Karoojag Rooiheuwel

Moderator: Global Moderator

Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2045
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Karoojag Rooiheuwel

Post by Koos Barnard »

Karoojag 2023

Ek was die afgelope paar dae in die Karoo op Rooiheuwel Gasteplaas/Safari’s. Die eiendom bestaan uit ’n paar plase en is altesaam 15 000ha groot. Dis geleë tussen Merweville en Beaufort-wes. Die mense van Rooiheuwel bied jag, staproetes, 4x4 en perderitte, kampering asook voëlkykuitstappies aan. Ek is soontoe om twee springbokke te jag.

Die storie hoe ek daar uitgekom het, is interessant. Die plaasbestuurder, Kobus Swanepoel, het ’n kopié van my boek, Kampvuur en Kondensmelk, gekoop en toe ons later weer gesels nadat hy die boek gelees het, het hy my uitgenooi om daar te kom jag. Ek kon nie dadelik gaan nie weens my eerste rugoperasie en dis toe dat ons uitvind, Kobus bestuur die eiendom wat aan my rugdokter, Hanno Vivier en sy familie, behoort.

Die kortste pad na die plaas (maar nie die vinnigste nie) is vanaf Oudtshoorn oor die Swartbergpas, Prince Albert en Leeu Gamka. Ek en my vrou besluit toe om weer ’n slag oor die pas te ry aangesien ons dit laas in 1984 gedoen het. Ek was toe luitenant by die Infanterieskool op Oudtshoorn. Daardie jaar het ek ’n tiendae-pas gekry en ons is Suidwes toe in Eunia se geel Citi Golf waarvan ek die agterste sitplekke uitgehaal het. Ons sou ’n vrieskas en ’n halwe koedoe in die Golfie terug bring.

Dit was ’n interessante rit want omdat ek byna nooit met die Golf gery het nie, het ek nie presies geweet hoe ver hy op ’n tenk petrol kan loop nie. Toe ons dus skuins na donker by Keetmanshoop kom, sê Eunia dat ons nie hoef te stop vir petrol nie… die Golf sal Mariental haal. Lang storie kort, ons het 1.5km buite Mariental sonder brandstof gaan staan en ek moes die blêrrie geel moutertjie stoot tot in die dorp.

Op pad terug oor die Swartbergpas met die koedoe, die vrieskas en ons bagasie in die karretjie, moes ek twee keer stop want die Golfie het warm geraak. Maar ons het dit heelhuids tot in Oudtshoorn gemaak.

Goed, so is ons toe na 39 jaar weer oor die Swartbergpas en op Sondagnamiddag 7 Mei arriveer ons in Prince Albert waar ons sou oorslaap. Die namiddag verken ons die dorp te voet en eet laatmiddag ’n pizza by Lazy Lizard. Die basis was dunner as papierdun en die bestanddele bo-op uiters karig. Dit was baie lekker maar teen R90 het ek erg verneuk gevoel. Op pad terug na ons oorslaapplek stop ons by The Rude Chef want ek was steeds honger. Daar bestel ek ’n cheese burger op die eienares se aanbeveling wat baie lekker en lekker groot was. My vrou was nie eintlik honger nie maar word iets “klein en lig” aangebied deur die restaurant (’n spesiale dissie wat hulle sou voorberei). Dit is toe twee klein groen vye, twee klein wiggies kaas en ’n halwe winkel-roosterkoek. Die skok kom met die betaalslag… Eunia se dis kos R85 terwyl my burger R89 was. Nie een van ons het iets gesê nie. Ek het betaal maar sal in die toekoms tweemaal dink voor ek “iets ligs” by The Rude Chef bestel.

