Oom Martiens en die rooi dood

Enige iets pas hier/ discuss anything here
Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 2150
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am

Oom Martiens en die rooi dood

Post by Koos Barnard »

Oom Martiens en die rooi dood

“Kola, ken jy die rooi dood?”

“Die Rooi Dood? Gaats Oom, ek het gehoor van die Swart Griep, die Rooi Gevaar en van Covid, maar die Rooi Dood ken ek nie.”

“Jong nou hoe issit dan met julle jongetjiesmense van vedag, ek het dam gedink jy sal vannie rooi dood weet wat jy oppe roer vasskroewe oorlat jy mos kleim lat jy ietsie van gewere weet.

“Ooo… Oom bedoel ’n red-dot, soos in red-dot sight, een van daardie visiere wat jy kan gebruik in plaas van ’n oopvisier.”

“Net so Kola, een van daai goete.”

“Ja, ek ken hulle, maar hoekom vra Oom?”

“Jong ek was mos weer nourie dag da’ by ou Seningvel en toe kom daar ’n pie-yts aan mette helse roer. Hy kom check glo net Seningvel se veld se gearentheid en waar sy buffels loop en so aan want hy wil een of anner tyd ’n iendustrial taaikoen bring om ’n dagha boy te kom skiet.

“Watse man het daar aangekom Oom, ek verstaan nie.”

“Man, ’n proefessienil hunter, ’n pie-yts.”

“O, Oom bedoel ’n PH soos in professional hunter.”

“Kwit Kola, is mos wat ekkie hele tyd seg. Lyk my jou Ingels het verlep geraak.

“Anyway, en oorlat die klein-kampie buffels mos lekker beneuks kan raak oor die telers so baie mit hulle neuk, trek die mannetjie toe daar ’n doodskietroer uit ’n koedoevel-geweersak uit. Dis nou om saam te dra want hy willie met sy voertuig innie veld loop peuter nie, hy wil te voet gaat ienspekt. Nou ja, is toe hy darie roer uit die sak haal en patrone innie magasyn begin te druk lat ek sien die geweer het saam met sy korrel en visier een van daai rooi doodte op hom. Jong en net daar laat dit my toe dink aan my eerste kennismaking met dié goed.”

“Ek dag Oom wil vertel van die PH se geweer.”

“Nee man wag nou, ek seg mos, is maar net sy roer wat my weer oppie spoor gesit het van my eerste ontmoeting metie rooi dood. Verstaan jy nou?”

“Ja, ekskuus Oom.”

“Oukei, nou moenie my weer kom onnerbreek as ek my gedagtes mooi bymekaar loop staan en vat hetie, gehoor.”

“Jammer Oom.”

“Anyway, dit was so ’n paar jaar gelede toe moet ek eendag gaat uithelp doer iewers naby die Wildtuin langs ’n rivier om plaerige bosvarke op hulle plek te sit. Die klomp varke het glo ’n nuwe triek getrek oppie boere. In plaas van snags kom rondloop oppie lande het hulle hier teen laatmirrag kom oë wys. Daarom had ons toe glo nie skietligte nodig nie. Oppie plaas aangekom was daar alreeds so ’n langharige Ingelse pie-yts wat my sou bystaan. Toe ons die roere by die plaashuis uit hul sakke haal, kyk hy my 7x57 sóóó aan en vra toe of hy deurie skoup kan kyk. Toe hy die geweer laat sak, seg die klong, ‘Oom, I fienk we mast use my rifles, your skoup looks a bit cloudy.’

“Kwit man en net daar erg ek my virie klong en seg vir hom in duidelike taal lat my skoup gin niks met blerrie wolke te make hetie. Dis ’n ordentlike Weaver Kei fôr en as ekke deur hom kyk, sien ek veld en bokke, nie wolke nie.

