Oom Martiens praat two-two's

Enige iets pas hier/ discuss anything here
Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Oom Martiens praat two-two's

Post by Koos Barnard »

Oom Martiens praat two-two’s

Dit was ’n koue, nat dag. Die winter het die ou Kolonie in ’n ysige greep beet gehad en om buite te kuier sou ’n onsmaaklike affêre gewees het. Dus het ons voor die vuur in my braaikamer gebondel waar ’n paar stukkies kameeldoring behaaglike hitte verskaf het.

Ek het ’n beker koffie in die hand gehad en Oom Martiens se blikbeker was gevul met sy gebruiklike versterkwater – as jy ouer raak, het jy iets meer substansieël nodig om die binneste warm te maak. Langs die vuur het ’n staanrib mooi begin kleur kry toe Oom Martiens skielik gewigtig vra: “Kola, sê ’n bietjie vir my, het jy ’n two-two?”

Ek kon nie help om moedswillig te wees nie. “My maggies Oom, ’n tutu? Nee! Ek het nog nooit so iets gedra nie maar ek verlustig my graag aan die oulike beentjies wat normaalweg by ’n tutu uitsteek.”

Oom Martiens het my vir ’n oomblik onbegrypend aangekyk en toe trek hy weg. “Nou uit waffer boom uit het jy nou gestaan en neuk? Is jy nou in jou geheel in simpel. Ek praat g’n van daai rompietjies watie danseresse dra nie man. Wat virre balhorigheid is dit nou om aan rokke en vroumensbene te wil staan dink. Ek praat van ’n geweer, ’n seloentjie. Sil jy nou met vleeslike dinge wil kom neuk terwyl ‘ie vuur brand ennie skaaprib so mooi met die kole saam gesels. Wil jy nou ’n perfekte aand kom staat en bederwe?”

“Skuus Oom, ek het nou nie geweet Oom se twak is ook al nat nie, anders het ek niks van die bene gesê nie,” hou ek moedswillig aan.

“Kyk Kola, laat ek jou nou een ding vertel. Daar isse paar goed watie mooi meng innie veld nie en dis buskruit en bier en katoolsgeit en koeëls. En voor jy nou weer slim raak… ek weet ons issie nou innie veltie maar moe’ nou nie verder kom neuk mit vroumense saam nie. Ek vra of jy ’n seloentjie besit. Disse belangrike vraag… nie ene wat jy mit meisiemensgoete moet kom staat bederwe nie. ’n Mens kannie oor vroumense en gewere gelyk praat nie want dan gaat jy een afskeep en dis tog sleg as jy nou belangrike dinge soos jag wil afskeep net oorlat jou hormone viool speel met jou breins.

“Ek kan sien jy is noggie ’n ernstige jagter nie. Kwit man, jou aandag word te maklik deur onbenullige vleeslike dinge afgelei. Prebeer nou net virre paar minute konsentreer lat ek jou kan onnerig oor ’n two-two.

“Kyk Kola, ’n two-two is perreghrie, diep perreghrie. As ons nou Ingelse was sou ek gesê het dis royalty.

“Royalty Oom?”

“Bloubloed royalty Kola, bloubloed.”

“So wragtag Oom?”

“So wragtag Kola. Kyk, mitte seloen kan jy darem baie goete doen… jy kan bottergatte en muisvoëls innie vyebome klits, duikers en vlakvarke omdop as hulle kom kwaaddoen innie tuin en jy kan fisante, patryse en tartentale virrie pot aankeer. Jy kan bees mit hom skiet en annerlike dinge ook soos koeroes of springbokke. En makeer jy nou ’n stukkie soldeersel, ka’ jy altyd ’n paar koeëltjies trek en vir hulle smelt. Maar sê nou eers, het jy ’n seloen?”

“Ja Oom, ek besit darem een.”

“Nou waffer maak is joune Kola, is belangrik latte man die regte soort roer moet hê.”

“Myne is ’n BRNO Oom,” sê ek heel trots.

