Page 1 of 1

Artikel in "Die Burger" 10 Mei 1963 - Probleemdiere

Posted: Wed Jan 29, 2014 12:10 pm
by Dawie Malan
Jakkalsjagters mobiliseer op Vrolijk¬heid:

Twintig jakkalsjagters woon ’n weeklange kursus by op Vrolijkheid, die Departement van Natuurbewaring se plaas by McGregor. Hierdie kursusgangers kom uit alle dele van Kaapland en selfs uit Natal. Hulle kry veral opleiding in die gebruik van die sogenaamde gifskieter, ’n apparaat wat in 1961 deur dr. Malcolm Allison uit die Verenigde State hierheen gebring is. Dit bestaan uit ’n stukkie pyp, vyf duim lank en ’n halfduim dik, wat regop in die grond gesteek word. Binne-in is ’n staalveertjie, ’n sianiedpatroon en ’n pluisie wol wat in vloeibare ‘aas’ gedoop is. Sodra die jakkals aan die pluisie wol trek, skiet die sianied in sy bek. Daar is 99 jagklubs wat deur die Provinsiale Administrasie gesubsidieer word.

Groukat maai onder duiwe:

Tinus Bekker, skoolseun van Fraserburg, het in een nag dertig van sy mak duiwe verloor. Hy het vergeet om die duiwehok se hek toe te maak en ’n groukat het 25 duiwe doodgebyt. ’n Aand daarna het die kat in sy slagyster beland, maar hom losgeruk en nog vyf duiwe doodgebyt. Toe Tinus die geraas in die hok hoor, het hy die kat gaan doodskiet.

Luiperd flous hele Hermanus:

Hermanus se luiperd is nog op vrye voete en het tot gister vier groepe gewapende jagters, twee perde en drie spanne jakkalshonde koudgelei. Maandagnag het die luiperd weer ’n kalf doodgebyt en gister ’n skaap. Die honde is poot-uit, die perde flou en die boere is lyfseer en mismoedig.”

Re: Artikel in "Die Burger" 10 Mei 1963 - Probleemdiere

Posted: Wed Jan 29, 2014 1:37 pm
by Ian
Dawie

Hoe verlang ek nou terug na die goeie ou dae. Vandag kos dit die boer derduisende rande met geen ondersteuning nie.

Groete