“Mar hy steur hommie aan my nie, haal net twee roere uit wat elk so ’n swart moesie-dingtjie op hulle vasgebout had en seg ‘Oubaas check dis out.’ Ek vra die kêrel wat virre goed dit is en hy seg toe disse Eim-point, ‘to shoot fast wif bouf eyes open ien ên iemergensie’ or êt running games.’ Die goed het glo nie vergroting nie en ’n “waaid field of view” of so iets, maar ek weetie van daai veld nie want jy sien gin niks anner velde as jy deur daai ding kyk nie, net gewone veld. En toe vertelle hy my van daai klong in Europa wat glo die willevarke so moor, ene Albertus van Oets vannie Speelberge.”

“Oom bedoel seker prins Frans Albrecht von Oetingen Spielberg van Duitsland. Die man wat die video’s maak oor varkjag in Europa.”

“Jong ek weetie, is seker maar daai Oets-kêrel. Ek weet nou netie in waffer land daai Speelberge issie. Maar ek wonner waar kry die arme kêrelmens dié aardige naam. Ek meen, ek oets net as ek naar is.”

“Hoe bedoel Oom dan nou van oets.”

“Opgooi man, kots as jy dan nou wil… dit wat jy doen as jy naar is of as jy bietjies te veel vannie wingerdstok se sop deur jou gorrel loop staan en jaag het. Oets is mos ’n mooier woord as ko… ek bedoel opgooi. Disse woord wat jy gebruik as Mevrou Dominee of jou ouma innie vertrek is en jy respektawel wil klink. Ek wou nou nie so ’n kras woord voor ’n jongetjiesmens soos jy gebruik hetie maar jou ieknorentgeit met ons moedertaal saam het my nou genoodsaak om jou op te voed.

“Anyway, toe ons nou so staan ek kyk na die roere druk die kêrelmens een in my hanne en seg ek moet kyk of ek sil regkom. Jong, en ek loer so deurie bokdrol-moesie oppie geweer maar daar is net mooi niks waarmee ek kan korrel nie. Hy het net twee glasietjies, een aan sy voorkant en een aan sy gatkant met bôkkerol tussen in.”

“Oom Martiens maar is bokdrol, gatkant en bôkkerol nie ook kras woorde om voor my te gebruik nie,” laat ek vermakerig hoor.

“Kola, moe’ nou nie kom staan en hans raak nie, daar is mossie ’n anner naam vir daai goed nie, dis hulle name. Jou ma het jou mossie geleer om so kontant mit ’n oumens te raak nie? Bly nou stil lat ek my storie kan storie.

“Ek seg toe virie kêrel, hierie is nou regtag ’n iemergensie want hier is net mooi sweet blou bôkkerol innie skoupie. Ek meen, hoe gaat jy dan nou enigiets raakskiet as jy deur die kaal glasies kyk, jy het mos ’n kruishaar nodig. Is toe laat hy beduie ek moet eers die moesie opstart. Die ding het so ’n wielliekie-swiets aan sy regterkant. Jy draai hom tot daar ’n liggie binne-in skyn. Hy wys my toe en wragtag, toe ek weer kyk, sit daar ’n inkelte rooi maselkolletjie vir my en loer.

“Ek knyp my een oog toe en beweeg my kop vorentoe en agtertoe maar die klong sê ‘kiep bouf eyes open ên jis put de dot on de target. Kwit man en ek maak soos hy sê en wragtag, dit lyk of dié spul kan werk maar daai kolletjie is vrek groot en vreeslik helder. Die pie-yts seg ek moet netie kolletjie tjoen for de kôrrek braaitnes for your eyes. Man, en ek begin die wieliekie te draai en wragtag Kola, daar is die masel skielik net so ’n pikante, klein koeëlronne ogie.”

“Now remember, you kiep bouf eyes open en you look froe de saait. Jis put de red dot on de target ênd pull de trigger,” so verduidelik die Ingelsman my weer.