“Bruno? Kwit man, darem jammer dissie ’n Mauser nie, hulle skiet mos harder en akkieraterder assie anner make. Veral as jy nog van daai Ellie-patrone gebruik.”

“Oom jy sit nie ’n U in die woord BRNO nie en spreek dit eintlik BIR-NOU uit. En die patrone is Eley, uitgespreek ‘ieelie’ volgens die Britte.”

“Kwit Kola, whatever die uitspraak. Hoe jy ’n geweer of patroon se naam seg, gaat nou nie vir hulle beterder laat skiet nie. Solank daar Ellie oppie boksie staan en Mauser oppie geweer gaat jy kolskote skiet. Mind you, ’n BRU-whatever is okkie ’n slegte geweer nie. As jy nou nie virre Mauser kan settel nie, sal daai Bruno doen.”

“Bir-nou Oom en ieelie”

“My magtag Kola, wat virre ergte he’ jy nou mit allie uitsprake. Op alles wat ek seg, kom lê jy ’n blerrie nes vol eiers. Sil jy nou elke keer, nes my gedagtes mooi spoor vat, neuk met ’n taalles. Solank die roer se naam met ’n B beginne en met ’n O eindig en die koeëls se naam mitte E beginne maakit nie saak hoe jy die mittelnaam uispreek nie. Fênsie neus-innie-lug taal bring vir jou niks innie sak nie jongman. Is hoe jy skiet… dis wat tel.

“Skuus Oom.”

“Nou toe, hou op onnerwyster speel. Waar was ek nou weer? O ja… kyk, as jy nou van daai Ellie-patrone gebruik, moe’ jy nie te vreeslik naby aanie ding wees wat jy wil skietie. Staat so 25 treë tru anners het daai klein loodkoeëltjies nog te veel galop in hulle lywe oor. Staan jy te naby loop slat daai koeëls plat teen die ding wat jy skiet, veral mit groterige diere wat lekker vas van lyf is. Glo vir my, as jy effens weg staan, dan dryf daai Ellie-koeëls dieper in. Kwit Kola, ’n two-two is vrek parmantig want hy weet mos nou nie eintlik hoe kort sy doppietjie is nie. Net soos ’n Jek Rasselhondjie, dink ’n seloen mos sy byt is veel groter as sy lyf. Hy weetie lat sy eintlike bedoelentheid is om hom heel stemmig te gedra nie. Is daarom lat jy selfs ’n koeroe mit hom kan omdop as jy nou versigtig en verantwoordelik korrel vat.

“En wee’ jy, dis darem maar lekker asse geweer nie so erg skop en raas nie. Selfs die meisiemense kan met hom skiet.”

“Maar ek dog dan Oom sê patrone en parfum meng nie,” waag ek weer ’n onderbreking.

“Kola moet tog nou nie weer kom slimjan raak nie. Natuurlik moet meisiemense kan skiet. As die manne bedags nie by die huis issie, wie moet dan nou slange en muishonne innie hoenerhokke skiet of die blou-ape wat vir hulle so kontant hou hier rondommie huis.”

“Nee, dis reg Oom. Ek speel sommer. Maar hoe skiet jy nou so ’n groot dier soos ’n koedoe of selfs ’n springbok of blesbok? Laasgenoemde twee is mos diere wat van die ooptes hou en ’n mens sal mos nie naby genoeg aan hulle kan kom vir doodskote nie.”

“Kola, dis nou net daar wat ek vir jou wil êdiekyt. Kyk, elke wille ding het mos maar sy plekke waar hy die graagste loop en wei, of middag loop maak, of sawens gaat rus. Nou ja, jy hou dop waar die wildjies hulle tyd verwyl, dan kies jy een van daai plekke en dan loop wag jy vir hulle daar. Nou nie oop en bloot nie verstaan. Jy moet iewerster wegkruip. En soosie bokke dan later daar aankom of verby kom, dan klits jy ene.”

“En as die wind nou verkeerd is Oom, en hulle ruik jou?”

