Jagter met sy eerste buffel...

Enige interresante verhale wat jy beleef het kan hier geplaas word.
Any interesting stories you have heard of or have experienced.
Post Reply
User avatar
Vlakvark Soldaat
Hero Member
Hero Member
Posts: 1698
Joined: Thu Jun 13, 2013 7:04 am

Jagter met sy eerste buffel...

Post by Vlakvark Soldaat »

Ek en Rudi Fischer (Spoor Bullet Company) het koppe saamgesit, en Spoor Hunting Safaris in 2025 begin. Ons het die voorreg om gereeld saam kliente te jag, onder andere buffels... die naweek van 28-31 Mei het soos volg verloop...

Uit die pen van JP Fourie...

Naansê manne!

Jong, soos altyd was dit lekker om in die bos te wees. Wel... nie sonder sy challenges nie, maar dis mos deel van die storie. Ver geloop, ver gekruip, deur digte doringbosse geworstel, wild wat BAIE wild is, wind wat besluit hy werk vir die opposisie, en al daai lekker goed wat mens later in die kamp oor n koue een gesels en deel.

Toe ek vanoggend oppak, besef ek egter iets: ek het hierdie naweek vir die eerste keer in my lewe gejag. Ek weet hoe dit klink. Ek loop al jare in die bos. Ek het al spoor gesny, diere bekruip, skote getrek en vleis huis toe gebring. Ek het gedink ek weet wat jag is.

Maar dangerous game het my geleer dat ek eintlik nog op die kleuterskool se speelgrond beweeg met jag.

Kyk, wanneer jy gewone wild jag, gaan jy met ’n plan. Jy soek ’n spesifieke dier, ’n spesifieke grootte, n spesie, en dalk ’n spesifieke horinglengte. Jy voel half in beheer van die proses.

’n Buffeljag lag vir jou planne. Hier gaan jy nie vir ’n spesifieke trofee nie. Jy gaan nie vir vleis nie. Jy gaan nie vir die perfekte horings nie. Jy gee jouself eenvoudig oor aan wat die natuur besluit om vir jou te gee. Die bos skuld jou niks. Die buffels skuld jou niks. Jy is nie meer die hoofkarakter van die storie nie, en daai besef slaan mens harder as enige terugslag van ’n geweer.

Ek weet eintlik fokkol van dangerous game af. Ek het gedink ek weet baie van jag, maar hierdie naweek het my nederig gemaak. Hier besluit die natuur hoe die storie eindig. Jy luister na die PH. Nie na sy raad nie, maar na elke woord. Want as jy begin improvise, kan die bos jou lewe baie vinnig beëindig.

Ons bekruip deur swarthak wat so dig is dat jy nie eens jou eie gedagtes kan sien nie. Buffels staan 15 meter van jou af, maar jy sien niks. Jy hoor net takke breek en jy hoor asemhaling. En dan kyk jy na die PH en sien hoe sy gesig stadig die kleur van feta aanneem.

Dis gewoonlik nie ’n goeie teken nie.
Want as daai buffels besluit om te hardloop, hardloop hulle nie om jou nie, hulle hardloop deur jou.

Daar is nie tyd vir skietstokke en perfekte rusposisies nie. Jy skiet uit die hand, van jou knieë af, uit die gesig uit. Jy kry dalk twee sekondes vir ’n kans, as die buffels in ’n goeie bui is. En intussen moet jy heeltyd weet waar die res van die trop is, waar jou PH is, en watter boom dalk sterk genoeg is om jou testament te dra.

Een van die hoogtepunte was toe ons in die pad sit en wag. Die manne laat weet die buffels gaan so twintig meter voor ons uitkom. Alles is gereed. Die PH gee die geweer vir Johannes en staan met sy verkyker.
My hart pomp chocolates, maar ek dink nog ek is reg.
Toe breek oorlog uit.
Jy hoor net buffels wat deur die bos ploeg soos ’n groep kontrakteurs met ’n onbeperkte begroting. Die volgende oomblik kyk ek links en daar is hulle. Tien meter weg, reguit oppad na ons toe.

Johannes spring soos ’n haas oor die pad met die PH se geweer en hardloop weg. Die PH bekak homself met net ’n verkyker in die hand. En ek...
Wel, ek skuif natuurlik kalm, professioneel en grasieus na die ander kant toe.

Die trop storm verby, stof hang in die lug, en die enigste skootgeleentheid is ’n koei met ’n kalf.m, nie ’n opsie nie.

Toe die stof uiteindelik gaan lê, begin my hart weer onthou wat sy werk is. Die kleur kom terug in my gesig en die reuk in my broek verander ook stadig na iets meer aanvaarbaar. Hierdie proses herhaal homself ’n paar keer deur die naweek.

Teen Saterdagmiddag raak tyd min.
Ons kry weer ’n kans. Ná ’n lang stalk kry ek uiteindelik ’n oog op ’n koei. Ons kan nie mooi sien nie, die son skyn van voor. My bril is vol wasem. Ek hoor die res van die trop rondom ons en ek voel eerder gejag as jagter.

Die PH fluister: “Dis nou of nooit. Vat wat die bos jou bied.” Daai woorde sal my lank bybly.
Ek skuif agter hom in, gaan sit letterlik bo-op ’n doringbos, probeer deur die scope kyk en sien basies net ’n donker kol. Die PH sê sy kyk reguit na ons. Ek mik vir die kuil van die bors. Die skoot breek en ek sien haar val.

