Ouboet se eerste

User avatar
matewis
Hero Member
Hero Member
Posts: 1065
Joined: Thu Apr 12, 2012 10:52 am

Ouboet se eerste

Post by matewis »

Dis nog donker as ons die Ford se neus in die rigting van De Aar stuur. Ek voel weer soos ‘n kind, van slaap die vorige aand was daar min. Ek gaan jag, op die plek waar ek elke jaar kopskoonmaak, met my twee seuns vir die eerste keer saam met my. Ouboet was al saam op sy “kyknet-jag” en Boetie kry uiteindelik sy beurt om te sien of al ons se stories oor Richmond se Karoo wel waar is…

Ons luister Appel se Jagter seker 100 keer oppad… “dis waar die mannebymekaarkom, so begin die jag”! Buite Richmond is laaste sein en mamma word gegroet. By die ou plaashek, soos die afgelope 9 jaar, word gestop en water afgeslaan. Die Tropica word afgesluk… manne dis ‘n voorreg!

Die beplanning vir die jag kom nou al baie maande saam. Pa se belofte was onwrikbaar: Jou eerste bok skiet jy as jy nege is, wanneer jy self kan laai, veilig maak, besluit oor die skoot en die belangrikste: Besef dat jy ‘n skepping van onse Vader se lewe neem en dat die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan onmiddelik by jou aansluit.

Windbuks, windbuks, windbuks… So gaan dit al vir ‘n paar jaar. Deur die plastic teleskopie, oor die 3-poot, na die mooiste Wild&Jag trofees wat Piet en Warren al mee gespog het. Begin van die jaar kry Bl*ks^m (die 270 Winchester Model 70) uiteindelik sy KD. Pa het nog altyd teruggehou maar 2 klein ogies het hom oorreed dat dit tyd is om daai derglike drom op te sit.

Die eerste keer wat jy jou seun ‘n skoot sien skiet met ‘n kaliber, breek daar iets in jou oop. Ek dink dit is seker dan wat jy met eens ‘n blik kry op die man wat hy eendag gaan wees. Soos ‘n jong arendkuiken wat sommerso begin vlieg as hy uit die nes geskop word… so vanself. Dit was duidelik na die derde keer by die skietbaan dat hy reg is. Hy en die geweer vind mekaar en as hy agter hom gaan sit is dit asof die kolf in sy klein lyf insmelt. Die gaatjies op die teikens bevestig dit.

Dis 2uur op die plaas en ons is vroeg, soos beplan. Die werf is stil en die buiteband-skietbaan gee die geleentheid om vir oulaas almal se twyfel weg te skiet. More oggend sit ons drie onder ‘n karoobossie ingekruip, oe intens met verwagting, soos daai vissermanne by Bloemhof voor hul poliesmanne.

Ek besef duidelik aan die aantal sakke wat saam op die bakkie klim, dat ek hierdie jaar 2 mannetjies saam met my in die veld gaan he. Van chips en tjoklits tot bilting en droewors. Ouboet se bangmaakpraatjies oor hoe lank ‘n voorsitdag in die karoo kan word het duidelik by Boetie ingesink en hy kom gewapen! Ons word laaste afgelaai, op ‘n hoogtetjie en kan so 300 grade in die rondte skiet. Nou begin Pa bid dat die Vader vir ons sal seen met ‘n rustige Springbokkie, hy kan klein ook wees, wat onbewus binne in ons sirkel van 100 meter inbeweeg…

So teen 10 uur kom die eerste geleentheid. Rustige stappie reguit op ons af. Die opgewondheid klop in ons al drie, maar ek breek die oomblik vir die twee gesiggies langs my. Dit is net-net te naby aan die rigting van die volgende voorsitter op die horison. Ons wag…

Die troppie kom in, netjies soos ‘n ry eendjies. Wag… wag… wag… Okay, kies een en as jy gereed is, asem saggies uit en voel die sneller. Die skoot klap en onmiddelik dop ‘n jong rammetjie om. Hy le maar is nie dadelik dood nie. Ek kan sien die mannetjie rattle hier langs my en Pa gee vinnig die doodskoot. Die skoot was bietjie hoog en hy sou nerens gegaan het nie maar ek het die call gemaak om hom onnodige lyding te spaar. By die bok sit ek vir oulaas ‘n grassie in die bek en ons 3 maak oe toe om vir Liewe Jesus dankie te se vir hierdie onbeskryflike oomblik.

