Page 1 of 1

2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:07 pm
by Ebony30-06
Ek sien ons 2017 jagstories is nog min en wil my eerste 2017 jag met julle deel om die jaglus aan te wakker!

Ons het die eerste week in Mei 'n jag gehad op 'n 9 000ha plaas naby Mareetsane. Dit was 'n jag van vele eerstes vir my. Dit was my eerste jag wat in die week plaasvind en daar het nog eerstes gedurende die jag gevolg.....

Ons was erg opgewonde vir die vertrek om aan te breuk plaas toe. Jul ken die gevoel voor die jag, veral as die manne die whats-app groepie so week voor die jag weer warm begin praat en die opgewondenheid geen perke ken nie.

Ons het dag 1 vertrek plaas toe en so deur die oggend het die jaggeselskap meer geword van dorp na dorp soos ons mekaar ontmoet het vanaf Pta na Zeerust. Ons het op Ottoshoop op 'n vriend se plaas gou gestop vir 'n brunch langs die natuurskoon dam wat deur die Molopo oog gevoed word. Een man het sommer 'n bass-stok wat op die dek gestaan het gegryp en gekyk of hy nie ietsie kan hak voor ons aan beweeg nie. Ek was so bietjie bevrees dat ons hier langer gaan stop as wat beplan is, maar die manne se jaglus kon nie geblus of beheer word nie. Na 'n kort stop vir ete het ons die pad weer aangevat via Mafikeng na die plaas.

Ons het op die plaas gekom en die manne was nou eers opgewonde toe ons deur die hek ry. Ons het hier eers bietjie vasgestaan en die natuur beleef.
IMG_4528.JPG
Soos genoem is die plaas groot en is die tog na die kamp redelik lank vanaf die teerpad. Die 20 min se ry na die kamp het gevoel soos 'n dag se ry en oral langs die pad is ons gegroet met wild. Dit was vir ons 'n goeie teken dat ons wel gaan jag met hierdie week uitstappie. Die plaas bestaan uit digbos en vlaktes wat die jag opsies bied vir naby skiet of ver skiet.

By die kamp het die manne vinnig afgepak en het ons gou gou die geselskap in 2 gedeel met 2 jagvoertuie. Ons het oor die reëls ooreengekom mbt ons bakkie walk en stalk metodes asook veiligheid op en van die voertuig af. Daarna is ons in verskillende rigtings die veld in met 2 jagters per bakkie.

Ons was vinnig gegroet met troppe rooibokke en het ook gesien dat hierdie 'n lang afstand jag gaan wees. Ons het na so 30 min 'n rooibokram gemeet op 250m en my jagmaat was op die boks. My woorde met die afstand was skaars koud en hy druk die sneller. Die ram sak net daar in sy spore en die rekening is oop. Na so 15 min se ry kry ons nog 'n trop rooibokramme. Ek is op die boks en identifiseer 'n ram as teiken. Die afstand kom deur op 260 meter en ek pas die Nikon op my 30-06 met 180 gr Accubonds se kruis aan vir die afstand. Ek druk die sneller en die ram sak neer na so 10 meter se hardloop. Ons merk die bossie waar hy geval het en ry nader. ('n kort beskrywing van die vlaktes: Dit is ou lande wat na jare toe gegroei het met lang grasvlaktes en bosse) Toe ons by die merk kom wat ons gedink die ram geval het kry ons niks. Ons ry draaie en loop naderhand draaie. Ek speel die skoot in my kop af en ook die opvolg van die bok deur die teleskoop. Ek het hom sien val sê ek vir myself en die manne. Gelukkig het ons 'n hond vir die spoor en die hond hardloop in die rigting vanwaar die ram gestaan het. Ons roep die hond maar sy wil niks weet van in ons rigting kom nie. Ons loop in haar rigting en tot my verligting staan sy op die ram wat so 30 meter gelê vanwaar ons gesoek het. Die skoot was hoe ek hom geroep het agter die blad.

