Page 1 of 1

2016 Jag ervaring

Posted: Fri Aug 05, 2016 3:46 pm
by Ebony30-06
Dag Almal,

Jag 1 van 2

Ek het die paar jagstories en oomblikke tot dus ver hierdie jaaar geniet en het dit goed gedink om my 2016 jag jaar met jul te deel.

Ons het einde April ons eerste jag gehad in die bosveld naby Dwaalboom. Dit was ons jaarlikse familie jag wat bekend staan as die "pa en seun jag", alhoewel die term nou al moet verander met die kleinkinders wat al saam gaan asook my dogtertjie, die enigste niggie in die groep. (Ek het 'n tweeling seun en dogter van 5 jaar en sussie hou van die jag uitstappies. Ek kry dit nie oor my hart om haar tuis te los as sy die bos ook geniet nie, nou al jaar 2!)

So kom ons die Woensdag op die plaas. Kinders is uit hul velle om die nefies en niggie weer te sien en die spreekwoordelike uur lange chaos en malheid vind plaas terwyl die pa's die bakkies aflaai en gewere reg kry vir die eerste sessie.

Ek is die Woensdagmiddag veld toe met my 30sukses gelaai met 180gr Nosler accubonds teen so 2500fps. Kry die middag laat 'n mooi alleenloper BWB-bul van so 26duim. Skoot loop op 60m mooi deur die longe. Hier leer ek weer die diere kan nie onderskat word nie aangesien ons nog so paar 100 meter op bloed moes loop. By die slag kamer sien ek wel dat albei longe goed getref is, maar die diere is nie jou maat nie.

Die Woensdagaand kuier ons lekker om die vuur met die kinders en ek is tevrede dat my rekening oop is vir die naweek. Donderdagoggend is dit my beurt om skof te vat in die kamp met die kinders wat nie wil uitgaan veld toe. Ek is die middag weer veld toe, die keer met boog in die hand asook die geweer. In die hide gekom kry ek my boog en toerusting reg. Ek is erg opgewonde en gereed na die maande se oefening met die boog vir die eerste BWB wat ek met die boog kan skiet. So uur of so se wag toe kom die alleenloper bul in. Ek raak rustig en aanskou die dier se pragheid. Die hartklop gaan vinniger en ek raak effens rustiger voor ek die boog optel. Ek span die boog en die pyl vlieg op 20 yards. Die skoot val effe voor maar ek sien dat die skoot goed genoeg is vir die enjinkamer. Die bul spring weg met die pyl nog in hom. Ek sien op so 80 yards toe hy bos in is die pyl steek nog bietjie uit op die ingang, maar die bloed lyk goed. Kyk nou pomp die bloed en adrenalien deur die are en ek kan my blydskap nie beheer nie. My eerste BWB met die boog. Ek raak rustiger in die hide en gebruik die tyd om deur my skoot te werk. Ek gebruik ook die tyd om dankie te sê vir die voorreg om in Sy natuur te kan wees en die sport te kan beoefen. Sowat 60 minute gaan verby en die plaasbestuurder laat weet dat hulle my bietjie later gaan kom kry. Ek laat weet dat ek net op die spoor gaan loop want die lig word min. Die plaasbestuurder bevestig dis reg en ek moet kyk of ek nie nog iets kan skiet nie.

