Oesjagters van die Noord-Kalahari

Enige stories/navrae ens ivm nag oes/skiet

Moderator: Global Moderator

Post Reply
User avatar
Geno
Administrator
Administrator
Posts: 13242
Joined: Tue Apr 20, 2010 3:05 pm
Location: Bloemfontein, Vrystaat.
Contact:

Oesjagters van die Noord-Kalahari

Post by Geno »

Lekker om oor forumvriende te lees!

https://dl.dropboxusercontent.com/u/49750262/Hunting/IMG-20130910-WA0002.jpg

https://dl.dropboxusercontent.com/u/49750262/Hunting/IMG-20130910-WA0000.jpg

http://www.republikein.com.na/byvoegsel ... ari.211275
Voorgelê deur Republikein op Ma, 2013-09-09 08:37





Jacques du Toit - Die benutting van wildgebaseerde hulpbronne in Namibië het nog nie sy volle potensiaal bereik nie met die aanvraag na wildprodukte wat skerp groei. Dit is 'n baie uitdagende bedryf, met die spanne wat vanaf 1 April tot 31 Augustus (die jagtydperk vir nagoeste) vir 24-uur aanmekaar op 'n keer jag.
Verlede jaar is twaalf sulke spanne geregistreer en Republikein het vanjaar die geleentheid gehad om saam met een van hulle, Mos-Mar Culling, 'n jagtog mee te maak.

