Alwin wrote: ↑Mon Oct 23, 2023 9:10 pm
Riaan, jy verraai nie jou presiese ouderdom nie, maar die multifokale bril plaas jou duidelik bo 40.
My optometris vertel my dat, na jou 40ste verjaarsdag, begin die beweeglikheid van jou oë se lense minder word, dus sukkel jy al hoe meer om naby EN ver te kan fokus.
Ek is redelik aktief in beide geweer en pistoolskiet, dus het die probleem my ook gepla en word dit elke jaar met die volgende verjaarsdag erger. Dalk is dit al die suiker in die verjaarsdagkoek wat die oë so aantas?
My oplossing is die volgende, maar hou in gedagte dat ek nog hopelik 'n paar jaar langer sal kan skiet, as ek nog slagdoppies kan koop, en die probleem en oplossings noodwendig sal verander met tyd.
Ek het lankal besluit om op die teiken te fokus. Ek weet dat elke skiet-instrukteur, myself ingesluit, vir almal leer om op die voorste visier (korrel) te fokus. Kom ek verduidelik hoekom ek daarvan afwyk: Die primêre rede hoekom ek pistool skiet vir sport, is om in oefening te bly vir as ek dalk eendag gedwing sou word om myself te verdedig teen geweldadige gewapende aanvaller(s). My beroep en adres plaas my in 'n hoë-risiko groep. As jy aangeval word, dwing jou brein jou om op die teiken te fokus. Daar is nie veel wat jy daaraan kan verander nie. Daarom oefen ek ook so. Ek fokus op my teiken.
Die agterste visier verdof (blurr) heeltemal. Geen probleem, want ek kyk nie vir hom nie, ek kyk deur hom. (Ek verkies dowwe swart agterste visiere.)
Die voorste visier is ook bietjie dof, maar ek sit vir my handwapens ligpypies (fibre optics) van 1,5mm (0.060") in die voorste visiere. Ek het dus geen probleem om die helder ligkol in die middel van die teiken te kry nie. Met gereelde oefening sien ek later net die ligkol op die teiken en die impak op die teiken.
Tot dusver gee dit vir my heel skaflike akkuraatheid. Ek sukkel nie om 'n 200mm kol of plaat op 25m te tref nie. Onder goeie toestande kan ek dit tot op 50m doen.
Terwyl dit nog werk, is dit wat ek gaan doen. Dis goedkoop en eenvoudig.
Voor jy die ligpypie installeer, probeer eers 'n bietjie helder oranje naelverf (cutex) uit jou dogter se laai op die voorste visier. In daglig werk dit amper so goed soos die ligpypie. (Die assistentjie in die apteek het my baie skeef aangegluur toe ek so 'n bietjie van die goed op my wysvinger se nael smeer en met uitgestrekte arm bekyk.)
Vir 'n dra-wapen is visiere met Tritium liggies 'n goeie idee, anders sien jy die visiere glad nie in die nag nie. Verskeie vervaardigers maak visier stelle vir gewilde pistole. My keuse is tans 'n voorste visier met groen Tritium buis omring deur 'n helder oranje plastiek ring (vir die dag). Agter is dit net 2 Tritium kolletjies aan weerskante. Ek sou verkies om die agterste visier 'n vertikale Tritium streep te hê en kolletjie voor, wat dan 'n " i " prentjie gee.
'n Skiet vriend wat bietjie ouer as ek is het vir hom 'n skiet bril laat maak wat so werk: Regter lens fokus of voorste visier (amper leesbril) en linker lens fokus op lang afstand (teiken). As hy met al 2 oë oop skiet, sien die linker oog die teiken duidelik en die regter oog die visiere. Hy moet net die bril so 30 minute lank dra voor die skiet sodat sy oë en brein gewoond raak aan die prentjie.
As bg. nie meer wil werk nie, dan is die volgende stap 'n refleks-visier. Dis nou daardie raampie met die lens in en rooi ligkolletjie. (Mens kry ook groenes.) Die goed raak al hoe meer kompak en robuust. Die beteres kan jy op 'n pistool se glysruk (slide) monteer en hulle hou darem vir 'n paar duisend skote. Van die modelle skakel aan wanneer jy die wapen beweeg en af wanneer hy stil lê. Battery leeftyd is omtrent 2 jaar. Dis iets om aan gewoond te raak, maar die kolletjie waarmee jy mik is in fokus op die teiken. Jy hoef ook net die een kol op te lyn met die teiken, wat dinge baie eenvoudiger maak. As die visier lekker laag gemonteer is, kan jy die ou oop visiere steeds in die onderkant van die raampie sien, wat jou help om die kol vinniger op die teiken te kry en as rugsteun kan dien as die elektronika die dag sou faal. Iewers in die toekoms gaan alle pistole toegerus wees om so 'n refleks-visier te kan akkomodeer. Jy kan nou reeds modelle koop wat alreeds daarmee toegerus is. Hou hierdie spasie dop.
Hoop dit help jou in die regte rigting?