Die waarheid is dat ek nooit 6 skote op enige van my teikens geskiet het nie, nie tydens die TOP 50 van 2015 nie en ook nie tydens enige ander kompetisie in my skietloopbaan nie. Ek het ‘n “AD”(accidental discharge) gehad met my tweede skoot tydens die tweede been van die 2015 se Top 50, die skoot was die berg in en toe skiet ek nog ‘n skoot, om 5 skote op die teiken te kry.
Terwyl ek besig was om my doppe op te tel, het Wayne Klaver, (medeskut in ons aflossing) my gevra of ek ‘n “AD” gehad het, ek het dit bevestig en ook dadelik aan hom gesê dat ek ‘n eksta skoot geskiet het om 5 skote op my teiken te kry omrede my een skoot die berg in is. Terwyl ons vorentoe geloop het, het ek my “AD” en die ekstra skoot wat ek geskiet het met die ander mense in ons aflossing gedeel.
Ek was 100% oortuig dat daar nie in die reëls enige iets oor ‘n “AD” en dan ‘n ekstra skoot is nie. Die rede hoekom ek so 100% seker was van my saak, was omdat ek die vorige 3 maande daagliks met die reëls van die IHRSA gewerk het en dat volgens my in daardie reëls definitief nie iets van so ‘n aard was nie. Hierdie reëls was in my brein ingeprent en ek het daarvolgens gehandel.
Francois Maartens was die baanoffisier tydens ons aflossing.
My teiken was die laaste teiken in die ry en toe hy by my teiken kom, het ek hom presies vertel wat gebeur het. Hy het die telling geneem en ek het hom aangesê om 30 punte af te trek en net 4 skote te laat tel, want ek wou nie vorentoe probleme hieroor kry nie. Ek kon sien Wayne Klaver was ongelukkig en van die ander skuts was egter nie seker oor die reël nie. Ek was egter 100% oortuig dat daar nie so ‘n reël was nie. Francois Maartens, die BO, het bevestig dat dit die regte ding was om te doen en hy het die telling so ingevul en ek het daarby geteken. Ons het net 4 skote laat tel.
Terug by die skietpunt het ek na Wayne Klaver geloop en hom ingelig dat ek en Francois besluit het dat net 4 skote sou tel. Hy het saamgestem en ek het die saak as afgehandel beskou.
Daardie aand voor die vergadering is ek deur Jimmy Farnham nadergeroep en hy het aan my gesê dat daar ‘n klagte ingedien was deur een van die skuts in my groep, nl. dat ek 6 skote op my teiken geskiet het. Hulle (die dispuut komittee) het aan hom, Jimmy, die onaangename taak opgedra om my mee te deel dat ek ge-diskwalifiseer is omdat ek 6 skote op my teiken geskiet het en volgens reël 2.4(Hy het ‘n stel reëls in sy hand gehad, word ek dus ge-diskwalifiseer). Die reël lees as volg: “If found to practice misconduct in any way, including firing additional shots on his/her own target or on any other target to either benefit or to sabotage or using or participate in using range - finding equipment for the purpose of enhancing anyone’s performance in the competition, such competitor will be disqualified”.
Ek het dadelik aan hom gesê dat ek NIE 6 skote op of na my my teiken geskiet het nie. Ek het presies aan hom verduidelik wat gebeur het en dat ons in elk geval toe net 4 skote as telling gebruik het.
Hy het gesê dit spyt hom, reël 2.4 is die reël wat hulle gebruik het vir hulle besluit en as ek verdere stappe wil neem is ek welkom. Ek het hom gevra of hy die saak met Francois Maartens bespreek het, want hy was die baanoffisier, hy het bevestig dat hulle nie die aangeleentheid met hom bespreek het nie, maar dat hulle hom wel gevra het of hy sal kom getuig oor wat gebeur het, indien ek sou besluit om die saak verder te voer. Hy wou weet of ek dit so aanvaar en of ek iets verder aan die saak gaan doen. My antwoord was hulle moet maak soos hulle goed dink, maar ek het weereens aan hom verduidelik presies wat gebeur het en dat dit wat hulle gehoor het, nie naby die waarheid was of is nie. Hy het net skouers opgetrek en gesê dis ongelukkig die besluit.
Die volgende oggend tydens die inligtingssessie voor die begin van die SA-Ope, is die skuts ingelig dat daar die vorige dag ‘n skut uitgevang is wat 6 skote op sy teiken geskiet het en dat die mense dit asseblief nie moet doen nie. ’n Deelnemer van Noord-Wes het nog na die aankondiging ‘n groot bohaai gemaak omdat die persoon nie permanent uit die vereniging geskors is nie. Hierdie was totaal onwaar en was ‘n geweldige belediging en vernedering vir my. Ek het tydens die SA-Ope die dag weer ‘n “ad “ gehad a.g.v die manier hoe ek met die regshandige geweer skiet en hom vashou en oorhaal.
Terug in Bloemfontein die Maandag na die skiet, het ek ‘n afspraak met ‘n advokaat in die stad gemaak. Ek is met ‘n stel reëls van die SAJSV na die advokaat omdat ek gevoel het ek is onregverdig gediskwalifiseer en regstreeks daardeur benadeel en verneder. Ek was op daardie stadium nog 100% seker dat daar nie so ‘n reël was nie, definitief nie in die reëls waaraan ek die afgelope maande gewerk het nie.
Ek het presies aan hom verduidelik wat gebeur het en sy eerste vraag aan my was, hoekom het ek ‘n “AD” gekry.
