Eerste kudu
Posted: Sun May 10, 2015 7:22 am
Ek was die naweek bevoorreg gewees om my eerste kudu te skiet. Flip Nel het so 'n tydjie terug 'n jag opsie aangebied a la boerdery styl. Dus geen fancy lodges of iets nie, net 'n plaas waar daar bees geboer word en as jy gelukkig is kan jy dalk ietsie kry om te skiet. Nou ja na 'n paar toets skote en draaie se ry word ek by een van die grond damme afgelaai om in die hide voor te sit terwyl die manne aangaan met die plaas werkies. Voor ons verder gaan moet ek ook noem ek het kans gekry om 'n skoot met Flip se 9.3 te skiet. Daai ding skiet dat die spoeg spat en het bitter goeie penetrasie. Terug by die storie. Daar staan ek en kyk 10m op teen 'n leer om in die hide te kom. Geen probleem tensy jy aan ligte hoogtevrees ly maar my motiveering is reg so ek trotseer die bangheid en wen die klim sessie. En daar begin die wag. Gelukkig het ek so 'n paar geweer tydskrifte saamgevat om die tyd te verwyl... 'n Paar ure later kry ek kans op 'n vark en skiet mis aangesien ek so bietjie opgewonde word en daai sneller trek asof dit nog 'n sportjie aan die hide se leer is. Vark 2 was egter nie so gelukkig en ek help hom die leer na groener weivelde klim met 'n skoot mooi tussen die oe. Nog tyd gaan verby en ek hoor 2 skote in die verte. Flip laat weet hy het so 'n draai gery en 'n kudu gekry. Hy moet julle maar self vertel hoekom daar 2 skote geskiet is... Nou teen die tyd is dit al laat met nog so 'n uur of wat se lig oor. Ek maak gebruik van die laaste lig om nog bietjie boek te lees en toe ek weer my kop lig om die area te monitor soos ek elke paar minute maak, staan meneer kudu in die oopte. Dit is maar 'n jong bulletjie en ek sak agter die geweer in om hom beter te kan bekyk. Nou begin my hart goed klop. Die kruis is op die koedoe se blad maar ek het dit in my gedagtes dat Flip my gese het ek moet geduldig wees want kanse is goed daar sal 'n groot bul ook wees maar dat hulle agter hou en eers sal uitkom na die ander jonger kudus al in die oopte is. My moed begewe my egter siende dat dit laat is en mama nie mooi gaan verstaan as ek na die naweek sonder vleis by die huis kom nie. Ek maak seker die kruis is op die veilige driehoek en druk die sneller. Die skoot loop en die spartan slaan dwarsdeur die kudu dat die stof spat. Daar vlie kudu se kind met 'n vaart weg asof niks sopas sy enjin deurmekaar gekrap het nie. Nou twyfel ek. Ek het dan so mooi gekorrel en alles reg gedoen en die stof het beslis agter die bok uitgeslaan nie bo of onder nie. Boonop voel die skoot dan reg nou hoekom val hy nie net daar in sy spore neer soos in die boeke nie? Na ek weer die leer trotseer en 75m verder ondersoek instel, sien ek wat lyk soos long bloed maar ek kry nie die kudu voor die son onder is nie. Gelukkig het Flip bevoegte mense en na hulle ons by die huis aflaai gaan soek hulle weer die bok. Einde ten laaste kry hulle my bok so 200m van waar die skoot hom getref het. Met die afslag het ek na die longe gekyk en daar sit 'n mooi groot gat dus lyk dit darem of die patroon sy werk gedoen het so dalk was die kudu maar net besonders fiks. Dankie Flip vir 'n heerlike naweek.
//images.tapatalk-cdn.com/15/05/09/7ff3bbe64655a5373c8864014341d26f.jpg
//images.tapatalk-cdn.com/15/05/09/52b70d67910aed9e900aab85cf187132.jpg
//images.tapatalk-cdn.com/15/05/09/52b70d67910aed9e900aab85cf187132.jpg