Page 1 of 1

Zululandjag 2024

Posted: Sat Jul 27, 2024 10:59 am
by Jaco vdW
Zululandjag 2024

Reeds aan die begin van die jaar begin ons gesels oor die jagseisoen, en die moontlikheid om by Nico Harris te gaan jag. Sweethome lê Noord van Melmoth in die hartjie van Zululand. Datums word vasgemaak vir Julie, en die lewe gaan aan.

Tyd vlieg verby, en kort voor lank moet ons in alle erns begin beplan en voorberei. Vanaf Somerset-Wes ry ons min of meer na die teenoorgestelde hoek van die land. Donderdag 11 Julie vertrek ons, en ry tot net verby Drie Susters waar ons by Elandsrus oorbly. Fantastiese plek om by oor te bly – inteendeel, mens kan maklik ‘n paar dae daar spandeer. Vrydag vorder ons tot op Harrismith, en Saterdag is ons so teen middagete op die plaas.

Ons ontmoet vir Dewald en sy vrou Sam, en om logistiese redes, skiet ons sommer gou ‘n paar skote by die skietbaan, voor ons die steil afdraende na die kamp aanpak. Die kamp lyk presies soos die ideale jagkamp moet lyk. Klipgeboue en groot bome. Lekker vuurmaakplek, en ‘n donkie sorg vir warm water. Lig word voorsien deur ‘n draad aan die bakkie se battery te koppel. Gas en oop vuur is daar vir kosmaak en om by te kuier.
Kamp1.jpeg
Kamp3.jpeg
Kamp4.jpeg
Daar lê 6 dae se jag voor, en die opwinding is tasbaar. Sommer vroeg-aand heet die roep van gevlekte hiënas ons welkom, en na 3 dae op die pad, kruip ons vroeg in.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sat Jul 27, 2024 11:01 am
by Jaco vdW
Die jag verloop tipies in twee sessies, so vanaf 06:30 as dit lekker lig is, tot so skuins voor middagete, en dan weer vanaf so 14:00 tot donker. Ons is 5 in die kamp, Dewald en Sam, ek en vroulief Telani, asook ons dogter Katrien wat nou eersdaags 4 word.
Ons maak beurte om uit te gaan veld toe, met een van ons wat saam met die gidse veld in, terwyl die ander een ‘n kort draai gaan stap of by ‘n dam of ou kraal gaan sit waar Katrien saam kan wees, en piekniek hou. Sy geniet die veld baie, en kuier heerlik saam.
Piekniek.jpeg
So hou ons piekniek in die veld terwyl ons vir die bokke wag!

Soos die dae verby gaan begin die rooibokke kanse bied, en in total skiet ons ses rooibokke deur die loop van die week.
Rooibokooi.jpeg
Rooibokram.jpeg

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sat Jul 27, 2024 11:04 am
by Jaco vdW
DGX.jpeg
Die 300gr Hornady DGX is herwin uit ‘n rooibokooi. Frontale skoot wat bietjie hoog geplaas is. Al die ribbes is gebreek, en die koeël is net voor die boud herwin. 242gr behou.

Dinsdagmiddag kry Dewald ‘n kans op ‘n baie mooi groot koedoebul. Hy gebruik een van sy 7x57’s. Die koedoe los ‘n baie duidelike bloedspoor, en hy word gevolg tot donker. Die plek waar hy oor ‘n pad is word gemerk, en ons keer terug kamp toe. Die volgende oggend toe die son op is, vat ons die spoor, en nie meer as 200m van die pad af kry ons die bul mors dood. 10 minute se ekstra lig die vorige aand sou hulle die bul gehad het. Tipies van die terrein word die bul uitmekaar gesny, en uit gedra tot by die bakkie.
Koedoe.jpeg

Vrydag is die laaste jagdag. Katrien ry bakkie saan met haar oom en tannie, en ek en Telani kry ‘n kans om saam veld toe te gaan. Na ‘n lekker lang stap gewaar Dewald 2 groot koedoes teen ‘n rant oorkant die klein dam. Ons is baie ver daarvandaan, en na ons min of meer kon verduidelik waar ons onsself bevind, kom haal hy ons, terwyl een van die gidse die koedoes dophou. Terug op die plek maak ons planne om te bekruip, maar die koedoes het ander planne. Hulle word duidelik nie so groot deur dom te wees nie. Ons jag verder te voet, en seker ‘n uur later sien ons ‘n njala aan die oorkant van ‘n kloof. Suutjies beweeg ons vorentoe tot by ‘n gemaklike posisie waar ons hom kan sien. Hy moes defnitief ons beweging gesien het, want hy gaan staan doodstil in ‘n bos. Nou raak dit ‘n speletjie van geduld. Na so paar minute se wag begin die njala weer wei. Twee ooie verskyn ook, en beweeg daar rond. Die bul beweeg rond tussen die bosse, en ons wag dat hy in ‘n opening moet stil staan. Na seker so half uur beweeg hy agter die ooie aan, en steek vas in ‘n opening voor ‘n groot boom.

