Dagsê
Hier is so ietsie as daar dalk van julle is wat lus het vir lees.
Oom Martiens en die heuningbye
“Kola, laat ek nou vir jou een ding vertel, assie lewe skielik een goeie môre uitie bloute uit vir jou sy soet kant gooi, dan moet jy op jou hoede wees. Daar is partykeers angels wat jy nie raaksien nie. Soms verdoesel satan ’n boosheid inne klontjie heuning en proe jy daaraan word jy seer gesteek.”
So sê Oom Martiens een oggend terwyl ons elk met ’n beker koffie in die hand sit en vanaf ’n hoë rant oor die vlakte onder ons kyk. Ons was van vroemôre af aan’t soek na elande maar hulle het weggekom en ons is toe terug na die bakkie toe om die innerlike te gaan versterk.
“Hoe so Oom? Wat laat dan nou vir Oom aan heuning en die satan dink?”
“Man Kola, dit was ook op so ’n goue sonskynoggend soos vanoggend, blou jarre trug doer in Duitswes. Toe stap ek mos metie seloentjie oorie skouer veld toe en in my sak ’n klompie van daai Ellie Haai Velositie patrone.”
“Dis Eley-patrone Oom en die uitspraak is so ’n effens lang uitgerekte ie. ’n Mens moet glo ieelie sê volgens die Engelse.”
“Ag Kola whatever. Moe’ nou nie weer mit taallesse kom staat neuk nie. Anyway, die plan was omme paar fisante of tarentale virrie pot om te keer. By the way, daai Ellies skiet vir jou doodskote hoor. As jy nou jou skiet ken en nie onverantwoordelik loop staan en raak metie afstand saam nie, kap jy maklik ’n rooibok offe koeroe om mit daai patrone.”
“Nee jis Oom, ek weet darem nie, ’n .22 is nie ’n koedoekaliber nie.”
“Ja Kola, seg ek ôk, maar as jy nou nie iets anners byderhand hetie en ’n koeroebul kom staat en treiter nou vir jou onnodiglik, dan klits jy vir hom tog te lekker mette seloen as jy jou skiet ken.
“Anyway, dit het my geluk om sommer vroemôre twee fisante te skiet. Van daai metie rooi bekke wat soggens en saans so mooi skree. Nou ja, ek is toe metie fisante trug na die veepos toe. Daar isse lekker groot sinkdam mit ’n paar wag-’n-bietjies wat styf teen hom staan en dis nou in hulle skaduwee wat ek die fisante wou loop hang solat ek verder kan jag. Man, en ek was al net mooi naby die dam, toe kom daar skielik ’n tarentaal verby gewals.
“He’ jy al gesien Kola, as hulle nou lekker skarnier, dan hardloop hulle mos so stil en glyk soose Cruiser oppe lekker Suidwes-grondpad. Nou ja, soos daai tarentaal verby kom, meet ek hom metie Mausertjie… en toe die skoot slaan, toe sien jy net een bolling stof soos daai veldhoener val. Wragtag, skiet ek toe mooi sy nekkietjie af net waar dit by sy lyf ingaan.
“Man, was ek nou vir jou breëbors! Ewenwel, ek stryk toe aan metie afnek-tarentaal dam se kant toe en terwyl ek nog so stap, toe peul daar ’n groot veldlikkewaan hier onner ’n bos uit. Jong en hy sit die stuk in verby ’n miershoop wat langs ’n omgevalle kameeldoring staan. En soos my oge hom volg, toe raak ek bewus van heuningbye wat in ’n gat by die kameeldoring se wortels bonnel.
“Hene Kola, net daar dink ek by my selwers, hierie môre kan mos ewiglik mooi loop staan en uitdraai as ek nou saam metie voëls ’n goeie leksel heuning kan huis toe vat. Al die seëninge op so ’n heller sonskynmôre was amper te goed om waar te wees.
“Kyk, as kinners het ons mos baie heuning uitgehaal, so ek was goed onderleg metie manier van werk om die soetigheid innie hanne te kry. Jong, en so beginne ek grassies uittrek om ’n fakkel te maak solat ek die bye kan rook. Man, en ek het mooi gewerk en een lekker groot, vet heuningkoek uitgehaal. Maar toe ek nou die tweede een innie hanne probeer kry, is toe latie satan kom listig raak. Aan die agterkant vannie koek sit daar ’n by wat ekkie gesien hetie en hy was ongelukkig nie dronk vanie rook nie. Kola, en daai by steek vir my hier tussen my snellervinger en my mittelvinger.