So is ons terug na ons “fort” en nog steeds wag ons dat my man sy eerste bok doodskiet, regtig doodskiet, met een skoot. Die dag raak lekker lank onder daai bossie maar die manne byt vas. Kyk, ek dink nie daar is ‘n manier wat hulle in die klas so lank kan stilsit en sitbly nie!

Dis middag en die bakkie is oppad na ons vir ‘n roetine draai. So ent weg stop hy en ek besef dit kan net wees omrede die trop oorkant die bultjie agter ons oppad is in ons rigting. Ons sien hulle nog nie en hulle weet van niks. Ek se vir Boeta om sy sit te kry en gereed te wees… Die eerste horingtjie kom oor die hoogte, toe nog een , en nog. ‘n Pragtige troppie ramme stap rustig so 120 meter agter ons verby, Boeta is rustig… Ek wil nog raad gee oor wat en waar, toe loop die skoot. Die ram trek sy bene op en ek weet dis hy daai! So 20 meter verder word die handbriek opgetrek. Perfekte hartskoot en die Nosler BT’s doen wat hul moet. Geweer is veilig en ons stap rustig terwyl die adrenalien plek kry om te gaan le.

Kyk, om te se jy borrel oor is ‘n understatement. Ek kan nie die gevoel beskryf nie, dis iets tussen skree, juig en net verslae staan. Om jou kind te sien staan en kyk na sy eerste bok is seker een van die grootste voorregte wat ‘n pa kan he. Dit is presies hoe ek dit sou wou gehad het, al die gewag, oefen en voorbereiding ‘n nietigheid teenoor waarmee jy beloon is.

Die oomblik is nog meer spesiaal met die dat boer Herman alles gesien afspeel het en die oomblik met ons kon deel (en natuurlik sy bydrae kon maak met die gesigverf!). Fotosessie afgehandel, pens getrek en bok gelaai. Twee mondjies wat nie kan ophou kwetter nie en dit is musiek in my ore.

Daardie aand sit jy by die vuur en jou gedagtes gaan na nuwe plekke toe. Die hoop dat die Here jou sal spaar om hierdie dinge nog lank saam jou mense te kan doen. Die voorreg om in staat te wees (fisies en finansieel) om dit te kan ervaar. Ook die verantwoordelikheid om ‘n voorbeeld te wees, vir hierdie twee manne wat, deur Sy genade, ook eendag saam hul kroos onder ‘n Karoobos sal sit en God se skepping in sy volmaaktheid, en ongerep, te beleef.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
pietskiet
Full Member
Full Member
Posts: 139
Joined: Fri Jun 26, 2009 10:28 am

Re: Ouboet se eerste

Post by pietskiet »

Pragtig geskryf! Dankie vir die deel Matewis, en geluk met die grootman se bok!
Mellies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1980
Joined: Sun Jan 18, 2015 5:32 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Mellies »

Mooi geskryf! Dankie Matewis en geluk ook.

Met n vleisie...
User avatar
ruaanb
Hero Member
Hero Member
Posts: 5557
Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am

Re: Ouboet se eerste

Post by ruaanb »

baie geluk aan die jongman! pragtig geskryf en ja wat n voorreg is dit nie.
User avatar
Frederik
Hero Member
Hero Member
Posts: 5021
Joined: Fri Feb 11, 2011 7:30 am

Re: Ouboet se eerste

Post by Frederik »

Baie geluk mooi gedoen.
THOMAST
Hero Member
Hero Member
Posts: 1892
Joined: Mon Nov 08, 2010 11:19 am

Re: Ouboet se eerste

Post by THOMAST »

Pragtig!
Matewis, toe ek nou die storie lees het jy my teruggevat na my een seun se eerste bok in die Kamdebo berge, waar ons die bok op die plato bekruip het, hy aangelê het en die bok net daar gelê het na die skoot. Hy was nege jaar oud. Vandag is hy al besig met sy doktorsgraad, maar ek onthou dit asof dit gister gebeur het
User avatar
DWB
Hero Member
Hero Member
Posts: 6969
Joined: Tue Mar 08, 2011 11:48 am

Re: Ouboet se eerste

Post by DWB »

Pragtig Matewis! Veels geluk aan pa en die jongman!!!!
Noem my sommer Deon
7x57 - 404 Jeffery - 450 Rigby - 500 Jeffery
Overkill is underrated!
"All men die, but few men ever really live"
User avatar
Gian_dP
Hero Member
Hero Member
Posts: 1617
Joined: Thu Mar 06, 2014 9:43 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Gian_dP »

Baie mooi storie! Welgedaan aan die jong man.