Vir ’n paar sekondes staan die wêreld stil.
Toe besluit die res van die trop die wêreld moet weer beweeg — reguit in ons rigting.
Die PH staan daar met sy .458 Nitro Express in een hand, die ander hand hou my agter hom terwyl ons stadig terugval. Op omtrent tien meter gaan staan die buffels en kyk vir ons.
Daai tipe kyk wat sê: "Verduidelik jouself."
Toe gebeur iets wat ek nooit in enige jagboek gelees het nie. Die PH skree:
“HEEEEEY! HEEEEEEY! HEEEEEEY! ! ! !”
En, teen alle logika ...werk dit.

Die buffels draai om en hardloop weg.
Ek weet nie of hulle geskrik het, beïndruk was, of net besluit het hulle wil nie met iemand stry wat so selfversekerd vloek nie.
Alles raak stil, ons wag so rukkie en stap nader. Sy gee nog n skop of 2 en die PH sê ek moet nog n koel in haar bors insit. Daarna raak alles rustig. Ons wag weer, en uiteindelik raak hy aan haar oog. “Dis verby.”

Ek gaan sit op my knieë langs haar en bid. Nie omdat ek ’n trofee gekry het nie. Nie omdat ek iets gewen het nie, maar uit dankbaarheid.

Dankbaarheid vir veiligheid. Dankbaarheid vir die ervaring. Dankbaarheid dat ek vir ’n paar dae iets van die natuur kon beleef wat min mense ooit sal verstaan.

Toe ek haar vir die eerste keer mooi sien, besef ek sy is nie die buffel wat ek vooraf in my kop gehad het nie. Sy is ’n jong koei. Die horings is nie wat ek gedink het ek wou hê nie.
Maar toe besef ek iets belangriker. Die bos gee nie vir jou wat jy wil hê nie. Die bos gee vir jou wat hy wil gee. En dalk is dit presies hoekom mense teruggaan.
Want dangerous game gaan nie oor horings, vleis of grootte nie. Dis ’n les in nederigheid. ’n Herinnering dat ons, ten spyte van al ons planne en tegnologie, nog steeds maar klein is wanneer ons in die natuur instap.

Ek is MOER happy met Bubbles — my jongste se naam vir die koei.
Oor ’n jaar sal sy in my man cave hang, en elke keer as ek na haar kyk, gaan ek nie die horings sien nie.
Ek gaan die stof sien.
Ek gaan die swarthak voel.
Ek gaan die PH hoor skree.
Ek gaan onthou hoe my hart chocolates gepomp het.
En ek gaan onthou hoe die bos my geleer het dat jag nie gaan oor wat jy huis toe bring nie.
Dit gaan oor wat die bos in jou los wanneer jy weer huis toe gaan.

Wat ’n voorreg was dit nie. En as ek weer die kans kry?
Dan doen ek dit môre weer👌🏻
Louis

2x BRNO Mod2 .22
BSA .303
Steyr Mannlicher .308
Beretta 9mm
CZ 100 9mm
Lanber 12ga

Ruger M77 .243
Ruger M77 VT 6.5 CM
Ruger M77 7mm-08
Ruger M77 .30-Suk6
Ruger No.1 .375 H&H
Ruger .44 Mag Red Hawk
Glocked
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 384
Joined: Wed May 16, 2018 4:51 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by Glocked »

Jis ek het nou lekker gelees, dankie vir die deel !
Howa 6.5PRC
Schultz & Larsen .30-06 Sprg
Winchester Mod 70 375H&H
Maverick 12G Pomp
Glock 17
Glock 19
User avatar
DWB
Hero Member
Hero Member
Posts: 6968
Joined: Tue Mar 08, 2011 11:48 am

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by DWB »

Geluk! Dit bly magic!!!
Noem my sommer Deon
7x57 - 404 Jeffery - 450 Rigby - 500 Jeffery
Overkill is underrated!
"All men die, but few men ever really live"
User avatar
toelie
Hero Member
Hero Member
Posts: 926
Joined: Mon Nov 26, 2012 9:10 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by toelie »

Wat n lekker storie, elke man se droom oor en oor daai
.22LR Voere
.22LR CZ Varmint
.22-250 CZ Varmint
.22-250 Savage Vlp
.243 Kwagga Savage Vlp
.6 XC Tikka Varmint
.25-06 Ruger Nr1
.300WM Sako
.375 Ruger Howa
.50 cal voorlaaier Buckstalker
.38 Special Rossi
.9mm Glock 17
.9mm Glock 43X
User avatar
Gian_dP
Hero Member
Hero Member
Posts: 1616
Joined: Thu Mar 06, 2014 9:43 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by Gian_dP »

Baie dankie! Lekker om so "saam" te kan jag.

Sent from my SM-S921B using Tapatalk

_____________________
Gamo CFX .177
Howa/Krieger 6XC
Howa .243AI
Howa .300 WM
Musgrave .308
User avatar
Jaco vdW
Hero Member
Hero Member
Posts: 692
Joined: Wed Mar 27, 2013 3:12 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by Jaco vdW »

Uitstekende storie!
En die humorisitese wyse van skryf verklap die vlak van senuwees!

Ek sien nou nog meer uit na die einde van die maand!
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 981
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by partner »

Baie Dankies vir n Great Storie.
User avatar
Jassie
Hero Member
Hero Member
Posts: 548
Joined: Wed May 11, 2011 4:17 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by Jassie »

Pragtige, boeiende storie Louis.

Dis juis hierdie onverwagtheid, die intense onsekerheid, die bykans onvoorspelbare veranderlikheid, wat ons terugroep jagveld toe.
"Pas jou jakkalse mooi op om hulle later makliker van kant te kan maak" T. Mulder
User avatar
Eduard Venter
Hero Member
Hero Member
Posts: 1483
Joined: Wed Nov 26, 2014 12:40 pm

Re: Jagter met sy eerste buffel...

Post by Eduard Venter »

Daarsy geluk! Lekker storie. Buffel jag is maar net iets besonders om te beleef

Sent from my SM-G780F using Tapatalk

Post Reply