Ek het so bietjie op die internet rond gekrap en die volgende inligting gekry, wil dit graag met julle ouens deel.. Lees dit, dis noggals interessant!
GARY LAUBSCHER
As ’n mens reg deur die jaar saam met verskillende mense jag, kom jy agter die meeste van hulle maak foute sonder dat hulle dit besef. Ek jag reg deur die jaar saam met jagters vir wie ek roofdiere inroep om te skiet. Ek het ook te make met jagters, roofdierroepers en boere vir wie ek kursusse aanbied.
Van die algemeenste foute is dat mense te veel keer dieselfde geluide op dieselfde plaas gebruik, wat die jakkalse slim maak. Jagters gebruik ook geluide wat hulle nooit behoort te gebruik nie.
As ’n mens met jagters praat, sal baie vir jou sê dat jakkalse se voortplantingsiklus verskil van streek tot streek. Dié aspek moet in gedagte gehou word om te bepaal watter roepgeluide jy moet gebruik.
Die meeste mense wat probleemdiere jag, gebruik handroepers, ’n CD met ’n paar geluide daarop, asook ligte. Hulle gaan laatmiddag uit en ná donker begin hulle roep. Baie van hierdie jagters ken nie die fyner punte van probleemdierjag in die nag nie en steur hulle ook nie daaraan nie.
Toe ek probleemdiere begin roep het, was dit makliker om ’n fluitjie (handroeper) te neem as ’n groot elektroniese CD-speler. Dié metode is goed genoeg as jy net katte jag. Van Januarie af tot Maart sal ’n mens ook jakkalse kan roep met die geluid van ’n bok of ’n haas. Vir groter welslae moet jy ander geluide tot jou arsenaal toevoeg. Die verskeidenheid geluide sal ’n groter aantrekkingskrag vir jakkalse hê in die verskillende tye van die jaar, soos tydens paartyd.
Daar is jagters wat beweer hulle gebruik ’n handfluitjie reg deur die jaar sonder probleme. ’n Mens kan dit só doen, maar ál wat jy dan doen, is om van al jou dom jakkalse ontslae te raak. Die slim jakkalse sal agterbly.
Deur jakkalse se siklusse te ken en te weet wanneer om watter roepgeluide te gebruik, sal ’n mens groter welslae behaal – ook met die slimmer jakkalse. Die volgende riglyne kan gebruik word om te bepaal watter geluide wanneer in die jaar gebruik moet word:
• Van Januarie tot middel April is dit jakkalse se sosiale tyd. In dié tyd sal ’n mens geluide moet maak wat klink soos jakkalse se “geselsery”, of dié wat hul prooi maak, byvoorbeeld haas-, bok- of varkgeluide.
• Van middel April af tot einde Augustus is dit jakkalse se teeltyd. In dié tyd moet uitdagende geluide gebruik word. Van Julie af kan die tjankgeluide van ’n wyfiejakkals saam met die uitdagende geluide gebruik word. As die kleintjies in Augustus gebore is, kan geluide wat jakkalse se prooi maak, ook gebruik word.
• In September (die kleintjies is dan gebore, maar steeds in die nes) en Oktober (die kleintjies kom net ’n paar minute per dag na buite) sal die grootste welslae behaal word met die geluide van jakkalse se prooi.
• In November en Desember is die klein-tjies buite die nes en sal die geluide van klein jakkalsies die meeste sukses verseker.
Jagters moet dié riglyne aanpas vir die streek waarin hulle jag. Die teelsiklus wanneer die jakkalse begin rondloop, begin in die meeste streke in die tweede helfte van April, maar daar is streke waar die siklus eers laat in Mei begin.
Dit is baie belangrik dat ’n mens aantekeninge maak van watter geluide jy waar gespeel het sodat jy volgende keer nie dieselfde klanke weer daar gebruik nie. Op ’n plaas met baie probleemdiere moet ’n mens byvoorbeeld eers ’n regte jakkals-“geselsery” gebruik en daarna die geluide van ’n varkie.
Jagters moet ook onthou dat jakkalse deesdae aggressiewer is omdat hulle nie meer sulke groot gebiede as tevore het nie. ’n Mens sal gou uitvind dat daar nie net een mannetjie in ’n gebied met ’n radius van 10 km is nie, maar wel twee of drie.
In Mei is jakkalse op hul aggressiefste. Die gevestigde mannetjie sal enige indringer wil bestorm. Hierdie aggressie kan maklik tot sy dood lei. As ’n mens dan ’n uitdagende roep of geluid gebruik, sal die dominante jakkals reken dit is ’n indringer in sy gebied. Dit sal hom kwaad maak en hy sal vinnig kom kyk.
As ’n mens ’n mannetjie skiet, moet jy nie net sy blaas uitsny om die urine as lokaas te kry nie. Jy moet ook die jakkals mooi deurkyk. As daar bytplekke aan sy ore is, of hy was in ’n paar gevegte of hy het wonde, beteken dit die jakkals is ’n indringer en dat die dominante jakkals nog op jou plaas is.
As ’n mens ’n teef skiet, moet jy mooi na haar spene kyk om te sien of die hare om die tepels weg is of nie. Dit sal jou vertel of sy al kleintjies gehad het of nie.
Junie en Julie is ook ’n goeie tyd om uitdagende geluide te gebruik omdat teeltyd in sommige streke later begin. Die gebruik van ’n oop rietfluitjie om ’n tjankgeluid te maak in dieselfde tyd wanneer die uitdagende geluide gespeel word, sal klink asof jakkalse besig is om te paar. Dit sal die dominante mannetjie rasend maak en dit kan tot sy dood lei.