Ek is uit die hide uit met die geweer en begin die spoor vat. Gevoel is nog goed en ek verwag om die BWB net in die bos te kry. Terwyl ek op die spoor loop kom daar nog 2 BWB bulle oor my pad. Ek gaan sit op my agterstewe en dink by myself dat ek 3 BWB'e moet skiet die naweek en beter kan ek nie kry om dit in my eerste 2 sessies te kry nie. Ek maak myself gereed met die geweer en die skoot loop op so 70m op die blad. Ek sien deur die scope dat die bul mooi reageer op die skoot en die bul hardloop daar weg en in die pad af op 'n stadium. Ek sit rustig en voel goed oor my skoot. Die skootplasing was waar ek wou gehad het. Ek sit so 15min en loop na waar die bul gestaan het. Ek kry dadelik bloed en die tekens lyk goed. So 20 meter op die spoor kry ek bladbeen en die bloed se kleur lyk ook belowend. Nou loop die adrenalien. Die bakkie kom net voor donker daaraan. Ek en die een gids loop so vinning op die BWB met die pyl se spoor en ons sien waar hy in die ruigtes in is. Ons besluit toe dis te donker en sal more oggend die spoor verder vat. Ons kry goeie bloed en is positief om die bok te kry. Ons gan toe op die 2de BWB se spoor. Steeds is ek opgewonde dat ons hierdie een nou gaan kry. Sy spoor draai in die ruigte bos in vanaf die pad en dit raak te donker. Na bespreking met die plaasbestuurder besluit ons dat dit beter sal wees om altwee diere more oggend te soek en op te spoor na aanleiding van die goeie bloed. Hier begin my gemoed bietjie val. Ek het nog nooit 'n dier oornag in die veld gelos nie en nou het ek sommer 2! Die aand om die vuur was die opgewondeheid nie vergelykbaar met die vorige aand nie. Ek begin in my kop stoei en vra myself af hoekom was ek oorhaastig met die 2de skoot as ek nie 100% seker is die eerste in hang in die koelkamer nie. Ek maak myself egter bietjie rustiger dat ons wel albei diere gaan kry want die skootplasings was voldoende.

Vrydagoggend is ons met eerste lig veld toe. Ons begin dadelik die spoor van die BWB vat wat met die pyl geskiet is. Steeds kry ons goeie bloedspoor en kom na so 45 min se loop op ‘n plek af waar daar baie bloed is. Die bloed lyk soos longbloed wat deur die neus kom en ek kry sommer bokkoors van opgewondenheid. Ons volg die spoor en besef later ons loop in ‘n sirkul wat die dier geloop het. Daar hou ons spoor op. Daar is baie bloed en dit lyk asof die dier hier moes beswyk het, maar ons kry geen karkas nie. Ons kry ook nie die plek op die sirkul waar die spoor wegbreek nie. Ons begin die bos fyn kam om die bloed en kry niks. Ek, die gids en die plaasbestuurder is stom geslaan. So goeie spoor en geen karkas. Ons brei ons soek area al weier uit. Telke male kry ons spoor wat ons terug vat na die sirkul toe. Ek het daardie sirkul seker 30 keer die oggend gestap opsoek na die uitgang spoor of bloed. NIKS. My hart en moed sak in my skoene.

Ons besluit so rondom 11:00 om ons by die ander soek geselskap aan te sluit wat op die BWB se spoor is wat met die geweer geskiet is. Ons kry goeie bloed en selfs bloed wat met slym gemeng is wat ons motiveer. Hierdie spoor volg moeiliker en ons sukkel aan. Weereens bereik ons ‘n punt waar die bloed en spoor verdwyn. Nou is my gemoed in sy kanon en ek is naar vir myself! Weereens versprei ons die soek area waar ons die laaste bloed gekry het en begin die ruigtes fyn kam. Weereens NIKS! Ons besluit so 13:30 om te breuk vir ‘n vinnige ete. Ek en die plaasbestuurder bespreek oppad kamp toe die oggend se verrigtinge en gebeure en is stom geslaan dat ons niks kon kry nie.

Ek het swaar gesluk aan my ete en ons is so 14:00 weer die veld in. Die keer ek, die plaasbestuurder en ‘n hond wat nog besig is om opgelei te word vir spoorsny. Ek is effe opgewonde en hoop die hond kan darem op die bloedspoor iets of die karkas ruik. In die veld gekom by die pyl wildebees is die hond dadelik op die bloedspoor en my gemoed tel op. Egter verniet. As ons die hond kry is hy agter ‘n patrys of iets aan en glad nie op ‘n wildebees spoor nie. Ons sukkel so deur die ruigtes met die hond agterna met die hoop om die karkas te kry want ons kan nie glo die dier lewe nog met die bloed en spoor wat ons laaste gekry het nie. Weereens lewer die soektog niks op nie.

