Dankie dat jy my herhinder Chris
Die jag was toe 'n groot sukses. Ons 6 manne moes Donderdag 'n 4 duim gong op 200m raakskiet. Enkeles moes maar terug 100m papier toe en dan Strelok hulp kry om op die gong te laat sing. Dit was duidelik wie deeglik voorberei het en wie nie.
Die plaas is nie baie groot nie. 1000Ha, maar saam met groot grasvlaktes is daar ook asemrowende diep klowe en rante, en met gedeeltes digte bos was dit 'n lekker uitdaging.
Bakkie bekruip was aan die orde van die dag. Ons het in 2 groepe opgedeel sodat elke voertuig se jagters so veel as moontlik teiken spesies kon dek, en nie vir mekaar kyk as daar 'n skoot geoffer word nie.
Donderdag was daar toe geen reen nie. Ons groep het rante, klowe en plato gekry. Oppad teen die een rant uit het ons Rooiharte teen die oorkanste kloof gewaar. Dit was op my spyskaart en ek het aangele terwyl my vriend range, 194m. Die 165gr SGK SBT @2800fps uit my 30-06 het die blad getref waar ek gemik het (dankie Marius 3poot). Ons moes ver omry to bo op die ander rant, die 15minute was maar senutergend, maar ons het die koei gekry seker so 20m van waar sy getref is. Ek het die koeel onder die vel op die ander blad herwin, 122gr 74% retensie. Die skoot oor die kloof was 'n nuwe ervaring en ek sal dit lank onthou.
RHB.jpg
Later die middag het ek 'n kans gekry op blesbokke. So maklik en dom as wat hulle in die bosveld is, so wakker en besig is hulle in die vlaktes. Hulle laat spaander sommer as jy nog ver is, en hou aan maal. Ek kon darem 'n 230m oop skoot op 'n ooi kry, die bladskoot was weer suksesvol.
Vrydag oggend het ons 'n wit blesbok gewaar wat nie lekker was nie, hy het alleen en moeilik teen die oorkantste kloof uitloop. Die eienaar het gevra of ek hom sal skiet. Ek het nie 'n behoefte aan gekleurde wild nie, maar na 'n skoot agter die blad het hy nie ver gekom nie. Ons kon sien hy het 'n paar week oue kwesskoot weg, moes van voor af gewees het, skrams boudskoot aan sy regter agterbeen.
wit bles.jpg
Vrydag middag was daar ligte reen, maar ons is veld toe. Ek wou graag 'n swartwildebees skiet, maar hulle was baie wakker. Daai narre hou van hardloop. Ons was gelukkig om hulle tussen die vlakte en bos te kry staan. Dit het vir my gevoel of hulle besluit nos toe of vlakte toe... Die afstand was 325m. Toe een mooi oop en stil staan het ek die sneller getrek. Die bul het soos 'n Mustang perd opgespring en soos 'n speenvark greskreeu. Hy is met 'n spoed weg bos toe. Ons het hom 5 min later opgespoor, op sy voete maar staande dood. Ek het hom met nog 'n skoot verlos. Die eerste skoot was 'n suiwer lae bladskoot, reg in lyn met die been, met die uitgang 2 duim hoer en 3 duim agtertoe. Dit was merkwaardig dat hy nog 5min kon oorleef en so 400m ver kon kom. Ek wonder nog of die blou of swart beeste die taaiste is.
bwb Skoot.jpg
Vrydag aand het die reen aangekom, en het Saterdag oggend ook gepla. Tussen ons ses is 18 bokke geskiet, ongelukkig was 'n BWB en Waterbok gekwes en nie gevind nie.