In Augustus is daar ’n paar plekke in Suid-Afrika waar die kleintjies reeds gebore is. Hulle bly dan ondergronds in die nes en dit is die tyd wanneer die reun kos soek. In September en Oktober is die kleintjies besig om groot te word. Hulle is steeds meestal in die nes, maar begin ook al kos soek. Die geluid wat jakkalse se prooi maak, sal goed werk om hulle nader te lok. In Oktober kan nou en dan ook ’n tjankgeluid gebruik word.
In November en Desember is die kleintjies buite die gate en dan is die klanke van klein jakklasies die beste lokmiddel. Dit sal die klein jakkalsies roep, want hulle sal dink dit is ander maats wat wil speel.
’n Mens moet nooit in November ’n geluid maak wat klink soos baie jakkalse wat met mekaar gesels nie, want jy sal nie ’n teef op dié manier inroep nie. Sy is dan by haar kleintjies en sy sal bang wees hulle sal seerkry tussen die ander jakkalse.
In 2002 het ek in die omgewing van Potchefstroom gejag. Die plase is klein, met min oop plekke. Die geluide waarmee jakkalse gelok is, was die tjankgeluide van kleintjies. Die rede daarvoor is omdat daar gedurende die dag twee klein jakkalsies in die veld opgemerk is.
Die bogenoemde is ’n voorbeeld van hoe belangrik dit is dat jy die gebied en plaas ken voordat jy begin roep. ’n Mens moet weet in watter deel van die voortplantingsiklus die jakkalse is en jou roepgeluide daarby aanpas. In die omgewing van Bethlehem is daar byvoorbeeld mense wat sê klein jakkalsies is al in Junie daar te sien. Dit wys net hoe baie streke van mekaar verskil.
Mnr. Gary Laubscher is ’n professionele jagter. Tree met hom in verbinding vir meer inligting oor die jag van probleemdiere of die regte toerusting vir die roep van probleemdiere by sel 082 485 3885 of e-pos: sellis@telkomsa.net.
Katte makliker gejag
Rooikatte is glad nie so slim soos jakkalse nie. Spesiale geluide vir die verskillende tye van die jaar is dus onnodig. Hulle kry enige tyd van die jaar kleintjies en is altyd op soek na ’n maklike maaltyd. Aan die woord is mnr. Gary Laubscher, ’n professionele jagter.
Waar daar nie rooijakkalse is nie, kan die geluid van ’n steenbok heel jaar gebruik word. Dit is egter beter om die geluide af te wissel. Rooikatte en groukatte hou van ’n baie fyn gepiep, soos die geluid van ’n steenbok, rivierhaas of klein hasies, en ook van ’n “besige” klank.
Laubscher sê hy het elf verskillende handroepers vir rooikatte wat almal heeltemal verskillend klink. Rooikatte reageer glad nie so goed op werklike rooikatgeluide nie. Dit is asof of dit nie vir hulle belangrik is nie. In dié opsig is hulle heeltemal anders as jakkalse, wat op hul eie geluide reageer.
As ’n mens rooikatte roep, sal ander diere, soos groukatte en jakkalse, ook nader kom as die tyd van die jaar reg is. Rooikatte neem baie langer om nader te kom. ’n Mens kan byvoorbeeld die CD met die roepe daarop vir tot ’n uur lank laat speel. As ’n mens ’n handroeper gebruik, kan jy later ’n bietjie moeg word – vra my, ek weet.
Onthou: Moenie die luidspreker weg van die bakkie sit nie, want die roofdier sal in die verkeerde rigting kyk en jy sal hom nie sien nie. Hy moet vir jou kyk. Jou stilhouplek moet ook só wees dat daar nie ’n draad is wat keer dat die diere by jou uitkom nie. Hou dus teen die draad of in die hoek van ’n kamp stil om te verseker dat die dier by jou kan uitkom.
Jaggroete
Slang..
klop jakkals met die regte geluid..
Moderator: Global Moderator
-
- Newbie
- Posts: 3
- Joined: Thu May 29, 2014 4:18 pm
- Location: Drie susters
-
- Full Member
- Posts: 175
- Joined: Sun Jun 09, 2013 7:42 pm
Re: klop jakkals met die regte geluid..
Slang,
ek is geleer "eet die vleis en spoeg uit die bene", wat ek daarmee bedoel is dat daar baie benaderinge is en baie manne gee goeie raad wat nie noodwendig by jou gaan werk nie. So lees en toets soveel soos jy kan (eet die vleis) en dit wat nie werk vir jou nie los jy (spoeg uit die bene).
Die artikel wat jy hier bo geplaas het het ek ook so jaar of wat terug gelees. Baie aspekte van wat daar gese' word stem ek mee saam en kan ek getuig werk by my. En die wat nie vir my werk nie het ek getoets en dit het my 'n beter jagter gemaak om daar uit te leer.
So lees en vrae soveel as wat jy kan, maar in die veld is waar jy die ware kennis gaan opbou.
Ek hoop dit maak sin wat ek se', lekker jag.
groete
groukat
ek is geleer "eet die vleis en spoeg uit die bene", wat ek daarmee bedoel is dat daar baie benaderinge is en baie manne gee goeie raad wat nie noodwendig by jou gaan werk nie. So lees en toets soveel soos jy kan (eet die vleis) en dit wat nie werk vir jou nie los jy (spoeg uit die bene).
Die artikel wat jy hier bo geplaas het het ek ook so jaar of wat terug gelees. Baie aspekte van wat daar gese' word stem ek mee saam en kan ek getuig werk by my. En die wat nie vir my werk nie het ek getoets en dit het my 'n beter jagter gemaak om daar uit te leer.
So lees en vrae soveel as wat jy kan, maar in die veld is waar jy die ware kennis gaan opbou.
Ek hoop dit maak sin wat ek se', lekker jag.
groete
groukat