Ek het aan hom verduidelk dat ek links skiet met ‘n regshandige geweer en wanneer ek oorhaal, ek die geweer met my linkerhand moet vashou met my wysvinger naby die sneller en dan kan my vinger per ongeluk aan die sneller raak en ‘n skoot kan afgaan. Sy tweede vraag was hoekom skiet ek nie met ‘n linkshandige geweer nie, waarop ek ge-antwoord het dat mens nie op daardie tydstip linkshandige gewere in Suid-Afrika gekry het nie. Sy voorstel was dat ek dadelik vir my ‘n linkshandige geweer moet aanskaf. Ek het aan hom meegedeel dat ek wag vir my linkshandige Sako, wat ek wel intussen gekry het.
Die advokaat het saam met my deur die reëls van die SAJSV gewerk. Ek het aan hom verduidelik dat ek volgens reël 2.4 ge-diskwalifiseer is, maar dat ek nie 6 skote op my teiken geskiet het nie. Hy het verder deur die reëls gelees en toe reël 5.11 aan my uitgewys wat lees” Only five (5) shots may be fired per range during an event. No foulers and/or any additional shots, for whatever reason, may be fired. Infringement of this rule may lead to immediate disqualification from the event or the competition“ Ek het dadelik besef dat ek gefouteer het deur die ekstra skoot te skiet na die “AD”. Reël 5.11 lees immers baie duidelik.
Sy volgende woorde aan my sal ek vir die res van my lewe onthou, nl: ”Mnr. Botha, jy het die regte ding gedoen om jou “AD” te erken, die ekstra skoot wat jy geskiet het te verklaar en die beste ding wat jy kon doen was om die baanoffisier te beveel om 30 punte af te trek van jou telling, dit hou jou kant van die saak skoon en ek beveel aan dat jy so gou moontlik vir jou ‘n links aksie geweer kry, want jy gaan weer ‘n “AD” kry en dit sal nooit ophou voordat jy nie die regte geweer het nie”.
Ek het hom bedank vir sy raad, opgestaan, hom om verskoning gevra dat ek sy tyd gemors het en gevra hulle moet maar die rekening aan my stuur.
Terug by die huis het ek na die reëls van die IHRSA gaan kyk en nêrens was daar ‘n reël soortgelyk aan reël 5.11 van die SAJSV nie.
In ‘n mate was ek reg, maar ook verkeerd! Ek het die verkeerde stel reëls in my kop gehad, die reëls waaraan ek en ‘n paar ander lande se manne vir maande gewerk het sodat dit op die webtuiste geplaas kon word, reg vir die toekoms en reg vir die volgende Wêreld-Kampioenskappe in 2016. Dit was die reëls waarvolgens ek gehandel het en dit was die verkeerde reëls.
Ek het vir Jan van Niekerk, wie saam met my na die Top 50 en SA-Ope gery het, en ook die ondervoorsitter van die IHRSA is, gekontak en meegedeel dat ek verkeerd was oor die “AD” en die ekstra skoot. Daar is wel so ‘n reël, nl. 5.11 in die SAJSV se reëls opgeteken, maar NIE in die IHRSA se reëls nie.
Ons het gedurende die volgende paar dae, die IHRSA se reëls aangepas en reggestel. Reël 4.10 lees nou so “Only the nominated number of rounds, as indicated by the Range Officer, may be fired per lane. No fouling shots or testers are allowed. An accidental discharge or round that was fired at an unintended time may not be repeated. (Section 5.
Die feit dat ek ge-diskwalifiseer is ten spyte van die feit dat ek nie 6 skote op my teiken geskiet het nie, (soos deur reël 2.4 aangedui) en ook dat daar glad nie met die BO gekonsulteer is oor die presiese gebeure nie, asook die feit dat ek opdrag aan Francois Maartens, die BO gegee het om 30 punte van my telling af trek en dat die dispuutkomittee hulle glad nie aan enige van hierdie 3 feite gesteur het nie, is baie kommerwekkend en teleurstellend. Ek hoop werklik dat bogemelde insident die nodige inligting en feite verskaf dat indien daar weer ‘n soortgelyke voorval sou plaasvind (waar ‘n person ge-diskwalifiseer word om een of ander rede), daar eers deeglik na die omstandighede en reëls gekyk sal word en met die BO gekonsulteer sal word voordat daar so ‘n drastiese besluit geneem sal word. Daar is ‘n reuse verskil tussen iemand wat 6 skote op sy/haar teiken skiet om dan die beste 5 skote te eis, teenoor dit wat met my gebeur het!
Iemand wat wou “kroek” soos waarvan Willem Immelman my beskuldig, sal definitief nie herken dat hy het ‘n “AD”gehad nie en as iemand hom daarna vra sal hy dit net ontken, want watter bewysse het die ander persoon. Die skelm sal ook nie uit sy eie erken dat hy ‘n ekstra skoot geskiet het nie, ook nie opdrag aan die BO gee om 30 punte van sy telling af te trek nie. Normaalweg sal so ‘n persoon ontken dat hy ‘n “AD” gehad het en definitief nie melding maak oor die ekstra skoot wat gevuur is nie, hy of sy sal net eenvoudig die hoogste telling neem en stilbly.
Ek hoop regtig hierdie ware weergawe van die gebeure klaar al die gerugte en onwaarhede op wat die rondte doen en dat dispuutkomittees voortaan behoorlik navorsing sal doen voordat hulle besluite neem wat uiteenlopende gevolge het op ander mense se lewens en loopbane.
Wat het ek hieruit geleer?
1. Vergewis jou van die reëls vir die dag.
2. Sommige medeskuts kan jy nooit vertrou nie.
3. Dispuutkomitees volg nie altyd die regte prosedures nie.
4. Jy is nooit te oud om iets te leer nie.


