Re: 10 ha intensief boer
Posted: Sun Sep 29, 2013 6:27 am
Cassie, lees hier deur en kyk of dit vir jou sin maak en of jy dit so kan toepas op jou omstandighede.
Unieke weistelsel laat skaapproduksie gedy
Andries Gouws
Op mnr. Andries Pienaar se plaas in die distrik Colesberg lewer 5 000 Merino-ooie op 160 ha aangeplante weiding onder spilpunt gemiddeld elke jaar 10 000 lammers. In dié presisieskaapboerderystelsel behaal hulle optimum resultate. Só doen hy dit.
Om in die hedendaagse mededingende omgewing te oorleef, is dit optimale produktiwiteit wat die deurslag gee, meen mnr. Andries (Tot) Pienaar, bekende Merinoteler van die plaas Klipplaatsfontein naby Colesberg in die Noord-Kaap.
Met deeglike navorsing en fyn berekenings het hy en sy seun, Jacques, ’n unieke, aangeplante weidingstelsel ontwikkel waarvolgens 5 000 Merino-ooie op 160 ha in wawielstelsels kloksgewys onder spilpunte wei. “Dit is vir ons die beste manier om die produktiwiteit van die onderneming te verhoog, maar dit vereis presisiebestuur van die regte stelsels deur bekwame personeel wat goed opgelei is en dienooreenkomstig vergoed word.”
Beplanning
Hulle het elf jaar gelede 400 ha grond aan die Rama 2-kanaal in die omgewing van Luckhof gekoop, ses spilpunte van altesame 160 ha opgerig en aangeplante weidings daaronder gevestig, wat hulle nou vir intensiewe slaglam- en wolproduksie met rasegte Merino’s gebruik.
Die drakrag van die weiding is 30 ooie per hektaar en hulle hou 5 000 ooie aan. Dié ooie lam drie keer in twee jaar en het ’n gemiddelde lampersentasie van 203 per jaar.
“Ek vind dat ’n spilpunt van 20 ha die beste werk. Op dié grootte loop 600 ooie wat gemiddeld 1 200 lammers per jaar lewer. Dié grootte kan ’n mens maklik beheer en goed bestuur.
“Voor ons begin het, het ons deeglik beplan, die stelsel noukeurig uitgewerk en die bestuursdissiplines daargestel om optimale welslae te kan behaal. Om die regte antwoorde te kry, moet ’n mens die regte vrae vra,” sê Pienaar.
Hulle het eers na die waterbron gekyk, die hoeveelheid water wat nodig sal wees, die water ontleed en ál die moontlike besproeiingstelsels bestudeer voor hulle op spilpunte besluit het.
Grondontleding
Daarna is die grond ontleed, gekyk hoe diep die grond is en wat die ligging daarvan is. ’n Kontrakteur het die grond voorberei.
Met dié grondontledings en die behoefte van die weiding in gedagte, is besluit dat die urine en mis van die skape voldoende stikstof en kalium en 80% van die behoefte aan fosfaat voorsien.
Volgens berekening produseer elke ooi drie liter urine en ’n half kilogram mis per dag. Elke ooi voorsien dus 33 g stikstof, 3 g fosfaat en 6 g kalium per dag. Teen 30 ooie per hektaar is die besparing op stikstof net meer as R1 200 per hektaar.
Weidings
Ná deeglike navorsing het hulle besluit op ’n weidingmengsel van Cradock-saad, wat bestaan uit langswenkgras, meerjarige raaigras, eenjarige raaigras, kropaar- en kanariegras én wit en rooi klawer.
Elke spilpunt is met elektriese en sifdraad in agt segmente, soos speke, verdeel met gange en krale sodat segment vir segment in ’n wawielstelsel kloksgewys bewei kan word.
Van die grond het lusern op gehad en hulle het besluit om dit so te gebruik tot dit vervang moet word en dan daar ook van die grasmengsel te plant.
In die somer word elke speek of segment vier dae lank bewei en dan kry dit 28 dae ruskans. In die lente en herfs word dit drie dae lank en in die winter net twee dae lank bewei voor die skape na die volgende speek skuif.
‘Hotelle’
By elke spilpunt is daar uitjaagplekke van sowat ’n half hektaar groot op die hoeke wat die spilpunt nie natspuit nie. Hulle noem dit “hotelle”.
Dié “hotelle” word in die weidingsbestuurstelsel gebruik. Die skape loop van elfuur soggens tot twee-uur namiddag op die weidings. As die weidings nog natgedou of vol ryp is, vertrap die skape die gras meer as wat hulle kan vreet en as dit meer as 12 mm op ’n slag reën, vind grondverdigting plaas. Dán loop die skape in die hotelle waar ’n baal lusern per 100 ooie (300 gram per ooi per dag) uitgesit is.
Die besproeiing is so beplan dat water nooit oor die skape spuit nie en dat die segment waarheen hulle skuif, nie nat is nie. Terwyl die skape in ’n segment wei, word die ander segmente volgens behoefte besproei.
Lamtyd
“Die ooie lam in lamhokke in die middel van die spilpunt. Sowat 12 uur later kom dié ooie met hul lammers in die weidingsegment agter die segment waarin die groot trop wei. Die stelsel skakel die probleem van roofdiere feitlik heeltemal uit.