Skuins voor 10 gaat slaap ons toe. Die kamer was teenaan die straat en ons vind toe uit dat Prince Albert nogal besig kan raak op ’n Sondagaand. Elke paar minute dreun ’n motor verby en die straat is so naby, ek wil instinktief my voete opruk elke keer as ’n mouter verby kom. Om alles te kroon, was die bed heeltemal te kort vir my en dit het ’n voetstuk van hout waarop my hakskene toe rus. Slaap met gebuigde bene was al uitweg. Na eenuur het die verkeer begin bedaar maar skuins voor vyf die oggend kom die eerste klompie kleurlinge uit hul woonbuurt verby en hulle gesels luidkeels. Die eerste drie is opgevolg deur ’n paar ander groepies en almal gesels HARD (waar hulle so vroeg moes gaan werk weet ek nie).

Ons is maar taamlik leepoog weg uit Prince Albert en besluit toe om Merweville langs te ry aangesien ons die televisiereeks, Die Boekklub, nogal geniet het (dis nog toe ons ’n TV besit het). Op pad na Merweville het die weer verander en toe ons daar aankom, was dit swaar bewolk en sneeukoud. Ons eet by die Boekklub-restaurant waar die diens baie stug was. Die blanke meisie wat ons bedien het, het nie eens een keer probeer glimlag of vriendelik lyk nie. Maar die ontbyt was uit die boonste rakke en die pryse baie billik.

Ek het vooraf geweet dat ek nie op Maandag al kon jag nie aangesien Kobus, Rooiheuwel se plaasbestuurder, Beaufort-wes toe moes gaan vir sake. Dus het ons afgepak en ek het solank my gewere se zero’s “gecheck”. Ons het op ’n gedeelte genaamd Middelplaas gebly in die jagtershuis wat omtrent 50m van Kobus se huis af is. Wat baie lekker is, is dat die skietbaan skaars 20m van die jagtershuis is. En dat daar ghongs is vanaf 200 to 500m (10cm ghong op 200m, 15cm op 300 en 20cm op 400 en 500). Ek het beplan om my .243 te gebruik, ene gebou op ’n Mauseraksie. Dis ’n lekker ligte stapgeweertjie en hy was spot-on vanaf 100m tot op 300m. Ek het een skoot op die 100m-teiken geskiet en toe een skoot elk op die 200 en 300m-ghongs. My .270 het ek saamgevat as back-up, sou ek hom dalk nodig kry. Die res van die middag het ek en Eunia rondgestap op die plaas.

Die Rooiheuwel-eiendom lê tussen hoë berge en is verseker die mooiste Karooplaas waarop ek al was. Daar is ’n rivier (met verskeie vertakkings en sylopies) wat lengtegewys deur die eiendom loop en elke loop is besoom deur digte soetdoringbome – die blyplek van baie koedoes. Trouens, daar is koedoes op al die plase maar die grootste konsentrasie kom in die dele met die groter rivierlope voor. Soos julle op die foto’s kan sien is daar ook baie groot grasvlaktes en natuurlik die ruwe berge.

Kobus en ek (in ons onderskeie bakkies) is 7-uur Dinsdagoggend weg na ’n gedeelte, die plaas Tierhoek, waar ek sou jag. Na 45 minute se veldpaadjies ry het ons by ’n veepos gestop aan die voet van ’n reeks berge. Die jagveld bestaan daar uit ’n grasvlakte met ’n paar droë lopies waarlangs daar ook doringbosse groei. Oral op die vlakte is daar noem-noem, granaatbos, koeniebos, kriedoring, ens.

Nadat Kobus gery het, het ek begin stap en sommer redelik gou twee springbokramme opgemerk wat skuins suid van my, waar die een droë lopie stop, besig was om te wei. Dit was net ’n bietjie meer as 1km van my af. Om die wind in my guns te kry en die lopie se bosse as dekking te kan gebruik, moes ek eers wes stap en het toe suid geswaai al met die lopie langs. Op party plekke was die bosse lekker dig en die lopie dieperig wat my vordering goed gemaak het. Uiteindelik was ek minder as 200m van die een ram af wat reg aan die punt van die droëloop gewei het. Op plekke daar, was die gras lank en die bosse ruig en die ram het gedurig rondbeweeg wat my genoodsaak het om baie stadig vorentoe te beweeg.