Jag in die Kalahari-duine
Dis tienuur die aand en ek en my kollega Riaan Steyn wag op Stampriet vir die span oesjagters.
'n Verkoelingsvragmotor hou by die enigste vulstasie op die dorp stil en Van Zyl Louw van Namaqua North Meat-slagtery op Otjiwarongo groet vriendelik.
“Is julle die manne van die koerant?” vra hy en ons stel ons voor.
“Die res van die span is op pad, net Jan Mostert kom nie vanaand nie.”
Eerste is Nickie Marais gevolg deur Francois Marais in sy wit Land Cruiser. Die laaste Marais, Wittes, is nog op pad. Vir die aand se jag in die rooi Kalahari-duine is al die voertuie goed toegerus.
Sterk bosbrekers is voor aan die bakkies aangebring en die traliewerk is van vlekvrye staalhake voorsien waaraan die bokke gehang word.
Op die dorpie staan die termometer op tien grade Celsius, maar dit daal stadig tot by vyf grade by die plaas se eerste hek. Die windjie waai geniepsig.
Die teerpad verander in 'n plaaspaadjie en die voertuig bly met moeite in die dik sand van die plaaspad.
Teen elfuur is ons op die plaas en Van Zyl begin solank sy slagpale opslaan. Die springbokke word gedeeltelik op die plaas geslag. Die vel bly nog vir minstens twee weke aan die karkas in koelkamers sodat die vleis ryp kan word.
Die voertuie se bande word deur groter bande vervang en Wittes daag in sy ou, herstelde Untag-bakkie op. Die naaste aan luuks is die Cruiser met 'n verwarmingstelsel vir die voete. 'n Bykomstigheid waarvoor mens later bereid sal wees om 'n plaas se prys te betaal as jou voertuig dit nie het nie.
Laaste om op te daag, is oom Francois Marais (78), bokjagter van formaat en die man wat die Marais-seuns opgelei het.
Dis koud, baie koud
Voor na die jagveld vertrek word, trek die springbokjagters laag op laag dik klere aan en Wittes gee vir my 'n ekstra dik baadjie wat oor my vingers hang. Duidelik was die klapmus, twee pare sokkies, T-hemp, trui, wolbaadjie en windbreker nie genoeg nie. Dit was die enigste stukkie simpatie wat tydens die jagtog aan my betoon is.
Die aantal bokke wat die nag geskiet mag word, word tussen die plaasbestuurder, slagter en oesjagters bespreek.
Francois en Nickie vat die pad die bos in, maar Wittes moet nog sy bande afblaas.
“Moet ons nie ook ry nie?” vra ek.
“Nee, wat. Met dié kar hoef mens nie haastig te wees nie,” sê hy.
Ons val in die pad op die klanke van AC/DC se “Thunderstruck”, met die bosse wat verbyvlieg. Op een plek gooi die tweespoor ons uit die pad en hoewel die kameeldoringboom vinnig nader kom, verseker Wittes my dat alles onder beheer is.
Ten spyte van my sielkundige voorbereiding vir die jag, besef ek ek is nie heeltemal reg hiervoor nie. Die ongelooflik koue wind stroom deur die platgeslaande voorruit, want hulle skiet oor die enjinkap en my klapmus kan skaars die wit wolkies wasem vashou.
Hierdie is nie mans van baie woorde nie. Die langste woorde is seker “suidwes” of “noordwes” as hulle die rigting oor die tweerigtingradio's aandui. Elke voertuig het drie agterryers: twee vir lig met 'n een miljoen kersligsterkte spreilig en nog een wat die springbokke optel en aan die hake ophang.
Die landskap bestaan uit rooi duine wat parallel met mekaar loop. Tussenin is strate van ongeveer 400 m breed. Hoewel dit meestal oop veld is, is dit bespikkel met indringerbos soos swarthaak en soetdoring asook kameeldoringbome en vlakvarkgate.
Die ligman moet die bokke soek wat hy deur middel van geoefende bewegings met sy lamp verhoed om weg te breek. Hy wys uiteraard ook waar gery kan word. Vergeet van bospaadjies - dié manne ry reguit, bo-oor alles wat nie 'n stam het nie en die gebreekte, droë doringtakke moet gedurig van die skoot verwyder word.
Die volgende basiese reëls geld vir die jagtog: 'n Bok op 'n duin se kruin mag nie geskiet word nie; almal beweeg in dieselfde kamp; soekligte moet te alle tye aangeskakel wees; 'n moontlik gekweste bok moet dadelik aangemeld word en alles moontlik moet gedoen word dat dit nie wegkom nie.
Die voertuie spat in verskillende rigtings uiteen en soos verfkwashale word die veld deur stroke lig ingekleur, op soek na die blink ogies.
Uitstekende skietwerk
Toe begin die jagtog.
Die eerste bokke word gewaar en wanneer die enjin en hoofligte afgeskakel word, staan hulle botstil. Wittes tel sy geweer op en stel die radio se musiek sagter.
Die eerste skoot is met die klankdemper wat die skoot aansienlik sagter maak.
“Okay, dit was die laaste waarskuwingskoot vir die aand,” sê Wittes.
Die bok kyk nog verdwaas rond.
Doepf! Die tweede skoot klap en spuug 'n geel streep deur die donker nag, reguit na die bok se kop.
Die bok sak dadelik inmekaar.
Nog twee skote klap en nog twee bokke lê. Beide kopskote, want slegs kopskote mag geskiet word.
Soms hol die bokke te ver regs, dan swaai Wittes die geweer om en korrel met sy linkeroog - en hy skiet net so akkuraat.
Wittes stel die musiek weer bietjie harder en ry nader.
Binne sekondes hang die bokke aan die hake, die aantal bokke wat geskiet is, word oor die tweerigtingradio vermeld en die volgende bokke word gesoek.
Die jagspan kom gereeld bymekaar om die bokke se pense uit te haal. Dit moet binne 45 minute ná die bok geskiet is, gedoen word anders kan die vleis nie gebruik word nie. Dié agterryers het egter net 'n paar minute daarvoor nodig.
By die eerste staanplek spring die agterryers aan die werk en vinnig-vinnig hang die soetsuur reuk van halfverteerde gras in die lug. Die ingewande word in die veld gelaat en die springbokke se leë pense word met 'n krammasjien toegestik om stof en blare uit te hou.
Ná hierdie oefening word na die volgende kamp beweeg, ge-oes, stilgehou en pense getrek.
Met die tweede penstrek-sessie maak die agterryers 'n klein vuurtjie, maar die dun takkies en grassies se hitte hou nie lank in die veld se koue nie.
Teen vyfuur die oggend begin die son se eerste strale oor die aarde val, maar die nag se koue sou nog lank in my lyf sit.
“Jy het seker al die son honderde kere in die Kalahari gesien opkom?” vra ek vir Wittes.
“Ja-nee, ek't al baie gesien en die beste is dat ek nog elke keer nugter was,” sê hy.
Tydens 'n jagtog mag oesjagters nie alkohol gebruik nie.
Teen die tyd was ek half in 'n koma weens die koue en die gebrek aan slaap. 'n Mens slaap nie deur vlakvarkgate, hoë enjinrevolusies en geweerskote nie.
“Kom, daar is 'n vuur,” bring Wittes my tot die werklikheid terug.
Met die klapmus nog styf oor my gesig, staan ek saam met die groep om die vuur.
Die hongeres het van die derms skoongemaak wat net so in die kole gegooi word.
Einde van 'n rowwe nag
Die eerste sprake van huis toe gaan duik op.
“Ons keer huiswaarts, maar ons doen dit so jag-jag,” sê Wittes, terug in die voertuig.
Die “jag-jag” sou 'n ekstra drie ure se jag beteken.
Teen die tyd wat ons by die huis kom, het hulle die Vrydagnag 91 springbokke platgetrek. Dit was wel 'n stadige aand met springboktroppe wat nie sommer groter as sewe was nie. Op pad terug het 'n trop van minstens 25 of 30 verbygehol, maar hulle was nie in die jaggebied nie. Teen die einde van die oes die Saterdag was 170 springbokke geskiet.
Op die plaas word die bokke aan Van Zyl gegee wat dit dan verwerk soos die aanvraag ontstaan. Winkelsentrums, restaurante en lodges is die grootste kliënte.