“Ag man, dan gaat jy net die volgende dag weer. Moet jy nou ewiglik dorings uit jou voete trek nog voorlat hulle jou gesteek het? Anyway, jy skiet so ’n bok reg voor sy kop of in sy oor. Of assit nou ’n groot dier is soose koedoe, kan jy wag tot hy so skuins van jou af weg staan en dan skiet jy vir hom laag en styf agterie blad. Jy moet nou netie vir hom sleg skiet nie. Jy moet skiet daar waar sy doodmaakplek sit. En moe’ nou glatie probeer om sy groot skouerbene breek te skiet mit daai Ellie-koeëltjie nie… ’n seloen is mossie ’n tienpond-hamer nie. Selfs ’n Jek Rassel weet hy kannie dieselfde groot bene as ’n hiëna breek kou nie. So moenie probeer hiëna speel mette seloen saam nie.

“Nou, as jy hom reg geskiet het, sil daai bok kromrug wegspring en hardloop maar dan moet jy nie daatelik agterna loop staan en neuk nie. Sit eers g’rus en steek jou pyp op. En as jy vir hom lekker langsaam gerook het, dán eers loop vat jy die bok se spoor. As jou korrelvat goed was en jy sy hart raak geskiet het, sil jy vir hom sommer gou-gou kry.”

“Oom, maar dis mos eintlik onwettig om met ’n .22 te jag, dan nie?”

“Kola, baie dinge is ve’dag onwettig wat vroeër wettig was. Daar is nou baie meer wette oorlat daar baie meer idiote is… ook onner jagters. Kyk, jy moet darem onthou ons het nou ôk somtyds geen keuse gehad nie. Tydens die oorlogjare en daarna was patrone maar skaars virrie groot geweers. Is maar daarom lat onsie seloentjie moes gebruik. Maar… dit was ôk lekker om mette seloen te jag want jy moet kán jag as jy ene wil gebruik. Soms het ons die seloentjies gevat om die jag aspris moeiliker te maak want ons plaaskinners het partykeers ganog tyd op onse hanne gehad en daar was mos nou nie annerlike ontspannings vir ons geweesie. So, ons het gekompiet wie die beste jagter kan wees. Is mos al of jy veel meer waardering het virrie goete waarvoor jy gesukkel het. Dit los vir jou mette gevoel van grootmangeit as jy nou jou bok so innie sweet van jou aanskyn loop staan en skiet het.

“Het Oom nog steeds Oom se .22-geweer?”

“Ja Kola, hy sil seker saam met my graf toe gaan. Maar ek jag nie meer met hommie. Deeske dae word hy net oppie skietbaan gebruik. So eenmaal ’n maand kom ek en ’n paar maters van my ouderdom bymekaar en dan skiet ons papierteikens of klippertjies of staal ghongetjies en so aan. En dan praat ons tog te lekker oorie ou dae en wat ons alles aangevang het met ons roere. Ai Kola, die two-two bly maar ’n wonderlike kalibertjie want hy bring allie onthou van lank gelede se jagte weer helder voorie oë.

“Kyk, vat nou raad vanne ou man af. Jy moet tog vir jou ganog onthou bymekaar maak terwyl jy nog kan. As jou bene krom raak en jou litte beginne kraak, en jy so in paaiemente moet buk om iets vannie grond af op te tel, dan issit net onthou wat nog vir jou regop hou. Ai Kola, onthou isse ding wat jou skuifeltreë weer ’n draffie maak, jou oë skerp maak kyk, jou hanne vannie gebewe herstel en jou gladweg ’n korrel oppe bok laat sitmaak. Onthou laat vir jou weer op allie mooi paadjies van gister en eergister loop.

“Maar dan moet jy sôre vir ganog onthou, anners gaat jy die bietjie onthou wat jy het oor en oor moet speel soos daai grammefounplate van ouds. En dit sal nou ’n verdommenis wees man.”