Toe beweeg hy tot binne-in die lopie en agter ’n groot bos in. En daar het hy seker goed ’n halfuur lank spandeer. Ek het nader aan die bos beweeg en half verskuil agter ’n soetdoringbos bly staan met die geweer oor die skietstokke. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het die ram uit beweeg en na links voor my verby begin stap. Hy stop toe om oor sy skouer terug te kyk na sy maat toe wat op daardie stadium seker so 250m weg, agter ’n boom verskuil gewei het. Dit was my kans… ek het die kruishaar skuins onder sy oor geplaas en die sneller gedruk. Die Leica het gewys die afstand was 44.3m toe ek dit meet na waar hy lê. Die tyd was kwart voor 10.

Nadat ek die pens uitgehaal en die bok onder ’n bos in die lopie gesleep het, is ek terug na die veepos toe waar ek vir Kobus laat weet het om die bok te kom haal op sy pad terug vanwaar hy draad en droppers vir draadwerkers gaan aflaai het. Ek het toe weer begin stap maar slegs een springbokooi gesien en drie blesbokke. Na ’n wye draai is ek terug bakkie toe om iets te eet en koffie te drink. Terwyl ek by die bakkie was het Kobus opgedaag vanuit die berge aan die noordekant van die plaas. Hy het ’n klompie springbokke uitgejaag wat iewers in die berg gewei het. Sommige van hulle is skuins suidwaarts verby die pos en ander weer noordoos.

Nadat die springbok gelaai is, het ek weer begin stap. Om die suidewind in my guns te kry moes ek eers noord stap na die berge toe dan wes swaai en weer suid stap. Op pad na die berg het ek vier springbokke gesien wat my geruik het, waaronder die twee ramme. Hulle het wes gehardloop. Toe ek my draaipunt bereik, het ek eers ’n ruk gaan sit en met die verkyker gesoek waarna ek stadig suid begin stap het. Die twee ramme is intussen van mekaar af weg en ek het een byna reg wes van my af gesien en hom probeer bekruip. Toe ek nog goed 500m van hom af was, het die ander ram seker so 300m skuins agter my uitgepeul en met ’n boog suid gehardloop verby die ram wat ek wou bekruip. Daardie ram skraap toe die hardlopende een en jaag hom vir goed ’n kilometer suid en weer deur ’n droëloop. Ek het toe maar al met die loop langs suid begin stap en later altwee die ramme opgemerk. Een oos en een wes van die loop. Die een wes, was ver van die lopie af maar die ander een (die een wat gejaag was) het skielik in die geselsskap van twee ooie verskyn en hulle het al nader aan die lopie begin beweeg.

Ek is koes-koes al met die loop langs en het op plekke handeviervoet gekruip. Toe ek weer kyk, was die drie bokke sommer lekker naby en ek het onderdeur ’n doringbos gekruip en op die kant van die loop stelling ingeneem. Die bokke het steeds nader gekom en toe ek die afstand meet, was dit 201m. Al wat ek moes doen, was om te wag tot die bok reg draai voor ek skiet. Die versoeking was groot om vir die kop te skiet maar die oggend toe ons die plaas binnekom, het ons ’n dooie springbok gekry (danksy kraaie wat opgevlieg het) wat ’n jagter die vorige week met ’n kopskoot gekwes het. Gedagtig aan Kobus se ontevredenheid met kopskote het ek besluit om veilig te speel maar ek wou darem ook nie die bok se blaaie stukkend skiet nie. Toe wag ek dat hy reg na my toe draai en skiet hom toe op die wit streep voor in die nek. Dit was nou twee minute voor vier en my jag was verby. Ek het die pens uitgehaal, die bakkie gaan haal en nadat ek die bok gelaai het, is ek huis toe.

Die volgende twee dae het ek en Eunia verskeie dele van die plaas verken en foto’s geneem. Dit is verseker ’n pragtige plaas en beslis een waarna ek sal terugkeer. Die plan is om volgende jaar ’n koedoebul in een van daardie rivierlope te gaan jag.