“Toe seg hy ek moet darem ’n proefskoot skiet net om te sien of ek sil regkom. Jong, en daar gee hy my die anner roer, want die een wat ek in my hanne het is glo ‘toe mats gun for ên old toppie’. Dis glo ’n fôr-one-sieks wat skop soos ’n steeks muil. ‘Raader take my .318. But be careful iet is a klêssiek old gun, dount damage iet.’

“Klêssiek ênd ould né, so is I too, dount warrie I know how to hêndel ould fiengs,” seg ek hom. “Kwit Kola en hy loop sit ’n boks op so 40 treë waarop hy ’n swart kol so groot soos ’n piering gemaak het en seg, ‘Toe Oubaas shoot’. Kola, waar was jy? Toe daai skoot slaan, kyk hy my so half verbaas aan en hy loop na die boks se kant toe.

“Daar aangekom staat hy en hy kyk… en hy kyk. Later fluit hy so lankerig en sê, ‘Holy smokes, you are lucky hey.’ Want sien Kola toe sit daai skoot van my net so neffens passersteek innie mittel van daai kol. Jong ek net daar erg ek my opnuut virie kêrel en ek skrou. ‘Hey you, stênd lapaside or I will shoot your nose against de boks.’ Hy was nog aan’t rittereer toe werk ek daai roer se slot en ek jaag sommer die orige drie skote uit die magasyn weer deurie swart kol. Kwit Kola, vererg die mannetjie hom op sy beurt en hy skrou, ‘Doe you know how mats dose bullets cost, you crazy ould fool? Don’t waste my ammo.’

“Jong, en so al pratende sit hy die stuk in na my toe, maar is toe lat ek vir hom sê; ‘Never call me Lakkie, dêt is not my name. I is Martiens ênd I kên shoot.’

Oom Martiens het keel skoongemaak en sy blikbeker betekenisvol na my toe uitgehou. Die boodskap was duidelik… die gesels het hom dors gemaak. Die hartmedisyne waarvan Oom Martiens hou, was op en toe gaan grawe ek maar ’n ander bottel geselswater uit.

Toe ons weer elkeen met ’n drinkding sit vra ek: “En toe Oom? Wat het toe geword van die varkjagtery?”

“Kwit Kola, nee jong ons het daai varke ’n les loop leer. Toe ons by die lanne aankom, was daar al wragtag vyf kalante besig om heller oordag vir hulle dik te vreet. Ons kon hulle nie mooi sien nie en moes toe nader sluip, maar’ie windjie het ons weggegee toe ons omtrent 50 treë van hulle af was. Gelukkig was daar ’n kaal stuk grond wat hulle moes oorsteek rivier se kant toe. Is toe lat daai PH aangooi en wragtag Kola, al was hy nou Ingels, die klong kan vir jou sneller trek. Hy had mit twee skote twee varke platgeskiet voorlat ek darem ôk een skoot ingekry het en ’n mooi sog kon lêmaak. Die anner twee varke is toe ongeskonne weg voor ons hulle kon skiet.

“Jong en nou moet ek darem seg, daai rooi doodte skiet tog te lekker assie varke so hardloop. Jy hoef mossie eers ’n korrel en visier te lat hand vat nie, jy sit net daai rooi maseltjie voorie vark se neus en lat loop. Seker die wat daai Van Oets-mannetjie die varke so moor. Was hy nou ’n Afferkaner offe Ingelse pie-yts soosie mannetjie wat saam met my gestap het, sil hy seker nog meer varke kon skiet.”

“Oom Martiens die Duitse prins het nie sy gelyke as dit by varkskiet kom nie. Ek dink nie hy hoef ’n Afrikaner te gewees het nie.”

“Oukei Kola, whatever. Maar ek wil maar net sê, ’n ou mens soos ek leer ôk partymals nuwe goed en ’n mens moet nou nie jou neus staat optrek virie tegnologie nie. Vat tog nou raad vanne ou man Kola. Moet nooit dink jy is te wetsgeleerd om nie iets vanne anner mens te kan leer nie, anners gaat jy dalk hambel biskits eet.”