“Kwit jong, en ek laat val die fakkel wat ek nog metie een hand vashou en wil jy glo, daatelik vatie gras vlam hier rondom die plek waar ek werskaf. Man, en daar moet ek bontstaan ommie vlamme onner bedwang te kry voorlat hulle groot raak. En dis nou net toe, met al my bedrywigheid daar, lat ’n klompie bye hulle dronkgeit afskud. En seker maar oorlat hulle vannie babbelas vannie rook nie lekker gevoel hetie, erg die spul hulle vir my. Kola, en soos een man sak die klompie op my toe. Toe die derde angel my tref, toe reverse ek agteruit. Ma’ dit was te laat want toe ontdek al wat ’n by is rondom darie nes lat hulle angels het.
“Man, en ek vlie weg en maak virie dam met ’n hele bolling bye agterna.”
“En die geweer en voëls Oom?”
“Nee hel Kola, vir hulle laat staat ek toe net daar. Metie bye so erg bemoerd was darie nog tyd vir besittings bymekaar maak nie. Gelukkig wassie dam seker net so 40 treë ver en ek laat lóóp… dit smaak my later my bene gaat hier by my lieste uit my boude los loop haak.”
“En die bye steek vir Oom?”
“Hulle steek vir my Kola. Hulle steek op elke kaal plekkietjie waar hulle sitkans kry. Elke bysteek is soos ’n lektriek sôk wat my aanspoor maar ek kry nie die bye afgeskud nie. By die dam gekom, toe duik ek los bo-oorie kant tot binne-in die water in. Maar nou kon ek ookie lank onnerie water bly nie want van allie hardloop soek my longe toe mos naarstigtelik suurstof. Kola, my kop dop onnerie water uit en my longe stoomtrein soos ek lug suie. Maar daar wassie tyd vir mooi asemskep nie want die verdomde bye was nog steeds op red alert en voor ek nog mooi weet wat aangaan toe zoem die volgende eskader op my af.
En ek duik weer en bid latie duiwelskinners moet skiet gee hier bo die water. Kwit Kola, en toe my longe nou properlies beginne protesteer steek ek net my gesig so suutjies bo die water uit.
“Kan jy glo, daai bye het noggie van hulle se higher command notice gekry latie fight verby is nie en ek moet weer onnerie water in. Weerie selle ou storie… my longe beginne bewe later soos ’n trekklavier se blaaie vannie benoudgeit en ek dop weer uit. En gelukkig tog, toe ek rondkyk, sien ek net blou lug, g’n niks bye meerie.”
“En toe Oom.”
“Nee man, toe is ek maar huis toe.”
“Sonder die geweer?”
“Sonner die geweer ennie voëls Kola. Die spul lê toe nog daar neffens die kameeldoring waar die behelstige bye bly. Ek het eers goed na sononder, toe ek nou seker is die bye slaap, een vanie plaaswerkers gestuur ommie geweer, die voëls en die uitgehaalde heuningkoek te loop haal. Anyway, my stap huis toe was glatie ’n piekniek nie. Die bye het vir my oral bygekom… 28 steekplekke had ek gekry en teenie tyd lat ek by die huis kom, het ek rêrag olik gevoel van allie gif. My oge was amper bot toe en my bolip het gelyk of ek saam met daai Dricus Stilsôks innie kryt was en toe nog boonop dit ’n skoot boutoks loop vat het.”
“Dricus Stillknocks, Oom”
“Ja whatever. Anyway, die ergste was lat Bessie g’n erg aan my wonde gehad hetie. Sy weet my toe te vertel lat dit my straf is oorlat ek altoos loop neuk waar ekkie hoort ’ie. Maar glo my, toe daai mooi heuningkoek eers by die huis is, toe eet sy darem selwers lekker saam.
“Maar jong, het daai bysteke nou my gal gewerk. ’n Hele week toe is ek nog olik en geswel vannie goed se gebytery.”
“Oom bedoel gestekery”
“Ag hel Kola, whatever. Maar kyk lat ek dit nou weer vir jou oppie hart druk. Pasop tog assie lewe skielik een môre stroopsoet voor jou deur kom staan. Dis heel moontlik satan, toegedraai inne lekkergoedpapier. As iets te goed is om waar te wees, issit te goed om waar te wees.”
Oom Martiens het sy blikbeker na my toe uitgehou.
“Kola, gooi dan nog daar so ’n knertsie koffie hier innie beker. Dit sil darem nou goed gewees het as daar iets sterkerder in daai Stênly fles was, want metie vertellery het my geheue so goed spoor gevat, smaak my ek voel weer darie pyn vannie angels. Maar nou ja, by gebrek aan iets beter sil ek nou maar settel virre paar slukkies koffie. ’n Mens ka’ mos nou ôkkie alles innie lewe bestel soos dit jou geval nie.”
“Dit is baie waar Oom,” het ek gesê en toe het ons ons koffie op dié goue môre in stilte verder geniet. ’n Oggend waarop daar gelukkig geen heuningbye in die omtrek was nie.
Oom Martiens ennie heuningbye
-
Koos Barnard
- Hero Member