Ons besluit toe na so uur en half dat ons die hond op die ander spoor gaan toets. Als het goed begin tot waar ons die laaste bloed gekry het. Weereens het die hond nie baie gehelp nie. Hy het wel in hierdie soektog daarin geslaag om ‘n patrys te vang, MAAR geen BWB. 17:00 daardie middag toe roep ons die aftog. My gemoed is verlore en bene is lekker moeg gestap. Daardie aand is ek erg naar met myself aangesien dit die eerste keer is wat ek ‘n dier in die veld los. Wat doen ek, ek los sommer 2 op een slag.

Die Saterdag is ek nogsteeds effe mismoedig en ry saam om die manne op hul betrokke punte af te laai. Ek spaandeer toe ook eerder meer tyd saam die kinders die dag aangesien ek die vorige dag hierdie geleentheid gemis het met my heeldagse soeke. Ek het darem die Saterdagmiddag die geleentheid gekry om ‘m rooibokram te skiet en my gemoed effens te verhelder.

My opsomming van die jag is dat dit weereens ‘n voorreg is om saam familie en in besonders my kinders ‘n stokperdjie te beoefen wat na aan my hart lê. Ek het ook geleer dat enige iemand kan kwes, jy kan nie genoeg oefen om dit te vermy nie en die belangrikste is dat dit glad nie lekker is om ‘n dier in die veld te los nie. In die toekoms sal ek nie skoot 2 vat alvorens ek 100% seker is die eerste skoot/dier is gedood sonder lyding.

Ek vertel later meer van my tweede en laaste jaguitstappie……

Groete,

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 9:57 am
by JDKey
Jammer oor die 2 bwb'e wat jy verloor het, hulle is taai diere. Nie verniet die arm man se buffel nie.

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 12:35 pm
by J le Roux
Danie, dankie vir jou storie. Ek het so gehoop vir 'n goeie einde, maar waardeer baie dat jy die slegte ervaring op die ken vat, jou kop optel en met ons kom deel sodat ons ook daaruit kon leer. Willebees se kind het laasjaar ook so met my gemaak, en glo my, met heelwat ander jagters ook.

Ek is bly jy het darem die tyd saam met jou familie geniet.

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 1:07 pm
by FHM
Jislaaik Danie ou maat - dis nou jammer nadat ales so lekker op sy kop begin het. Ai wat kan mens se - ek weet hoe spook daai bokke by jou in die aand. Die enigste manier om hieroor te kom is om maar net reg te maak vorentoe en alles in jou vermoe te doen om die beste skoot moontlik neer te sit. Die dag as die jag gode mens in die steek laat kan dinge onverklaarbaar aanmekaar verkeerd loop - ek was ook al daar en glo hier is baie manne wat saam jou voel.
Sterkte ou maat. Ten minste klink dit of die familie dit darem geniet het saam jou daarso. ;)

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 1:35 pm
by Ebony30-06
Jag 2 van 2

‘n Paar van ons werkskollegas het besluit om in Julie iewers op dieselfde plaas te gaan jag waar ons familie jag was. Ek het gewonder of die plaaseienaar my weer daar sou toelaat na my flaters…..

So bietjie agtergrond voor die jag storie….

Ek was erg negatief met myself na die April jag omdat dit my duurste jag met die minste vleis nog was, maar meer belangrik omdat ek diere in die veld gelos het! Ek besluit toe dat ek net nog meer op die skietbaan moet kom en die verskillende jagposisies meer moet oefen as die gewone skiet vanaf die skiettafel. Ek het ook in tussen oorgeskakel na nuwe lot S365 toe so lading ontwikkeling was aan die orde van die dag.