“Die uitdrukking is eintlik humble pie eet, Oom.”

“Whatever Kola, beide word van deeg gemaak, so is mar die selle ding. Anyway, waar loop grawe jy hierie medisyne uit wat jy nou in my beker staan gooi het.”

“Dis ’n droëwyn Oom, Sauvignon Blanc, ongelukkig al wat ek nou oor het.”

“Hel Kola, droog is hy voorwaar droog, skone bêtterie acid, smaak my hy gaat my lippe en tong laat bars soose vloer vanne gronddam innie droogte tyd. Ek wil nou nie die mense vanie Wynland staat en beledig nie maar dis nou ’n asynsappie hierie watte mens sal laat oets na net ’n glasie of twee. Wat sal hulle tog besiel om ’n aftreksel soos hierie uitie edele wingerdstokke te loop tap? Jy moet voor ons volgende kuier ietsie loop koop wat ’n bietjie meer soeterigheid ommie lyf het.

“Hoe seg jy nou weer, wat is daai Duitser se naam wat so skiet, Van Oets en Dinges? Darem vreeslik om so ’n naam te moet dra. Sy pa-hulle had seker ook Soufie Blanc gedrink die dag voor hulle sy naam loop registreer het, toe kan hulle aan niks anners dink as oets nie. Kola, jy moet tog wag tot jy in ’n goeie bui is voor jy jou kinners naam gee eendag, gehoor.”

“Dis reg Oom, ek maak so.”

Oom Martiens het die laaste inhoud van die beker met een beweging in sy keel afgegooi, sy lippe saamgetrek, geril, sy kop geskud en saggies gesê, “Bid jou aan, Van Oets en Dinges.”
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
Last edited by Koos Barnard on Fri Jan 12, 2024 8:33 pm, edited 1 time in total.
JohanvB
Hero Member
Hero Member
Posts: 2592
Joined: Thu Jun 30, 2011 9:28 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by JohanvB »

Uitstekend!!
User avatar
ruaanb
Hero Member
Hero Member
Posts: 5557
Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by ruaanb »

Absoluut nou so lekker gelag
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2172
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by Johan Nel »

Uitstekend! Ek het nou lekker gelees.
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
Ockert1992
Hero Member
Hero Member
Posts: 827
Joined: Wed Mar 13, 2013 7:35 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by Ockert1992 »

Netjies oom Koos!
User avatar
Rawstorne
Full Member
Full Member
Posts: 122
Joined: Mon Oct 10, 2022 6:26 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by Rawstorne »

Dankie Oom Koos!

Nou wiet ek ôk van 'n rooidood.


Vreudge
User avatar
Bonesjara
Jr. Member
Jr. Member
Posts: 75
Joined: Tue Jun 07, 2016 8:10 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by Bonesjara »

Mooi geskryf!

Sent from my SM-G998B using Tapatalk

User avatar
Ratel
Hero Member
Hero Member
Posts: 1876
Joined: Wed Mar 27, 2013 4:50 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by Ratel »

Sal lekker luister na oom Martiens om n kampvuur. Mooi storie.
Maak 'n verskil
User avatar
finch
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 458
Joined: Thu Jul 14, 2016 2:44 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by finch »

Waar is die like knoppie?
J le Roux
Hero Member
Hero Member
Posts: 1111
Joined: Tue May 20, 2014 8:10 am

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by J le Roux »

Gril ek ook nou vir daai droeë suurwyn:)

Mooi geskryf Oom Koos.
Vat genoeg skietgoed veld toe, daar's nie winkels nie.
JG Landmann .22LR, Howa 30-06, M98 DWM .375H&H deur Ossie Penzhorn, 7x57 Oberndorf AN Mauser, Musgrave Mod 80 30-06.
partner
Hero Member
Hero Member
Posts: 982
Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm

Re: Oom Martiens en die rooi dood

Post by partner »

Pragtig en nou geniet. Dankies.
Post Reply