Verkeerde prys van aanlynwinkels?

Post Reply
Eugene
Hero Member
Hero Member
Posts: 6027
Joined: Thu Jun 21, 2012 11:41 am

Verkeerde prys van aanlynwinkels?

Post by Eugene »

Ek het vanoggend hierdie op die net raakgelees. Dalk vind julle dit ook interessant.
“Ek het onlangs ‘n rekenaar teen R499.00 by ‘n aanlynwinkel gekoop, maar nou weier die winkel om die rekenaar vir my te stuur omdat hulle sê die prys was verkeerd en moes eintlik R8,499.00 gewees het. Hulle moet dit tog sekerlik vir my stuur as hulle dit op die webwerf teen R499.00 geadverteer en ek daarvoor betaal het?”

Hoewel ‘n mens se eerste reaksie op hierdie vraag sal wees, “natuurlik moet die verskaffer die rekenaar aflewer!” is die antwoord nie so eenvoudig nie en hang dit van ‘n klomp faktore af.

Eerstens moet ‘n mens kyk na wanneer ‘n aanbod as “aanvaar” beskou word indien goedere te koop geadverteer is. In ons gemenereg was dit lank die verstandhouding dat die advertering van goedere bloot ‘n uitnodiging is om besigheid te doen en nie ‘n bindende aanbod is wat ‘n verbruiker kan aanvaar nie. Maar is hierdie posisie ook van toepassing op aanlyn-transaksies en sal die verskaffer dus slegs gebind wees aan die transaksie sodra dit die verbruiker se aanlyn-bestelling aanvaar word, wat so die verskaffer steeds kans gee om die bestelling te weier as ‘n fout met die prys gemaak is?

Die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies (“EKT Wet”) is oor die algemeen van toepassing op alle aanlyn-transaksies. Hoewel oop vir interpretasie, ondersteun die EKT Wet klaarblyklik steeds die beginsel dat die advertering van aanlyn-goedere neerkom op ‘n aanbod, en sou die verbruiker hierdie aanbod aanvaar, die transaksie bindend is. Dié posisie word klaarblyklik ook internasionaal ondersteun met ‘n New Yorkse Appélhof wat onlangs bevind het dat sodra ‘n verbruiker die ‘Ek aanvaar’-knoppie op ‘n webwerf druk, ‘n bindende transaksie gevorm is.

Die EKT Wet reguleer die verbruiker se regte wat betref die foute wat hy/sy kan maak, sowel as ‘n afkoelperiode, maar dit sê egter niks oor wat gebeur indien die verskaffer ‘n wesenlike fout in die prys gemaak het nie. Dit opper dan die tweede vraag, rakende of ‘n verskaffer gebonde aan ‘n duidelik foutiewe prys gehou moet word wanneer die verbruiker bloot ‘n winskopie probeer opraap. Hier bepaal ons howe dat waar ‘n verskaffer ‘n blatante prysfout maak en ‘n verbruiker daardie fout probeer uitbuit, dit die verbruiker se plig is om te vra of die prys reg is en of dit ‘n fout is. As die verbruiker dit nié doen nie en gewoon voortgaan om ‘n winskopie te probeer kry, sal die verskaffer nie aan die transaksie gebonde wees nie aangesien daar effektief geen ooreenkoms oor die prys tussen die partye bestaan het nie en die verbruiker moes bewus wees dat dit ‘n fout is.

Laastens kan die terme en voorwaardes van ‘n webwerf ook die posisie rakende die verskaffer se verantwoordelikheid vir die pryse beïnvloed. ‘n Verskaffer kan in sy terme en voorwaardes bepaal dat ‘n transaksie slegs bindend sal wees sodra die verskaffer die aanbod van die verbruiker aanvaar, selfs al het die verbruiker reeds betaal. Sodanige terme en voorwaardes sal dan ook die verskaffer in staat stel om te onttrek van ‘n bestelling met ‘n verkeerde prys.

In jou situasie, sal ek dienooreenkomstig aanbeveel dat jy eers die terme en voorwaardes van die aanlynwinkel lees. As dit dan duidelik is dat die winkel ‘n transaksie slegs as bindend beskou sodra hulle jou aanbod aanvaar het, sal hulle daarop geregtig wees om nie jou bestelling teen ‘n verkeerde prys te aanvaar nie. As hulle terme en voorwaardes niks sê rakende die aanvaarding van jou aanbod nie, sal die verstek posisie van die EKT Wet van toepassing wees en bepaal dat ‘n aanbod bindend is sodra jy die bestelling geplaas het en hulle aanspreeklik gehou sal word vir die bestelling, tensy daar ‘n voor-die-hand-liggende prysfout was. In hierdie geval, reken ek dat die fout wel voor-die-hand-liggend is, en dat indien jy nie navraag gedoen het oor of die prys korrek was nie, daar gronde vir die verskaffer sal bestaan om van die transaksie te onttrek omdat ‘n duidelike fout gemaak is.
Aim small, miss small
Post Reply