Ek besluit toe om my koekresep ook so ietwat aan te pas wat TPL betref en te kyk of ek nie met die nuwe ladings nog kleiner groepe kan skiet nie. Ek begin toe maar die proses so te sê van voor af aangesien ek nog lekker keelvol is vir myself oor die jag. (ek besef my vorige resep was nie die oorsaak van die kwes nie, maar ek moes myself net weer regruk van voor af!) Ek pas my TPL aan sodat ek so 1.5mm van die lande af is en ek laai so paar “toets” patrone om data in te win vir die QL manne. So kry ek my spoed en te danke aan CarelG en oom Driepoot kry ek die nodes. Ek besluit toe om op die node te skiet wat so 2 490fps met die 180 greiners jaag.

Ek gaan skiet weer so paar toetse om te kyk of ek op die regte pad is. Die aanbevelings deur die manne hierbo werk toe 100%. Ek gebruik my nuwe resep en laai sommer BAIE patrone om die oefen en selfevertroue reg te kry. Ek het ook nog ‘n hele paar van my vorige gelaaide patrone gehad en besluit hulle gaan almal werk doen op die papierbokke sodat ek met meer vertroue die jag kan aandurf.

Tussen die bogenoemde prosesse en tyd sien ek die drade op ons forum van kwesbokke, kopskote en nog jagstories. Manne, het dit my kop aan die hol gehad! Ek voel vir die manne wat as plaaseienaars praat omdat ek paar vriende het wat plase het en al oor dieselfde stories gepraat het, maar ek voel nog meer vir die manne wat agter die kettie gestaan het, want EK was daar. Ek besluit toe dat ek nie genoeg kan oefen vir ‘n jag nie en kom so eenkeer ‘n week by die skietbaan uit om my vertroue en vermoëns nog skerper te kry. Ek en die 30sukses raak weer baie goeie vriende en ek skiet die een dag ‘n 3-skoot groep van 18mm op 100m. Ek het gepoog vir ‘n 5-skoot groep, maar sjo die oomblik raak groot en ek eindig met ‘n 5-skoot groep van 50mm. Ek oefen dan ook weekliks die verskillende jagposisies wat die bosveld vir ons kan voorsê. My selfvertroue is weer goed op dreef en ek voel reg vir die jag na die 2 maande se harde oefen.

Terug by die jag storie…..

Soos genoem is die jag saam kollegas en die manne is vol aanmerkings en grappe oor my vorige jag. Party dae raak man kwaad ander dae lag jy dit af. (Gelukkig was dit goeie motiverings vir die oefen).

So vertrek ek die Woensdagoggend na die jag. Van die manne is al daar en die ander kom so in drips en draps. My gemoed is weer hoog en die selfvertroue is ook weer reg. Ek kom toe so brunch tyd op die plaas en die twee manne wat reeds daar is kom ook net uit die veld om die pense reg te kry vir die volgende sessie.

Na ete is ons uit veld toe. Ons was eers skietbaan toe omdat een van die manne net sy “zero” wil gaan bevestig op sy een kaliber. Hy het nuwe maak ammunisie gekoop, maar die greine was dieselfde. Die plaasbestuurder bevestig toe dat as ons iets kry ons wel van die bakkie af kan skiet. (Ek hoop nie hierdie maak nou weer die etiese jag debat oop nie) Die man met nuwe ammunisie sê hy is eers uit en ek sê ek sal reg wees indien iets te voorskyn kom. Ons kry toe 3 BWB bulle so ent voor ons in die pad. Ons ry rustig nader en ek maak die bakkie staan op so 100m. My geweer se bipods rus lekker op die skietraam en ek voel baie “steady” met die aanlê. Die diere is ook baie rustig. Baie dinge gaan deur my kop, onder andere die kopskoot draad op die forum en die 2 vorige BWB kweste. Ek raak rustig en sien ook dat die bul waarop ek aanlê rustig is. Ek laat die kruis tussen sy oë rus en vuur die skoot af…..