- Posts: 2155
- Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am
- Riaan Kriel
- Hero Member

- Posts: 1284
- Joined: Tue Sep 02, 2014 3:53 pm
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Baie dankie... Ek het heerlik gelees en kan myself inleef in die storie 
'n Wonderlike talent wat oom Koos het
'n Wonderlike talent wat oom Koos het
-
partner
- Hero Member

- Posts: 988
- Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Jissie Koos. Baie dankies. Ek het Jou Storie nou baie geniet.
-
ThinusS
- Sr. Member

- Posts: 317
- Joined: Sun Jul 17, 2011 10:00 am
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Dankie, Koos.
-
JohanvB
- Hero Member

- Posts: 2595
- Joined: Thu Jun 30, 2011 9:28 pm
- PaulM
- Hero Member

- Posts: 881
- Joined: Mon Jul 09, 2012 8:48 pm
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Baie dankie Koos.
PaulM
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer.
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer.
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.
-
Toxxyc
- Hero Member

- Posts: 1374
- Joined: Fri May 31, 2019 7:55 am
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Herinner dit my nou so aan die keer toe ek oor die groentetuin se heining geklim het, en ek sien nie die nes rooiperdebye wat so onder die een plank gesit het nie. Druk mos my vinger reg in die nes in, en hulle het my ook behoorlik gepeper.
- finch
- Sr. Member

- Posts: 460
- Joined: Thu Jul 14, 2016 2:44 pm
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Daai hardloop dat "jou lieste uit jou boude los haak" ken ons almal as daar n swerm bye op jou spoor is... Dankie vir die deel van die vrug van die pen.
- Ratel
- Hero Member

- Posts: 1879
- Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm
Re: Oom Martiens ennie heuningbye
Oom Martiens was slim om die plaaswerkers terug te stuur vir die geweer. LMGA. Oom Martiens laat my baie dink aan Oom Kaspaas van die Lanbouweekblad baie jare terug.
Maak 'n verskil