Na ons die ram gelaai het kies ons weer koers want die lig raak min en ons wil nog jag. Ons kry 'n alleenloper BWB Bul en meet hom op 300m. Ek noem dat ek sal skiet. Hier volg my volgende eerste, my verste skoot op 'n dier nog. Ek raak rustig na my verstellings en druk die sneller. Tiek en geen skoot. Met die opgewondenheid het ek nooit die geweerslot afgedruk nie en aktiveer ek net die haarsneller. Die bul draai vanaf 'n quartering to en kyk reguit vir ons. Ek haal diep asem, maak die slot toe en na ek rustig is druk ek die sneller. Dit voel soos 'n ewigheid op daardie afstand om die doep geluid te hoor. Ek volg deur die teleskoop en sien die skootplasing is waar ek dit wou gehad. Die bul draai rustig om na die skoot en val so 20 meter verder. Een van ons vriende voor in die bakkie skree erg gewonde oor die skoot en wens my jagmaat geluk. Hy sê dit was nie hy wat geskiet het nie en die man kan nie glo ek het die skoot geskiet nie. By die bul gekom pomp die adrenalien erg deur my are en ek aanskou die besonderse bul wat geskiet is. Hy het 130kg uitgeslag
IMG_4498.JPG
Na die fotos het ons weer koers gekies voor donker en kon my jagmaat 'n rooihartbees op 200m skiet. Na die rooihartbees het die donker ons gevang en is ons terug kamp toe na 'n suksesvolle eerste sessie. Ons het die aand lekker gelag en gekuier om die vuur en ook van die sogenaamde arriverings aggressie ontslae geraak wat ons uitgestel het die middag.
IMG_4525.JPG
Dag 2 sessie 1 is ons vroeg uit veld toe weer met 2 bakkies. Ons het bietjie geselskap geruil en weer 2 jagters per bakkie. My nuwe jagmaat het nog bietjie aan bomskok gely van die vorige aand se arriverings aggressie. Ek het weer my 30-06 gebruik en gemsbok was op my wenslysie. Ons het vir so 60 minute agter 'n trop rooihartbeeste aangery. Ons het hul kort kort verloor met die lande wat toe gegroei het. Ons kon nie 'n skoot kry nie en het besluit om ander koers in te slaan op soek na gemsbokke. Na so 30 minute se ry het ons 3 rooihartbeesbulle gekry wat speels rond gehardloop het op 200m. Ons het die bakkie staan gemaak en die bulle dop gehou. Net daar besluit ek dat een van die bulle moet bakkie ry en dit sal dan ook nog 'n eerste vir my wees. Ek sê vir die geselskap dat ek een bul sal skiet sodra hul tot ruste kom na die gespeel. Die een bul het gaan staan op 240m. Na my vertsellings druk ek die sneller met die kruishaar op die blad. Die skoot klink goed en ek volg die bul deur die teleskoop tot waar hy agter 'n bos verdwyn. Ons ry nader na waar hy gestaan het. Ons kry die spoor en bloed. Na so bietjie se sukkel in die lang gras kry ons die bul waar hy so 150 meter verder gehardloop het. Die skoot was op die blad maar die wind het bietjie meer gedruk as wat ek verwag het en die skoot was bietjie vorentoe gewees. Nogtans het die bul geval en kon ek my eerste rooihartbeesbul op my lysie voeg. Die bul het 69kg uitgeslag

Ons het hierna vlakvarke en springbokke gekry maar die lang gras het skote nie moontlik gemaak nie. Die varke het ook teen so 60km/h gewei. My jagmaat het wel 'n springbok geskiet op so 180m. Ons het weer terug gegaan kamp toe en middagete gaan geniet. Almal het hul oggend se jag gedeel en die ander bakkie het meer welslae as ons beleef.