Die diens op die plaas is baie vriendelik en goed. Kobus en sy twee seuns GJ en Abrie doen die jagwerk saam met jagters. Jy kan stapjag doen saam met Kobus of GJ, voorsit of van die bakkie af skiet. Abrie is 15 en help waar hy kan terwyl GJ verlede jaar matriek geskryf het en nou voltyds sy pa help en ook jakkalse skiet. Die jongman leef vir jag en hy het onlangs ’n thermal-teleskoop by Geno gekoop waarmee hy die jakkalse laat les opsê (ek het van die video’s gesien). Die pryse is billik en die ramme wat ek geskiet het, was lekker groot. Beide het 25kg uitgeslag (daar is ’n klompie jare gelede Kalaharibokke aangekoop en ingesit op Rooiheuwel). Ek het sommer ’n skaap ook gekoop by Kobus-hulle aangesien die prys beter is as dié van die slaghuise. Een van die plaaswerkers het ook vir my die afval geskraap vir R50.

Kobus-hulle is vol bespreek vir hierdie jaar maar dalk is daar iewers vorentoe ’n kansellasie. Kobus kan bereik word by 083-390-2828 (maar slegs saans as daar nie beurtkrag is nie. Daar is nie eintlik selfoonontvangs op die eiendom nie). By die jagtershuis is daar wel wi-fi beskikbaar.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2045
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by Koos Barnard »

Nog foto's van Rooiheuwel
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
KalahariKlong
Hero Member
Hero Member
Posts: 869
Joined: Mon Mar 07, 2011 10:19 am
Location: Kathu

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by KalahariKlong »

Lekker saam gejag. Mooi geskiet soos altyd. Dankie vir die deel oom Koos. Ek is seker daar moet n paar mooi bulle wees onderkant daai berg tussen die bos by die rivier.
User avatar
Lategan1
Hero Member
Hero Member
Posts: 2664
Joined: Mon Dec 05, 2016 9:12 am
Location: Boland

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by Lategan1 »

Springbok in die Karoo onder 50m klits, dit is welgedaan!

Snaaks, my koservaring net voor Covid in daai mooie dorpie was ook nie positief nie. Ook die duurste lamtjops daar gekoop. Kon darem wegraak in die gin bar!

Beste.
Jaggewere, haelgewere, rewolwers, jakkelskyk 8)
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2153
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm
Location: Nelspruit; Mpumalanga

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by Johan Nel »

Pragtige plek en fotos.
Ek het die jagverhaal terdeë geniet. Dankie vir die deel Koos.
Te oordeel aan die aard van die jag, lei ek af dat die rugoperasie 'n sukses was, wat ook wonderlik is.
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
User avatar
Capt. Yoda
Hero Member
Hero Member
Posts: 12793
Joined: Thu Apr 11, 2013 12:35 pm
Location: Ek weet nie so mooi van spel nie maar ek kan skiet. Lonehill, Sandton

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by Capt. Yoda »

Klink na n leker jag Oom Koos, daai eerste foto se ram het n mooi stel horings aan hom. Oom moet maar nie hier in JHB hamburgers bestel nie...
A child of five would understand this. Send someone to fetch a child of five.
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2045
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by Koos Barnard »

Capt die hamburger by The Rude Chef was goedkoop, maar daai twee vytjies, stukkies kaas en halwe roosterkoek sonder botter vir R85 was 'n bietjie dik vir 'n daalder (of miskien moet ek sê dun vir 'n daalder). Maar die jag was baie lekker en die hele ondervinding een wat ek baie geniet het.
Mooi loop
User avatar
win270
Hero Member
Hero Member
Posts: 2052
Joined: Tue Nov 05, 2013 11:53 am
Location: Randburg, Gauteng

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by win270 »

Mooi vertel, Koos. Hou so aan . . . en verby The Rude Chef!! ;D
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 842
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm
Location: George

Re: Karoojag Rooiheuwel

Post by partner »

Baie dankies Koos. Dit Nou baie geniet.
Post Reply

Return to “Algemeen/General”