Page 1 of 1

Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 1:40 pm
by BenJacobs
Dag sê almal.

Ek en my vrou het so paar maande terug besluit om vir 'n vakansie bietjie in Suid Afrika te kom kuier, om haar ouers te besoek en so bietjie die Kanadese winter bietjie korter te sny.

So sit ek in my trekker en begin wonder of ek nie dalk 'n jag kan inwerk nie, iets wat ek nog nie geskiet het nie. Ek soek toe so bietjie rond en kry 'n paar opsies. Die feit dat ons nie ons eie ryding het nie en omrede ons soveel tyd as moontlik wil spandeer saam familie, het hulle vinnig uitgedun.

Ek kry toe 'n Zebra jag gereël in die swartland en ek maak vinnig planne. Die vleis hou die plaas en die vel kom hopelik saam Kanada toe. Ek maak toe vas die 18de Feb en begin lekker uitsien.

Ons het presies 'n week vroeër geland en ek het my 243 wat met 'n stoorpermit by familie staan, gaan oplaai en hom gaan instel. Eerste keer wat ek winkel ammunisie deur hom skiet so ek wou net seker maak die 100gr S&B sal sy ding doen. Die zebras is blykbaar lekker wild so ek maak toe seker ek is gemaklik tot 400m.

Vanoggend lekker vroeg toe kom ons op die plaas aan en ons kry gewere reg en gaan deur die plan. Daar was bietjie twyfel van die gids af oor die 243 se vermoë, maar hy sê ons moet kyk en as die skoot snaaks lyk moet ek sy 308 vat. As ons kan gaan ons naby ry en bekruip en 'n skoot kry anders gaan ek voorsit en kyk of hulle verby kom. Daars 'n paar merries met vulle, maar al die ander volwasse diere kan geskiet word.

Ons ry toe die koppies eerste deur waar hulle dink hulle is, maar sien net elande, Springbokke en volstruise niks donkies nie. Kom toe af in die vlakte en na ons vinnig die wiele bietjie afblaas vir die sand, ry ons verder. Eweskielik is daar twee mooi groot zebras so 250m voor ons en ek klim gou uit en lê aan oor 'n hek paal. Ongesiens kom die hele trop van regs en beweeg agter hulle in en daar het ek geen skoot. Hulle hardloop toe aan, ek is nie seker presies hoeveel hulle is nie, maar blykbaar weet hulle van 45 grotes en nog paar ander.

Ons ry toe 'n end deur 'n groot oop vlakte in die rigting wat hulle gehol het en sien hulle so 530m weg agter 'n reeks bome in verdwyn. Ons beweeg toe nader en klim uit en bekruip 'n ou gronddam se orige wal. Aan die anderkant draf die trop nog en hulle gee 'n oomblik op 320m. Die hings heel voor stap uit en gee 'n mooi oop skoot. Op 300m moet my monarch 3 se dikkruis van die duplex net bo sy skof wees. Kry mooi stil en skiet. Hoor dadelik hy is raak, maar kan nie sien waar nie. Ek skuif toe reg om weer te kyk en sien toe net mooi hoe val hy. Skoot het altwee longe getref en hart net net gemis.

Lekker vinnige jag gewees wat nou weer afgerond word met 'n dag of 2 langs die see in die Weskus.

Groete Ben

Re: Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 2:00 pm
by tripodmvr
Baie geluk. Lyk meer na 'n kwagga as 'n zebra.

Re: Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 5:05 pm
by partner
Baie Dankies vir Lekker storie vertel Ben. En geluk ook met die Zebra. Mooi Skoot ook.

Re: Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 7:52 pm
by Toxxyc
Daardie sebra het skoon vir sy strepe weggehol. Mooi man!

Re: Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 8:14 pm
by BenJacobs
Dankie almal. Ja oom Marius, die strepe was nogal interessant, my ook aan 'n kwagga laat dink. Ek sal nog fotos opsit wat nog bietjie wys. Die meerderheid van die trop lyk so.

Re: Vinnige zebra jag

Posted: Wed Feb 18, 2026 9:39 pm
by BenJacobs
Nog paar foto's