Sent from my SM-G920F using Tapatalk
_____________________
Gamo CFX .177
Howa/Krieger 6XC
Howa .243AI
Howa .300 WM
Musgrave .308
User avatar
alecjohnson
Hero Member
Hero Member
Posts: 2656
Joined: Tue Mar 05, 2013 10:01 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by alecjohnson »

Pragtig WOW! Welgedaan aan die jong man. En baie geluk an pa ook!
User avatar
finch
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 458
Joined: Thu Jul 14, 2016 2:44 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by finch »

Daar is deesdae min goed op die internet wat nie n mors van tyd is nie. Hierdie artikel aan die anderkant is nie een van daai tydmors goed nie. Mooi geskryf en dankie vir die tyd en moeite om te deel.
User avatar
Springkudu
Hero Member
Hero Member
Posts: 757
Joined: Wed May 18, 2016 8:17 am

Re: Ouboet se eerste

Post by Springkudu »

Baie baie mooi storie, ongelooflike voorreg!!! Ek sit sommer met trane in my oë. Dit bly maar net ‘n voorreg om te jag, en as jy dit nog kan deel met jou kinders, wow!!!!

Ek glo mamma se ore was warm gepraat toe julle by die huis kom met al die stories!!!


Sent from my iPhone using Tapatalk
6.5 Creedmoor Howa 24"
BRNO ZG47 30-06
.22 (Pending)
CZ75 PO7
User avatar
Plaashaas
Hero Member
Hero Member
Posts: 1018
Joined: Thu May 22, 2014 7:38 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Plaashaas »

Baie geluk aan jul al twee. Dankie vir die deel.
User avatar
wynis
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 422
Joined: Mon Oct 01, 2018 7:31 am

Re: Ouboet se eerste

Post by wynis »

Wonderlike storie en uistekend geskryf. Mag julle gesin dekades van sulke ware vreugdes geniet!


Sent from my iPhone using Tapatalk
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by PWV »

Ramkat!!!!
User avatar
Methos
Hero Member
Hero Member
Posts: 580
Joined: Tue Dec 12, 2017 4:12 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Methos »

Baie geluk en dankie vir die mooi vertel!
vetbeer
Newbie
Newbie
Posts: 5
Joined: Wed May 02, 2018 3:00 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by vetbeer »

Dankie vir die mooi storie,en geluk aan die jong man!!
Apie
Hero Member
Hero Member
Posts: 3067
Joined: Sun Nov 30, 2014 7:53 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Apie »

Lekker gelees aan jou storie!

Geluk aan jou en jou seuns!


Sent from my iPhone using Tapatalk
User avatar
30-0Kwes
Full Member
Full Member
Posts: 135
Joined: Wed Nov 21, 2012 10:06 am

Re: Ouboet se eerste

Post by 30-0Kwes »

Baie mooi geskryf. Ek wens vir daai dag dat ek my 2 kan saam vat veld toe en dit so met hulle kan deel. Ek sal die onthou. Dankie
Nella
Hero Member
Hero Member
Posts: 582
Joined: Sat Aug 12, 2017 7:12 am

Re: Ouboet se eerste

Post by Nella »

Netjies..baie geluk julle.
Just smile and wave boys >:D
User avatar
Rudiejacobs
Full Member
Full Member
Posts: 213
Joined: Tue Jan 06, 2015 2:41 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Rudiejacobs »

Grootste vooreg wat jy as n jagter pa seker ooit sal he. Baie geluk!

My jongste skiet saterdag sy eerste springbok.
Kan nie wag nie.

Rudie.

Sent from my LG-X230 using Tapatalk
30 06 Marlin XL7
25 06 Savage long range hunter.
12G Franchi pomp aksie
Tanfoglio 9mm(kort)
.38 SPL Rossi

The future belongs to those, who believes in the beauty of thier dreams.
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 982
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by partner »

Baie dankie vir die deel en pragtige storie. Jy baie bevoorreg.
User avatar
matewis
Hero Member
Hero Member
Posts: 1065
Joined: Thu Apr 12, 2012 10:52 am

Re: Ouboet (en Boetie) se eerste(s)

Post by matewis »

2 jaar later...

