Overberg Vaalribbokjag
Posted: Tue Jul 27, 2021 4:06 pm
Dagsê
Ek het so twee dae in die Overberg gekamp en vaalribbok gejag. Na die afgelope twee weke se reën en koue is die plek waar ek gejag het baie nat. Water syfer oral teen die bulte af en uit die landerye. Soos sommige van julle weet, is die Overberg mak wêreld waar daar baie koring, canola en ander weidingsgewasse aangeplant word. Dis egter ook 'n gebied wat ryk is aan wild ten spyte van die mens se ingryping. As jy gelukkig is om met die regte mense kontak te maak, kan jy wel baie lekker jag in die Wes-Kaap. Ek het die twee dae terdeë geniet. Behalwe vir vaalribbokke en takbokke het ek duikers, muishonde (twee soorte) rooiborsjakkalsvoëls, kolganse, wildemakoue, witkruispaddavreters, tarentale, fisante, ens, ens, gesien.
Nadat ek vroegoggend uit Stilbaai weg is, het ek na so twee-en-'n-half ure se ry my kamp opgeslaan en toe gou die geweer gaan check. Daarna is ek veld toe, of te wel heuwels toe. Op die eerste dag het die ribbokke my egter ontduik en het ek hulle glad nie opgespoor nie. Op die tweede oggend is ek vroeg na 'n hoë uitkykpunt en het vandaar af die ruens gefynkam met die verkyker. Toe 'n entjie verder gery en drie ribbokke gesien. Ek het die bakkie gaan parkeer buite hul sig en hulle toe met 'n ompad bekruip. Eers het tarentale en later kolganse en wildemakoue my byna weggegee. Op een stadium was ek sowat 150m van die bokke af maar kon hulle nie onder my in die laagte mooi sien nie agv die steil helling en lang gras. Dis toe dat drie wildemakoue my game weggee en die bokke laat hardloop tot oor die 300m.
Ek het so 15 minute doodstil gelê op my maag en toe nader geseil (eers so 20m gekruip en toe verder geseil).
Die bokke het weer rustig geraak maar die ram het met sy gatkant na my toe gestaan en wou net nie draai nie. En toe gaan lê hy en die twee ooie. Die ram natuurlik met sy gatkant toe reg na my toe. Al wat ek kan doen, was om te wag. Ek het nog so 7m vorentoe gekruip om 'n mooi skoon skoot oor die grasspriete te kry en was toe 258m van die ram af. Hy het uiteindelik na 1 uur 20 minute opgestaan en gelukkig dadelik plankdwars gedraai. So gou as wat ek die kruishaar mooi stil op hom kon hou, het ek die sneller gedruk. Die skoot is styf agter die blad in en toe die koeël tref, het die ram sy rug krom getrek maar in plaas van spring of hardloop, vir seker so drie sekondes "gevries" op die plek. Toe steier hy in die rondte en slaan neer.
Ek het my Blaser .270 Win gebruik, gelaai met 140gr Sierra GameKing HPBT-koeëls. Hulle is gelaai voor 49.5gr Norma URP. Ek het nog nie eens die spoed gemeet nie, maar die Sierras groepeer mooi en ek ken die trajek tot op 300m. Toe ek die bok slag, het ek gesien dat die koeël 'n rib op ingang en uitgang getref het. Dit het ook die hart getref en die verste bladbeen reg by die elmboog gebreek. Vleisskade was minimaal en so ook die bloedswam. Dis wat soms so onverklaarbaar is - die bloedswam was veel minder as wat dit was met 'n koedoekoei wat ek met die Grendel geskiet het. Die gat deur die naaste rib was klein en so ook die ingangswond in die hart. Waar die koeël uit is by die hart, was die gat omtrent dubbel kalibergrootte.
Na die fotonemery het ek gou die ram se pens uitgehaal en hom die sowat 300m bult af gedra na die naaste pad. Toe het ek aangestap om my bakkie te gaan haal.
Die kampery was ook baie lekker maar soos te verstane vrek koud, so in die middel van die winter.
Terloops die ram se horings meet 8.25".
Mooi loop