“Elke twee weke weeg ons tien skape per trop. Met die eerste weeg merk ons die skape sodat ons elke keer dieselfde skape weeg. Daar is dus nie meer sprake daarvan dat ons kyk en sê die skape lyk in ’n goeie kondisie nie. Ons weet wat hulle weeg. Terselfdertyd word die wol ook gemeet.
“Elke tweede maand vat ons mismonsters van vyf skape, die veearts doen eiertellings en ons behandel ál die skape volgens voorskrif. Ons wissel die wurmmiddels af en laat die weidings langer as die siklusse van die parasiete rus om weerstand teen middels en die opbou van parasiete teen te werk.”
Bemarking
“Ons het besluit om rasegte Merino’s te gebruik omdat dié skape die beste aangepas is om dié weiding te benut. Kudde-ooie is gebruik en van die beste stoetramme wat een van ’n tweeling was, word by hulle gebruik. Die ooie lam drie keer in twee jaar.
“As hul lammers sowat twee maande oud is, word hulle gespeen wanneer hulle sowat 22 kg weeg. Dié lammers gaan daarna na ons eie voerkraal waar ons hulle markgereed maak. Op die ouderdom van drie en ’n half tot vier maande bemark ons hulle aan voerkrale. Hulle weeg dan gemiddeld 34 kg.
“Met dié metode kan ons sowat 30% meer ooie aanhou. Ons skeer die ooie elke sewe tot nege maande en hulle gee ’n wolproduksie van ongeveer 12% van hul eie liggaamsgewig.
Geleenthede
“Toe ek in 1985 as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar aangewys is, was daar sowat 64 000 boere in die land. Hulle is uitgedun tot sowat 32 000 vandag. Ondernemings het groter geword, die tempo waarteen kennis verdubbel, is deesdae sowat 14 dae teenoor die 30 jaar aan die begin van die vorige eeu. Dit skep geweldige geleenthede, maar ook groot uitdagings.
“Die Pienaar-familie is al 124 jaar op Klipplaatsfontein. Deur die jare het die geslagte by die probleme van die tyd aangepas deur voortdurend op optimale produksie te fokus. In die uitdagings van vandag moet daar weer besin word en die optimalisering van produksie was die weg wat ons ingeslaan het,” sê Pienaar.
Aanduiders - Prestasie
Afgesien van dié presisiebestuur gee ons ook noulettend aandag aan die vyf sleutelprestasie-aanduiders, sê mnr. Andries (Tot) Pienaar van Colesberg in die Noord-Kaap. “Hulle is:
Bemarkingstelsels: Dit is die krag wat die onderneming aandryf om in die toekoms relevant te bly.
Finansiële stelsels: Die krag wat deur ’n geslaagde sakemodel ontwikkel word.
Produksiestelsels: Die optimale produktiewe masjien waardeur jy jou weidings bemark.
Die fabriek: Dit is ’n opelug-brandstoffabriek, naamlik die plaas.
Menslike hulpbronne: Ons omring ons met bekwame mense wat ons oplei en vergoed.
“In elkeen van die afdelings word inligting deeglik aangeteken, knaphandig besluite geneem en is doeltreffende uitvoering die sleutel tot welslae.
“En in elke afdeling en by elke produk word, waar moontlik, waarde toegevoeg om te verseker dat die optimale produksie wat met die stelsel bereik word, ook die beste inkomste moontlik gee.”
Die nuwe toevoeging tot die stewige fondasie, wat reeds met die stoetery en skaapboerdery gelê is, word gebou deur ’n span bekwame mense met hul voete stewig in die nuwe Suid-Afrika gevestig.
“Om oor die verlede te tob, is net so goed soos om brandewyn te drink om nugter te raak. Bestee jou energie aan die toekoms om internasionaal te kan meeding. Daarom is ons visie om Suid-Afrika die voorste landbouland in die wêreld te maak.”
Lbw vra ... Mnr. Andries (Tot) Pienaar
Wat is die beste raad wat jy nóg gekry het?
My oupa Andries het altyd gesê: Spaar op alles behalwe jou bul, hings of ram. Hulle bepaal jou toekoms. Hy het ook gesê in ’n droogte maak jy die beste plan vir 14 dae. Elke 14 dae is 14 dae nader aan die reën. My pa, Willie, glo uiteindelik tel net resultate. Kyk altyd in die spieël en moenie die ou in die spieël bluf nie. As jy in jou boerdery rondspring, is dit soos ’n voël wat opvlieg. Elke keer verloor hy ’n veertjie en as hy genoeg opvlieg, is sy gat kaal.
Wat is die beste ding wat jy nog in jou boerdery gedoen het?
Om by die Merino te hou en op optimum produktiwiteit te fokus. Ek lewe my droom. As jy my kleinseun Andries (toe agt jaar oud) gevra het wat is sy naam, het hy geantwoord: “Ek is ’n Merinoboer!”
KORTom
Een van die grootste probleme in die boerdery is produksie. ’n Intensiewe presisie-skaapboerderystelsel is die antwoord vir die boer.
Aangeplante weiding onder ses spilpunte van altesame 160 ha word vir 5 000 ooie met ’n lampersentasie van 203 benut.
Dit stel hulle in staat om 30% meer ooie aan te hou. Die ooie se wolproduksie is ongeveer 12% van hul liggaamsgewig.
Kategorie: Weiding/Skape/Kleinvee
Bladsy 16 - 18
Kleurfoto's
Kontakbesonderhede: Andries Pienaar, merinoonestop@bokaroo.co.za, tel 051 1753 3000