Met ons 2de sessie besluit ek om die 243 te neem vir sy eerste jaguitstappie. Ek en die 30-06 kom al 4jaar en ken mekaar se geite. Ek en die 243 is nog nuwe maats en vind mekaar nog. Ek skiet 87gr Vmax teen 3020fps en het hier ook 'n Nikon waardeur ek loer. Na so 20 minute kry ons 'n vlakvark so 200m voor ons in die pad en ek besluit dit is die ideale eerste kandidaat vir die 243. Ek ken my 30-06 se trajek redelik goed en pas bietjie aan vir die 243 wat platter skiet. Tot my verbasing pas ek nie genoeg aan nie en skiet bo oor die vark. Ek praat vreemde tale in my kop en ons beweeg aan. Rukkie later kry ons 'n gemsbok wat so op 150m staan. My jagmaat, wat heelwat beter lyk, voel en klink, is op die boks en skiet die bul met 'n goeie kopskoot. Die bul het verskuil gestaan tussen bosse en jy kon net die gedeelte van bo sy neus tot sy horings sien. Na die fotos en gesukkel om die bok te laai is ons weer op koers. Ons kry 'n rooibokram op 230m. Ek is weer op die boks en oorskat die trajek van die 243 weereens en die skoot is bo oor. Nou pomp my bloed behoorlik. Ek en die 243 gesels vreemde tale met mekaar. Ons ry nog verder en kry 15 minute later weer 'n ram so op 260m. Ek vat my tyd en doen my berekeninge rustig. Na die nodige verstellings druk ek die sneller en die ram sak net daar neer. Net daar toe is ek en die 243 weer goeie maats. Ons is hierna terug kamp toe en oppad kamp toe het my jagmaat ook weer 'n rooibokram geskiet.

Die aand het ons weer lekker om die vuur gekuier en gelag. Ek besluit ook om my gewere weg te sit vir die res van die jag aangesien ek my kwota geskiet en ek die volgende middag weer huiswaarts gaan.

Die oggend van dag 3 oorreed die manne my om ten minste net nog 'n springbok te skiet en sodoende meer vertroud te raak met die 243. Dit het nie baie gesles gekos nie en die 243 is weer uit die tas. Ons het die oggend nog manne ontvang wat by die jag aangesluit het en 'n heerlike brunch in die bos geniet. Na brunch het een van die nuwelinge saam my op die bakkie geklim en was hy opsoek na 'n rooibok of blesbok. Sy geweer was egter in die kamp en hy het met een van die ander manne se gewere geskiet. Na so 10 minute se ry kry ons 'n rooibokram op 190m. Hy druk die sneller en die bok sak nie. Dit is 'n kwes en die bok verdwyn in die ruigtes. Hy en die gids verlaat die bakkie en is te voet agterna. Ek sit so rukkie en besluit om die bakkie vorentoe in die koelte te trek aangesien die son 'n man se bles kwaai aanval so met die stil sit op die bakkie. Na so 30 minute begin daar rooibokke so op 100m om my speel. Ek speel so jag deur die teleskoop met die bokke met die slot wat oop is want ek soek mos eintlik net 'n springbok. Na nog 15 minute se loer deur die teleskoop besluit ek as een van die ramme my 'n skoot gee gaan hy ongelukkig moet bakkie ry. Eweskielik staan daar 'n mooi ram in die oopte. Ek maak die slot toe en druk die sneller rustig met die kruis agter sy oor. Die ram sak net daar neer. Nou begin ek en die 243 nog beter vriende word. Toe ek nader aan die ram loop het die res van die trop eers weggehardloop toe ek so 30m van hul af is en besef ek die silencer werk ook goed. My jagmaat was glad nie beindruk toe hy na 2 ure se soek terugkeer bakkie toe en sien ek het 'n ram geskiet terwyl hy weg was nie. Ons het weer koers gekry en het op 'n trop blesbokke afgekom. Ek range die jong ram aan die agterkant van die trop op 200m. My jagmaat druk die sneller en ons hoor die bekende doep geluid. Die trop is nog rustig en die ram loop ook rustig. Die gids identifiseer dat die skoot te ver terug is en deur die maag is. My jagmaat sê toe dat hy ook uit patrone is en ek moet asb vir hom die doodskoot gee. Ek wag dat die ram uit die trop beweeg en druk die sneller met die ram op 220m. Die Vmax slaan mooi vas agter die blad en die ram sak neer na so 15m se rustige loop. My jagmaat is net te dankbaar hy het nie nog 'n bok in die veld gelos nie en ek is al hoe meer in my noppies met die 243.