BLOKKIE
"Met die aanvang van handelsregte vir private boere (1967) en kommunale boere (1996) om wild op hul plase te benut, het die diere nie net waarde gekry nie, maar hul getalle het ook aansienlik gestyg," het me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, voormalige minister van die omgewing en toerisme gesê in die voorwoord tot 'n studie wat in 2012 deur dr. Diana van Schalkwyk onderneem is.
Ingevolge die studie kom ongeveer twee miljoen stuks wild met 'n geskatte waarde van N$10,5 miljard vandag in die land voor. Groot- en kleinwild benut tans 30% van die beskikbare boerderygebiede, maar die inkomste uit die wildbedryf bereik slegs 20% van volle potensiaal daarvan.
Jaarliks word ongeveer 50 000 stuks wild geslag met die aanvraag na wildsvleis wat toeneem.
Gegrond op die studie was die aanvraag na tonnemaat ontbeende wildsvleis in 2012 soos volg: Namibië - 800 ton; Suid-Afrika - 230 ton; Europa - 700 ton en Amerika - 90 ton.
Om die karkasse in die hande te kry, maak boere gebruik van geregistreerde oesspanne wat in kommunale gebiede en op private plase jag. Permitte vir sodanige jagtogte moet vooraf uitgeneem word.
Jaarliks mag tussen 10% en 20% van die nasionale wildbevolking benut word. In Namibië is ongeveer 730 000 springbokke waarvan meer as 330 000 in die Hardapstreek voorkom. Mos-Mar Culling se teiken vir die twee dae was 200 bokke.
Die oesspanne jag regdeur die jaar, behalwe waar nagoeste ter sake is en 'n korter jagseisoen geld. Wanneer 'n boer te veel wild op sy plaas het, doen hy aansoek by die ministerie van die omgewing en toerisme om 'n sekere aantal wild te laat skiet. 'n Natuurbewaarder besoek dan die plaas en stel vas hoeveel van 'n sekere wildspesie geskiet mag word.
Behalwe om in die vleismark se aanvraag te voldoen, dien die oesjagte ook ander doele. Dit verhoed dat vrektes weens hongersnood nie voorkom nie en ook dat genoeg weiding vir vee op die plaas beskikbaar is. Oorbevolking beteken ook dat die wild nie normaal kan aanteel nie.
Goed, beter, 6millimeter!
User avatar
henried
Hero Member
Hero Member
Posts: 2280
Joined: Mon Jul 18, 2011 8:33 pm
Location: Vanderbijlpark
Contact:

Re: Oesjagters van die Noord-Kalahari

Post by henried »

Dit was nou lekker lees, goed gedoen julle.
User avatar
tau
Hero Member
Hero Member
Posts: 3734
Joined: Sun Feb 21, 2010 11:07 pm
Location: Grunau, Namibië

Re: Oesjagters van die Noord-Kalahari

Post by tau »

Goed geskryf. EK het al so 3 nagte in my lewe geoes in Suidwes. elkekeer het ek amper gevrek van die koue.
Moet nooit 'n goeie storie met te veel waarheid vernietig nie!!!
The Tool from Toolbag.
User avatar
Marc
Hero Member
Hero Member
Posts: 5967
Joined: Thu Jan 26, 2012 1:53 pm
Location: Vaalpark Sasolburg

Re: Oesjagters van die Noord-Kalahari

Post by Marc »

Legends O0
" Taking the safety off increases velocity by 100%" - Rayn Cleckner
User avatar
LongWolf
Hero Member
Hero Member
Posts: 832
Joined: Sat Mar 09, 2013 2:39 pm
Location: Pretoria

Re: Oesjagters van die Noord-Kalahari

Post by LongWolf »

2de artikel in n maand se tyd wat ek lees oor oes-jagters. . .

Ek is oortuig die manne het harder baard as n staalborsel se hare.

Maar sal graag net een aand wil saam uitgaan om te beleef.
Post Reply

Return to “Nag oes/Culling”