Die oomblik toe die njala staan, klap die skoot uit Telani se 6,5x55 en jy hoor duidelik hoe die 156gr Oryx dup maak soos dit tref. Die bul trek sy agterpote op, en storm bult af, begin rol en stop teen ‘n boompie so 50 tree van waar hy gestaan het.
Ons stap deur die vallei en kry hom daar. Wat ‘n pragtige dier, en wat ‘n groot voorreg om hom te voet in sy natuurlike habitat te jag.

Njala.jpeg

Saterdag pak ons kamp op, en verskuif ons vakansie na Dewald en Sam se huis. Sondag doen ons ‘n daguitstappie na St Lucia en Kaap Vidal.
Maandag en Dinsdag werk ons vleis dat dit goed gaan, en teen Dinsdagaand is alles verwerk, en vakuum verpak, gereed vir die lang pad Kaap toe.

Ons vertrek Woensdag lekker vroeg uit Zululand, en bly op Geno se aanbeveling oor by Dirkvh buite Bethulie. Wat ‘n fantastiese plek! Dirk en Meloné laat jou so welkom voel, en die aandete is uit die boonste rakke. Dit kan maklik my gereelde oorblyplek word oppad KZN toe!

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sat Jul 27, 2024 11:09 pm
by Fanta300
Lekker!!
Dankie vir die deel.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 7:19 am
by Nico Harris
Was lekker on julle te sien Jaco! Geluk met die mooi bokke!

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 7:31 am
by JohanvB
Baie geluk!

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 10:09 am
by Lategan1
Baie mooi, dankie vir deel.

Beste.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 11:48 am
by Pappabeer
Dit was n lekker jag gewees. Daai koedoe was, wel kom ons sê, not my finest moment… maar hy lê en ons het gister die laaste biltong en wors gehang.

Vir die van julle wat Sweethome ken of dit oorweeg om daar te jag, die plek was hierdie jaar mooier as wat ek dit in baie jare gesien het. Zululand se grootste kopseer is die Zulus en hulle alewige sny van drade en wild stropery met strikke en honde. Nico het baie tyd en geld ingesit om dit te bekamp en die resultate is duidelik sigbaar. Daar is bitter baie koedoes en rooibokke, die vlakvark getalle tel weer mooi op en jy sien daagliks ten minste 4-5 grysduikers. Ons het n Suni ooi in die digte woud op die berghang gesien, sowel as bosvarke helder oor dag, en saans hoor jy die gevlekte hiënas as jy om die vuur sit. Soos altyd is die voeëllewe uitsonderlik met die baie water tans in die dam. Alles tekens van n gesonde ekosisteem.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 1:58 pm
by Gian_dP
Lyk of julle baie lekker gejag het! Geluk!

Sent from my SM-S921B using Tapatalk


Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 5:19 pm
by DWB
Lekker!!!!!!!!!!!!

Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 5:35 pm
by ruaanb
Lekkerste!!! Mooi bokke Jaco en Dewald.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 7:46 pm
by finch
Lekker Jakes. Mooi bokke en dankie vir die stories deel. Julle is braaf om so ver te ry...

Re: Zululandjag 2024

Posted: Sun Jul 28, 2024 8:54 pm
by Jaco vdW
Nico - dit was lekker om blad te skud, en werklik ‘n voorreg om op julle plaas te jag.

Dirk - dit is vrek ver om te ry, maar die tipe jag, en dit tyd in die veld maak dit oor en oor die moeite werd.


Sent from my iPhone using Tapatalk

Re: Zululandjag 2024

Posted: Mon Jul 29, 2024 7:11 am
by Frederik
Dankie vir die deel en geluk met die jag.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Mon Jul 29, 2024 8:24 am
by sako 30-06
Klink na n baie lekker jag daai en n fanatastiese plaas.
Baie geluk.

Re: Zululandjag 2024

Posted: Mon Jul 29, 2024 8:34 am
by Ockert1992
Baie lekker jag!

Re: Zululandjag 2024

Posted: Mon Aug 05, 2024 9:22 am
by DaavG
Thank you for a great write-up! Sounds like a superb hunt, congratulations! Awesome to have the kids in the veld with you, such a treat.