toonbank en in elke ou se kluis kry. My eerste probleem het reeds ingekom by die feit dat ek van 'n Ruger aksie wil gebruik maak. Ek is soos ons groot maat Wouter ook 'n groot Ruger fan, al het ek so een of 2 ander maake ook en al het ek onlangs een van my Rugers verkoop. Ek beplan om in die toekoms nog 'n hele paar aan te skaf. Maar dit nou daar gelaat. Om terug te kom by die Ruger aksie, die standaardlengte aksie is nie lank genoeg om die meeste van die groot menere te vat sonder ernstige modifikasies nie. Ek is ook nie 'n voorstaander van groot modifikasies op 'n aksie wat vir gevaarlike wild gebruik gaan word nie. Die Ruger Magnum aksie wat uitgekom het op hulle 375 H&H, 416 Rigby en 458 Win Mag sal uitstekend werk, maar die oukies is duur en so skaars soos hoender tande, en soos Wouter sal weet, die meeste ouens wat hulle het sal hulle nooit ooit laat gaan nie. Daai aksies is net in 'n klas van hul eie...
Dus omrede ek 'n Ruger aksie WIL gebruik, sal dit 'n standaardlengte moet wees. Dus moet kaliberkeuse ook 'n rondte wees wat in 'n standaardlengte aksie pas. Ek skiet self die fantastiese .375 Ruger en het ook alreeds notisie geneem dat hierdie dop lekker deur die Amerikaners gebruik word om Wildcat kalibers op te bou. Ek het aanvanklik gedink om bloot die 375 Ruger / 416 Ruger (wat dieselfde dop is) op te nek na .458 toe. Ballisties behoort hy omtrent in die klas van die .458 Lott te wees. Ek het bietjie oplees werk op die internet gedoen en ongelukkig kon ek min inligting or die wildcat kry. Die een of 2 ouens wat hom probeer het reken dat die skouer van die dop feitlik wegraak met die 458 punt en dat dit heelparty probleme veroorsaak.
Ek het toe afgekom op 'n projek wat 'n ene Wildcatter264 van die 24hourcampfire.com forum aangepak het waar hy die 375 Ruger / 416 Ruger dop geneem het en bloot opgenek het na .423 (404) toe. Die geweer haal met 'n 23'' loop en 400gr punt 'n spoed van 2350fps en 2400fps is moontlik. Dadelik het ek gedink hierdie is dalk net die kaliber waarna ek opsoek is.
Hier is 'n foto van die 404 Jeferey en die 404 Ruger langs mekaar
[img width=560 height=420]http://i1188.photobucket.com/albums/z40 ... 4Ruger.jpg[/img]
Hoekom die kaliber vir my uitstaan en ideaal is:
- Dis 'n uitstekende vermenging tussen 'n klasieke kaliber (404) en 'n moderne tegnologie dop-ontwerp. Die 404 is bekend daarvoor dat hy al derduisende van die groot vyf met die grootste gemak plat geskiet het. Die ander voordeel is dan ook die standaardlengte aksie. Alhoewel die groot kalibers dadelik ge assosieer word met lang magnum aksies, voel ek dat in vandag se tyd mens ook nie die nuwe tegnologiese veranderinge en vorderinge kan miskyk nie.
Laat ek net ook gou dievolgende punte uitlig:
- Ek soek die geweer om te gebruik om die 1 of 2 olifante wat ek hopelik nog eendag gaan skiet mee te jag, en as dit vir my beskore is 'n buffel of 3. Ek weet ek het ook die 375 Ruger wat heeltemal voldoende is vir die doel. Verder wil enige ou maar 'n groot kaliber he om nou en dan bietjie op die baan te skiet of nou en dan uit die kluis te haal, die aksie bietjie te cycle, hom te bekyk, 'n bietjie olie te gee en hom dan terugsit...
- Ek wil die wapen gebruik om adisioneel tot my .375 Ruger aan Big Bore Skietkompetisies deel te neem.
- Ek soek 'n klasieke kaliber met 'n donker olie afwerking houtkolf wat op 'n sterk aksie gebou is en 'n "classic look" het, maar nie 2 plaase se geld kos nie.
- Ek wil baie graag in die volgende jaar of 2 my PH kursus gaan doen en dan ook deeltyds so bietjie PH werk doen wanneer my tyd dit toelaat. As ek die dag dalk sou kwalifiseer om gevaarlike wild te PH moet die geweer ook as backup geweer gebruik kan word, alhoewel ek dan waarskynlik 'n tipiese werksgeweer in 458 lott of so sal aanskaf.
My huidige gedagte vir die setup lyk soos volg:
- Ruger M77 fabrieksgeweer in 300 of 338 of 375 Ruger kaliber nuut of tweedehands. Die geweer gan gestrip word en net die aksie gebruik word. Rede vir 300, 338 of 375 Ruger is minder werk aan die feeding rails en magasynkas (iemand korrigeer my asb as ek verkeerd is).
- 24'' Truvello loop
- Safari Classic okkerneuthout kolf vanaf Richards Micro Fit is die US
- Geskikte oopvisiere wat maklik en vinnig aanle vir uit die skouer skiet
- Timney / Riflebasix sneller
- Ek oorweeg ook dalk 'n Leupold VX-3 1.75 - 6 x 32 of 'n 2.5 - 8 x 36 teleskoop met Warne Quick Release ringe, die teleskoop sal meeste van die tyd net in die kluis le en slags gebruik word waar hy werklik nodig is.
Ek glo nie die bou behoort 'n groot probleem te wees nie. Ek sal die oorspronklike ontwerper kontak en die Reamer tekeninge van hom af kry. Die Reamer kan dan bestel word en dan kan daar sommer 'n stel dies gesny word met dieselfde reamer. Doppe behoort ook nie meer 'n groot probleem te wees nie aangesien die 375 Ruger en 416 Ruger se populariteit toeneem. Daar is nie so wye reeks punte soos in 416 en 458 nie, maar die nodige (Hornady, Barnes, Rhino etc) is beskikbaar. Hierdie is ook 'n kaliber waar ek glo mens gaan op een punt settle en hom deurlopend gebruik.
Manne ek sal enige opinie waardeer. Laat waai en vertel my asb wat julle van my gedagtes dink!!
Groete,
Lourens