Ek sien deur die teleskoop hoe die dier se voete onder hom invou en net daar neersak. Ek kan ongelukkig nie die woorde op die forum herhaal wat gesê is na die skoot nie! Ek self wil uit my vel uit spring. Dit is my eerste kop skoot en ek het weer sukses op ‘n blouwildebees na April. Ons het by die bok paar fotos geneem en stories gedeel mbt kopskote en BWB jag/skiet oor die algemeen.

Oppad skietbaan toe het ek probeer rustig raak en dankie sê vir die voorreg en ook die geleentheid om te kon oefen om meer suksesvol te kan jag. By die skietbaan het die jagter sy nuwe patrone geskiet op 100m om seker te maak sy geweer is reg vir die jag. Ek het deurentyd op die bakkie gebly terwyl die man sy geweer en patrone uitsort op 100m en sy skote “gespot”. Na paar skote was hy tevrede en die groepe het goed gelyk. Ek voel toe nogsteeds op ‘n “high” na my BWB en noem vir die manne wat agter my staan dat ek net een skoot op die baan, sommer van die bakkie af, wil skiet. Die skoot loop en ek is weer in my skik met die skoot wat so half duim regs langs die “bull” is. Manne, daardie gevoel van selfvertroue is moeilik om te beskryf. Ek besef net weereens dat mens nie genoeg kan oefen nie en dat skiet, soos enige sport, selfvertroue behels. Jy moet vertroue in jouself asook jou toerusting en vermoëns hê.

Ek was die 2de middagsessie weer veld toe. Ek het ‘n mooi rooibokram gewaar wat net te ver is vir ‘n skoot wat ek op daardie oomblik gemaklik mee gevoel het. Ons het so kat en muis met mekaar gespeel vir seker so 45 min. Die wind was gelukkig heeltyd in my guns. Daar het toe ook op ‘n stadium ‘n trop blesbokke na my begin stap. Aangesien die wind in my guns was het ek besluit om myself gemaklik te maak en die te kyk of die rooibokram nie wil saam loop nie. Gelukkig het dit gewerk en die ram het saam die trop begin beweeg in my rigting. Hy het op so 40m gaan staan vaanwaar ek die skoot gevat het. Weereens sien ek die bok val. Die blesbokke was so verwar dat hul nie weet van waar die skoot gekom het nie. Na so wat 15 min het ek na die bok geloop en gesien die skoot het mooi gegaan waar ek gemik het. Ek was alleen en het die bok mooi reggekry vir paar fotos met die geweer saam. Terwyl ek vir die plaasbestuurder gewag het, het daar ‘n troppie elande op my afgeloop gekom. Weereens was die wind in my guns.

Nou hier is waar die natuur so wonderlike ding is om te kan aanskou. Ek het op my hurke gesit so effe in die pad toe ek die elande gewaar. Die koei voor het rustig aangestap gekom en ek het besluit ek wil kyk hoe naby kan hulle aan my kom. Sy het op so 60m gesien daar is iets in die pad. Sy het vasgesteek, my uitgekyk en weer nader begin stap. Die res van die trop was so 20m agter haar. Hulle was bietjie meer agterdogtig maar het nader gekom soos wat sy gestap het. Sy het kort kort gestop, my gekyk en dan nader gekom. Ek het so stil moontlik probeer sit. Ek het gedink sy gaan hardloop op so 20m van my af maar sy het nog nader gekom. Dit was besonders om hierdie groot dier van so naby af te beleef. Op ‘n stadium was ek bekommerd hoe sy sou reageer indien sy wel vir my skrik en ek het geen skuiling om my gehad nie, veral nie op die kort afstand wat ek en sy uitmekaar was nie. Toe sy op so 15m was het ek besluit om stadig op te staan want ek wou nie graag gestorm word indien sy besluit sy vlug nie maar baklei. Die koei het rustig weg gedraf. Die trop was so 80m van my af die bos in. Wat ‘n belewenis!