Hierna het ons terug beweeg kamp toe en kon ek so 7uur die aand koers inslaan huis toe met die karkaste in die sak op die bakkie gelaai. Oppad huis toe het ek heerlik besin oor my wonderlike jag ervaring en die voorreg wat ons het om so te kan jag in God se natuur. Die ander manne het op dag 5 die jag tot halt geroep en koers geslaan huis toe. Dit was vir ons 'n baie lekker jag saam vriende met goeie geriewe en goeie jag ervarings.

Groete,

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:09 pm
by Ebony30-06
Nog so paar fotos:
IMG_4508.JPG
IMG_4522.JPG
IMG_4524.JPG

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:27 pm
by Swede
Geluk Danie met die mooi uitstappie, mooi geskryf ;D

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:40 pm
by Springkudu
Uitstekend!!! Ek wag nou al hele seisoen vir 'n lekker jag storie en uiteindelik is hier een. Baie geluk met jou sukses!!!

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:53 pm
by ruaanb
Lekker man lekker!

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 12:56 pm
by OupaZA
Baie geluk!!

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 1:21 pm
by Gideon Burger
Lekker om so tydjie by die werk weg te vat en jag stories te lees. Maak my natuurlik jaloers en by die werk sit is nou glad nie lekker nie.

Snaaks hoe mens die storie in detail in jou kop af speel asof ek self daar was!

Groete

Gideon Burger

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 1:34 pm
by Stephan86
Lekker storie en geluk met die bokke.

Baie dankie vir die deel van jou storie.

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 2:18 pm
by win270
Baie goed gevaar!! Op baie plase word alle jag gestaak terwyl 'n kwesdier gesoek word.

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 2:45 pm
by Eduard Venter
Geluk met die suksesvolle jag. Klink sommer baie lekker.

Groete

Sent from my LG-H735 using Tapatalk

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 3:34 pm
by FrancoisW
Was lekker om alles oor die foon te hoor en nog lekkerder om te lees. Sien uit na ons jag oor 2 weke.

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 4:09 pm
by Ashley
Baie mooi bokke daar. Geluk!
Dankie vir die storie.

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Wed May 31, 2017 6:25 pm
by Jaco B
Baie geluk en goed vertel, ek leef myself sommer lekker in jou storie in.
Ps. Het jy darem nog geld oor vir "gewone kos" na aal daai geskiet. >:+

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Thu Jun 01, 2017 8:40 am
by Ebony30-06
Dankie Manne!

Daar is min dinge so lekker om in die natuur te wees en dan nog so bietjie buskruit tussen in te ruik.

Laastens wil ek noem dat tussen 7 jagters daar 34 stuks wild gejag is in die 5 dae wat 'n 58 duim koedoebul, BWB, Rooihartbees, springbok, blesbok, waterbok, zebra, gemsbok en rooibok insluit. Die plaas het ongelooflike mooi diere en ons was beloon met goeie vleis en gewigte as biltongjagters. Ek het op dag 2 ophou tel hoeveel keer ons nee gesê het vir skote op rooibokke want daar was baie.

Groete,

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Thu Jun 01, 2017 9:01 am
by Flip Nel
sjoe mooi bokke dankie vir die deel.

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Thu Jun 01, 2017 10:13 am
by Capt. Yoda
Lekker!!

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Thu Jun 01, 2017 10:35 am
by Bonzai
Danie jy weet ook net hoe om n man se bek te laat kwyl, baie geluk!

Re: 2017 Eerste Jag

Posted: Thu Jun 01, 2017 11:08 am
by tau
Lekker man.

Ek dink ek ken die plaas waar jy gejag het.