Pa se voorwaardes was rotsvas, jy mag jou eerste bok skiet in graad 3, wanneer jy self die geweer kan hanteer en wanneer jy besef wat dit beteken om ‘n dier se lewe te neem. Ek het geweet hierdie een gaan spesiaal wees… Dit is op die plaas in Koedoeskop, wat die afgelope paar jaar so spesiaal vir ons as gesin geword het, in die bosveld en met mamma hierdie keer saam met ons. Om die hele gesin bymekaar te hê vir hierdie lewensoomblik is ‘n groot voorreg.

Die jaggroep was groot, en Boetie se geduld was sterk. Nie net moes hy wag tot hy amper 9 is nie, maar toe die groot langnaweek uiteindelik aanbreek, moes hy wag tot die Sondag om sy bok te gaan soek. Pappa se ander voorwaarde was dat hy nie sy eerste bok van ‘n bakkie af gaan skiet nie en ek het voor die jag met oom Leon gereel dat ons graag uit die hide uit wil skiet. Die hides is knap, maar net-net groot genoeg vir ons al 4 om in te pas.

Die oggend vroeg woel ons al. Die res van die groep slaap nog toe Piet ons kom optel. Dis stoele, gewere, skietstokke en rugsakke gepak met genoeg voorraad vir die dag wat voorle. Die manne ken van lang dae in die Karoo en sorg duidelik dat hul nie gevang word nie. Die hide is nie ver vanaf die jagkamp maar dit voel soos ‘n uur. Ons sien geen wild en ek besef dat die mannetjies se rugsakke dalk baie leer gaan wees teen die tyd wat daar, hopelik, ‘n foto van Boetie se eerste bok geneem word.

By die hide skrop ons nes soos klomp werfhoenders. Ons probeer so stil moontlik wees maar dit knor om ons al vier gemaklik in te pas. Ons kry die gewere reg, loergaatjies vir elkeen en bedink al die moontlike invalshoeke van hoe hierdie strategie kan uitspeel. Dan begin die wag… Kyk, dit is een ding om in die middel van die Karoo onder ‘n bossie te sit en wag vir ‘n voorsit-bok, maar ons almal se eerste ervaring van ‘n bosveld-hide in die herfs is ‘n ontnugtering om die minste te se. In die Karoo kan jy ten minste nog rondkyk, die natuur bewonder, nou en dan opstaan as die horison leeg is. Maar hier, in ‘n donker-kamertjie van ongeveer 1,5mx1,5m kan die oggend baie vinnig, baie lank raak!

Dit is ongeveer half-tien en ons al vier hoor dit gelyk… Uit die loergaatjies sien ons hulle inkom, een-vir-een, so rustig soos net die natuur kan wees. Die jongman begin’t aan bewe raak, maar sy opgewondenheid word baie vinnig gedemp…. Blouwildebeeste. Pappa skop vas, ons wag vir daai rooibokram waarop ons besluit het as sy eerste bok. Ek weet nie vir wie was dit die moeilikste gewees om nie ‘n skoot te vat nie, vir die 2 jongmanne wat sit en smekend staar vir die trop wildebeeste, vir mamma wat skepties is of ons wél later iets anders gaan kry, of vir pappa wat die gesiggie dophou van ‘n agt-jarige wat vergeet het om asem te haal. Uiteindelik word ons van ons marteling verlos en verdwyn hulle met ‘n stadige galop die ruigtes in.

Dit is stil… doodstil. Daar kom nou en dan ‘n paar tarentale verby maar van iets met vier pote is daar geen teken nie. Die hide raak warm… vrekwarm. Jou lyf raak seer gesit en met elke halfuur se stilte voel ek die span se energie en opgewondenheid wegkwyn. Ek besef ons moet pouse neem en radio vir Piet en Simon om ons te kom oplaai en terug te neem kamp toe vir middagete. Die atmosfeer is somber. Die besef dat jag oor meer gaan as net agter op ‘n bakkie ry tot by die volgende trop het baie vinnig deurgedring. Jag gaan oor die aanvaar dat jy vat wat die veld vir jou bied. Soms (as jy gelukkig is) val hy in by jou vooropgestelde idees maar dikwels gee hy jou die koue skouer.

Plan B. Ons lê so rukkie totdat die ergste hitte oor is en besluit om die ander hide te probeer. Hierdie hide is op ‘n deel van die plaas wat nog meer ruig is en alhoewel die kans dalk beter is om bokke teë te kom, is die kanse om ‘n skoot te kry nóg minder as vroeër die oggend. Afgelaai met vars spys-en-drank en hernude energievlakke skrop ons van vooraf nes. Weereens loop die tyd, halfuur vir halfuur. Mamma bid die hardste, want dit is marteling om haar jongste so te sien. Maande se geoefen, aande se gesels oor “boetie se eerste bok”, beplanning oor hoe en wat alles gaan gebeur en hier sit die lyfie, al hoe meer gekrom, met elke uur wat verby vlieg.