Oom Martiens het ’n slukkie versterkwater gevat, gesug, terug gesit in sy stoel en met só ’n ver-af uitdrukking op sy gesig in die vuur gestaar dat ek besef het ons moet vir eers net die vlamme geniet sonder om te praat. Dié ou jagter het ’n stukkie onthou loop haal en hy was iewers aan’t stap op een van gister se paadjies… met sy geliefde seloentjie oor sy skouer.
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2172
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by Johan Nel »

Net lekkerrr!!!
Dankie Koos
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
Toxxyc
Hero Member
Hero Member
Posts: 1349
Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by Toxxyc »

Pragtig Oom Koos!
J le Roux
Hero Member
Hero Member
Posts: 1111
Joined: Tue May 20, 2014 8:10 am

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by J le Roux »

Ek geniet elke keer Oom Martiens se stories, baie dankie.
Vat genoeg skietgoed veld toe, daar's nie winkels nie.
JG Landmann .22LR, Howa 30-06, M98 DWM .375H&H deur Ossie Penzhorn, 7x57 Oberndorf AN Mauser, Musgrave Mod 80 30-06.
DeVilliers
Full Member
Full Member
Posts: 140
Joined: Mon Aug 28, 2017 9:01 am

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by DeVilliers »

Koos Barnard wrote: Mon Oct 16, 2023 10:16 am “Kyk, vat nou raad vanne ou man af. Jy moet tog vir jou ganog onthou bymekaar maak terwyl jy nog kan. As jou bene krom raak en jou litte beginne kraak, en jy so in paaiemente moet buk om iets vannie grond af op te tel, dan issit net onthou wat nog vir jou regop hou. Ai Kola, onthou isse ding wat jou skuifeltreë weer ’n draffie maak, jou oë skerp maak kyk, jou hanne vannie gebewe herstel en jou gladweg ’n korrel oppe bok laat sitmaak. Onthou laat vir jou weer op allie mooi paadjies van gister en eergister loop.

“Maar dan moet jy sôre vir ganog onthou, anners gaat jy die bietjie onthou wat jy het oor en oor moet speel soos daai grammefounplate van ouds. En dit sal nou ’n verdommenis wees man.”
Sjoe, hierdie is darem vir my so waar. Mooi storie
User avatar
Ratel
Hero Member
Hero Member
Posts: 1876
Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by Ratel »

Ja daai BIR-NOU mod 2 skiet sommer gaaf. Laat die bees skiet storie my sommer ver terug dink. Ek onthou nog soos gister toe my pa die .22 in my hand gestop het toe ek nog laerskool was en gese het vandag skiet jy die slagbees want ek bewe teveel. Ek dink nie hy het te veel gebewe nie ek dink hy wou my laat voel dat dit belangrik is dat ek die bees skiet ding nou oorvat. Toe daai bees se kniee vou het ek sommer gevoel of ek 'n groot geweer in die hand het.

Dankie vir 'n mooi storie Koos. En ek het nou nog in my kluis daai Harrington and Richardson enkelskoot .22 met die V visier in my kluis. Hy rus nou.
Maak 'n verskil
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by Koos Barnard »

Dankie manne vir die vriendelike woorde.
Mooi loop
User avatar
toelie
Hero Member
Hero Member
Posts: 926
Joined: Mon Nov 26, 2012 9:10 pm

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by toelie »

Baie mooi vertel oom Koos, dink ons almal het n sagte plek in ons harte vir n saloontjie.
.22LR Voere
.22LR CZ Varmint
.22-250 CZ Varmint
.22-250 Savage Vlp
.243 Kwagga Savage Vlp
.6 XC Tikka Varmint
.25-06 Ruger Nr1
.300WM Sako
.375 Ruger Howa
.50 cal voorlaaier Buckstalker
.38 Special Rossi
.9mm Glock 17
.9mm Glock 43X
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 982
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by partner »

Baie dankies Koos. Jy het my ver teruggevat.
vossie1
Hero Member
Hero Member
Posts: 2106
Joined: Thu Sep 27, 2012 8:16 pm

Re: Oom Martiens praat two-two's

Post by vossie1 »

Dis nou n lekker mooi storie, dankie Oom Koos.
Post Reply