"GAAN EK MY VARKIE SKIET PAPPA?"
"Ja my seun"
"Pappa is die beste pappa in die hele wêreld!!!"
Daai woorde maak n man se hart bloei.
En toe begin die "hoe ver nog pappa, hoeveel moet ek tel voor ons daar is pappa, die Waterberge lyk nog te ver vir al die vrae.
Ons kom by oupa aan en maak reg om plaas toe te ry. Die plasie is so 16km buite Warmbad net so oorkant Elements golfbaan.
Daar aangekom word ons vriendelik verwelkom deur die plaaseienaar oom Danie. Hy wys ons waar ons die varke kan voorsit. 100m van die grondpad en 200m van die opstal in n baie ou klip kraal wat al deurgroei is van die Sering langs n klein lusern land. Ek begin oupa se organisasie vermoë betwyfel, maar ons kyk nie n gegewe perd in die bek nie.
Ons probeer n skiet posissie kry waar die 7jarige gemaklik sy skoot kan vat. Nie so maklik nie. Ons moes n klomp kakibos ontwortel. Ek sit die 223Ai in n X sak en kry hom om op verkillende Hadidas te mik om te sien of hy darm die geweer kan rond beweeg.
Ons gaan sit. Daars geen wegkruip plek vir die son. Ons sit ook teen n skuinste. Die stoel wat ek vir boeta gebring het is nat nuut en kraak soos n Simba chippie elke keer as hy beweeg. Ek doen maar die pa ding en gee vir hom my stoel en gaan sit op n koue klip. Elke nou en dan rek ek my nek om oor die muur te loer. Ons sit daar tot die son agter die koppie verdwyn met net n klomp raserige Tarentale wat hul verskeining maak. Oupa besluit toe dat die huis naby genoeg is en dat daar nie genoeg OBS in die wêreld is wat hom hier gaan maak slaap nie. Ons pak op en ry terug Warmbad toe.
Boeta is erg gemoedsbekak want hy het nog nie sy varkie gekry nie. Ek probeer hom verduidelik dat die bos nie n winkel is nie en dat jag baie geduld neem. Dit gaan bo oor die 7 jarige begrip.
Volgende oggend na koffie en beskuit vat ons weer die pad. Die ryp le amper so dik soos sneeu in die koelte van die bome, dis koud.
Ons gaan neem ons posissie in. Nou sit ons in die koelte en die Long Johns doen nie wat dit op die pakkie sê nie. Die man begin moan. Twee pare kouse, twee sweetpakbroeke, twee langmou hempde, n T-hemp en sweetpak top is nie genoeg nie. Ek gaan haal n ekstra badjie en gooi die man toe. Nie lank nie toe is hy in droomland. Ek het n paar Man Magnums saamgebring en lees oor n man watsy skoene verloor het soos hy vir n Buffel weg gehardloop het. Ek voel my foon vibreer. Dit is n besorgde mamma wat wil weet of sy haar kind lewend gaan teug kry. Ek neem n foto van die slapende laitie en soos ek dit stuur loer ek weer oor die muur. Die varke is klaar in die land. My hart mis n paar kloppe. Ek staan gehurk op gaan kniel voor die mannetjie en maak hom saggies wakker.
"Basjan, die varkies is hier"
Die man se oe vlieg oop. Daar is geen teken van slaap. Sy mondhoeke strek tot by sy ore. "Regtig pappa" fluister hy.
Ek tel hom saggies uit sy stoel en help hom laag bly tot waar die 223Ai vir hom wag.
Hy skuif agter die teleskoop in. Ek se hy moet een van die 3 varkie kies en net op hom fokus.
Ek haal die roer se viligheidsknip af en sê vir hom net die 5 woorde "Wees kalm en maak seker"
Die man se borskas swel van die groot asem, hy blaas rustig uit en net soos ons ge-oefen het loop die skoot op leë longe.
Die stof staan op die varkie en hy is onderstebo. Pote skop in die lug. Ek begin amper huil. My haasbek seuntjie is nou n JAGTER. n Paar jaar van oopvisier windbuks skiet elke dag na skool, skootplasing oefen in die MAN Magnums met n skyf 50mm pvc pyp met n kitaar snaar kruis en oefen op die baan het uitgeloop op n ervaring wat ons n leeftyd sal hou.
Die 69gr SMK het agter die oor ingegaan, die nek werwels geslaan en uitgegaan by die oorkantste oor. Ek het die oor so 5m weg op die grond sien lê, maar voor ek hom kon optel het die oom se Jack Russel hom geskraap en begin kou.
Ek het hom belowe dat hy n mes sal kry as hy sy eerste varkie of bok geskiet het.
Dit was die eerste mes wat ek gesmee het, ook die eerste skede wat ek gemaak het.
Die hef is heel gepas van Vlakvark tand en Hardekool. Dis nie die mooiste mes wat ek al gemaak het nie, maar dit beteken iets. En eendag kan hy dit dalk aan sy seun oorhandig met sy eerste jag
Weereens besef ek watse groot voorreg dit is om kinders groot te maak en om die Vader se skepping te kan beleef.




Sent from my SM-A325F using Tapatalk