Ons het daardie middag besluit ons gaan eers ‘n kouetjie geniet in die veld waar die laaste dier geskiet en gelaai is. Daar is min dinge wat kom by dit om so in die natuur te wees. Daardie aand by die vuur in die kamp was die lag en gesels en grappe ‘n goeie afsluiting vir ‘n geseënde suksesvolle dag.

Ek het die Donderdagoggend weer uitgegaan veld toe en was bevoorreg om ‘n rooibokram van 24duim te skiet. Ek het voor die tyd baie diere raak geloop wat nie op die skietspyskaart was nie, onder andere koedoes, jong waterbok bulletjies en ‘n paar zebras. Ek het op ‘n stadium by ‘n watergat gaan rus en daar het 2 besonderse rooibokramme in gekom. Ek skat hulle 25duim plus. Ek het lanklaas so bokkoors gekry. Ek het die een ram deur my scope dop gehou en gedink ek kan dit nie oor my hart kry om so besonderse dier so te skiet nie. Die enigste skoot wat ek gehad het is waar hy gestaan en drink het. Ek kon net kopskoot gaan en indien suksesvol sou hy binne in die water val. Ek het toe besluit dat ek nie hierdie keer die skoot sal neem nie. Ek sal so besonderse trofee ram op ‘n ander dag op ‘n ander manier skiet. Die laaste groep manne het laat Donderdagoggend by ons aangesluit en die geleenthede het minder geword aangesien die veld net soveel jagters kon vat. Ek was egter te vrede aangesien ek reeds ‘n suksesvolle jag ervaar het. Ek is die Vrydagoggend dou voor dag weer terug huis toe.

Dit sluit dan my 2016 jagervaring af. Dit was ‘n jaar van gemengde gevoelens. Ek het wel besef dat ons nie meer dankbaar kan wees vir die voorreg om te kan jag en meer in die natuur te kan wees nie.

Ek sal ook seker maak dat ek meer deurlopend by skietoefeninge uitkom om seker te maak ek kry genoeg en voldoende oefening in. Gelukkig het ek onlangs ‘n 243 aangeskaf so die lading ontwikkeling en gebruik van die nuwe “speelding" is in die orde van die dag.

Groete,

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 1:44 pm
by FHM
Daarshy Danie - respek maat - so sluit mens jou jagseisoen af - op n high. ;)

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 1:55 pm
by Ebony30-06
FHM wrote:Daarshy Danie - respek maat - so sluit mens jou jagseisoen af - op n high. ;)
Dankie Francois. Dit is baie soos my gholf. Speel 16 gate soos my g@t en die laaste 2 gate gaan weer beter sodat man weer lus voel om volgende keer terug te kom.

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 2:23 pm
by Frederik
Danie vir die deel maar ek stem glad nie saam oor die golf nie vir my persoonlik het ek baie meer beheer oor skiet as daai damn dimple balletjie.

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 2:24 pm
by ruaanb
Dankie vir die deel Danie. Jammer oor die kwesbokke dit is nooit lekker nie.

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 4:01 pm
by henning
Dankie Danie, lekker lees storie.

Groete
Henning

Re: 2016 Jag ervaring

Posted: Mon Aug 08, 2016 4:54 pm
by toelie
Lekker as n man die jag seisoen kan af sluit met n goeie skoot of 3, het self n rooibok gekwes die seisoen en voel bitter sleg daaroor. Darm saterdag my eland suksesvol gejag met n brein skoot en dit laat n man darm bietjie beter voel. Vat n groot man om te vertel van n kwes skoot en het respek daarvoor. Ons almal maak maar voute na ure en ure se oefening en voorbereiding.