Uit die hoek van jou oog sien jy iets en, nog voor jy kyk, weet jy wat dit is. Jy het niks gehoor nie, want die natuur se klanke sluk die stap van ‘n dier in. ‘n Vinnige kyk en Boetie het die goedkeuring dat ‘n blesbok sal kwalifiseer as “eerste bok”. Wat volgende gebeur is ‘n oomblik in tyd wat vir altyd in ‘n ouer se geestesoog vasgevang word. Dit is asof mens in stadige aksie in die derdepersoon kyk. Dit word doodstil in jou kop, alhoewel daar die geluide is van bokke wat uit instink begin snork, sonbesies wat raas en ‘n gesin wat verbouereerd spartel om elkeen sy sit te kry vir wat gaan volg…

Boetie is agter die 270 Winchester Model 70 ingebuk en haal vinnig en vlak asem. Die bokke maal en draai soos hul speel-speel rondbeweeg en hy weet hy mag nie skiet voor ons nie saam besluit het nie. Ek hoef niks te se nie, want, te midde van sy 8-jarige opgewondenheid, roep hy al die risiko’s op wat ‘n jagter in ag moet neem. Dit voel soos ‘n ewigheid… maar hy hou homself in. Heel regs maak die trop oop en daar staan sy, alleen en gereed om haar laaste asem te gee vir ‘n oomblik wat vir altyd sal bly. Dit is asof sy besef dat haar einde bestem is vir iets groter, ‘n “boetie se eerste bok”-einde. Sonder woorde tik ek hom op sy skouer en hy weet dis die teken. Perfekte skoot en 10 meter verder kom alles tot ‘n skielike stilte terwyl bosveldgrond die lug inborrel. Ek spook om hulle in die hide te hou en haar kans te gee en ek verlos almal betrokke met ‘n opvolg net om seker te maak.

Die stof hang nog in die lug toe ons die hide oopmaak. Hier waar daar sekondes terug chaos was, is nou net stilte… en “Boetie se blesbok”. Ons vier sê saam vir Liewe Jesus dankie vir die wonderlike voorreg, maar vra ook dat Hy ons altyd sal help om hierdie verantwoordelikheid te besef en te aanvaar. Om daai lyfie agter sy bok te sien sit, om die amper-verdwaalde glimlag te sien, dit is waaroor die lewe gaan. Dit is ‘n oomblik in tyd wat nie een van ons sal vergeet nie. Wat ‘n voorreg. Net ons, in die Koedoeskop-bosveld. Geen skare…. net ons vier en Boetie se blesbok.

Die aand by die kamp neem Boetie sy eed saam met sy stukkie lewer. Pappa en Mamma deel die oomblik (en lewer!) met hom ek kan nie glo hoeveel groter hy in die laaste 12 ure geword het nie. My keel trek ‘n knop en ek sukkel weereens om te verstaan wat ek gedoen het om hierdie oomblikke te verdien. Ek besef weer opnuut, dit is alles maar net genade.
C bok.jpg
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Shaunsteyn
Jr. Member
Jr. Member
Posts: 52
Joined: Mon Sep 25, 2017 2:27 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Shaunsteyn »

Matewis.

Baie mooi geskryf. Dit is voorwaar n voorreg. Dis dinge soos dit wat n mens met n lied in jou hart opstaan.

Ek self het nog 2 (5 en 2) jong manne wat ek graag die voorreg sal wil deel.

Baie geluk! Mag die die eerste van vele wees!
Kaalvoetthysie
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 253
Joined: Sat Nov 04, 2017 12:13 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by Kaalvoetthysie »

Baie geluk aan jou en veral aan die jong man!!! Dankie vir die deel en die mooi storie. Roer omtrent die hart snare met my seuntjie wat die jaar vir die eerste keer saam gery het. Jou reëls gee my baie om oor te dink en sal verseker my planne vir die jong man aanpas. Darem maar ‘n bitter groot voorreg om mens se gesin saam met jou in die veld te hê en ‘n kampvuur met hulle te deel.


Sent from my iPhone using Tapatalk
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

Re: Ouboet se eerste

Post by PWV »

Matewis, in my geestesoog het ek alles saam met julle beleef. Wat 'n wonderlike voorreg!!
Post Reply