DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post Reply
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by PWV »

NOG ‘N BLINK KLIPPIE VIR DIE OU BALLIE

Dit was tydens Interskole in die Paarl dat die 1975-matrieks ook hul reünie gehou het. By hierdie geleentheid het Jan na my toe gekom met die uitnodiging om by hom te kom jag - op Ratelfontein in die Richmond-distrik. “Ek het ‘n bestuurder vir jou gereël. Jy en Arrie moet kom. Die naweek van 18 September, as dit vir julle geleë sal wees.”

So het nog ‘n blink klippe in die skoot van ‘n oudonderwyser geval om iets te doen wat hom nie aldag beskore is nie. Vir my gesondheid was dit goed en sleg. Sleg, omdat ek nie goed geslaap het met die jag in die vooruitsig nie en goed omdat ek gevoel het oudskoliere dink darem nog aan my.

Ek kom by Gawie en vertel hom, want dit voel of ek die Lotto gewen het. “Oom, maar dan gaan jy die ghong-skiet op Riebeeck mis!” Kan amper nie glo dat hy ernstig is nie, maar dan merk ek die vonkel in sy oog.

Op Vrydag, 18 September om 06:00 stop Arrie en Nieklaas voor my hekkie en die eerste ding wat ek aangee om gelaai te word, is my 7 mm Mk 1 Tombi en die ammunisie. ‘n Rukkie later stoot hy die neus van die Mercedes ML 350 CDI deur die tonnel, noordwaarts in die rigting van Richmond. Vroeër jare het almal geweet hoe lyk ‘n Mercedes, maar deesdae is daar so baie soorte dat jy moet spesifiseer!

Nieklaas is in beheer van die vyfster-padkosmandjie hou ons kakebene aan die gang, terwyl ons ou jagstories uitpak en bespiegel oor wat voorlê.
Ratelfontein het vroeër aan die beroemde hartpioenier, Chris Barnard behoort en Jan en sy vrou, Jenny het die plaas omskep in ‘n lushof vir die jagter. - natuurlik hoofsaaklik vir oorsese jagters. Die akkommodasie is vyfster en daar is ‘n verskeidenheid van wildsoorte te kies en te keur.

Met al die geselsery het die tyd en pad gevlieg en anderkant Driesusters begin ons uitkyk vir die afdraaipad na Bloemhof. Dit is 12:00 - baie goed gery. Bloemhof vorm deel van Jan se grond en word as ‘n gasteplaas bedryf. Daar ontmoet ons ook vir Jenny en die bestuur. ‘n Tafel staan gedek en ons sit aan vir ‘n heerlike bobotie-ete met alles wat daarby genuttig word. Direk na ete stoot ons aan Ratelfontein toe, so agt kilometer verder.

Ratelfontein, wat ‘n oase in die Karoo! Jan het elke buitegeboutjie gerestoureer en dit is funksioneel ingrig vir, onder andere, ‘n keldertjie waar talle wyne verouder, ‘n intieme klein kroeg vir die dorsige jagter, slaapplekke, slagplekke en ook ‘n klein kapelletjie waar kerk gehou kan word. Maar ons moet vinnig aflaai en met ons gewere op die skietbaan kom. ‘n Volledige skietbank met teikens op 50, 100, 200 en 300 meter, in die skadu van groot bloekombome. Ek skiet twee skote op 100 en Jan klyk deur die verkyker en sê,
“Jou tweede skoot is seker nie op die teiken nie?”
“Nee, Jan, fokus net jou verkyker”, laat ek hoor.
“Jammer swak gekyk, skote sny mekaar.”
Ek stel die teleskoop twee minute op en skiet ‘n skoot op 200 meter. Geen probleem om die klein kolletjie te tref nie. Arrie en Niklaas sukkel bietjie met sy 300 H&H, maar uiteindelik is ons veld toe.
“Sniper, skiet jy eerste”, laat Jan hoor voor uit die bakkie. (‘Sniper’, na aanleiding van my skote op die skietbaan). Skielik voel ek die druk op my. As ek nou doogmaak, is my hele reputasie in sy maai. Maar, ek dink aan die ure op die skietbaan en dat my geweer daar gedoen het wat ek vra. Waarom nie nou nie.
Toe ons oor die nekkie ry, staan ‘n trop van ongeveer 20 blouwildebeeste voor ons. Skielik maal hulle effens en draf dan weg. Toe hulle uiteindelik gaan staan, meet Arrie die afstand. 250 meter. Ek het eintlik gehoop op ‘n nader skoot.
“Toe, Sniper, hulle gaan nou weer beweeg. Die een in die middel van die trop wat so oop staan.”
Teleskoop drie en ‘n half minute op en met die kruishaar agter die blad, klap die skoot. Ek kon sien waar die stoffie op haar blad uitslaan en weet hierdie koei gaan nie lank staan nie. My eerste blouwildebees en met groot verbasing sien ek hoe sy saam met die trop draf. Net voor my moed in my skoene sak, slaan sy skielik in ‘n stofwolk neer. Perfekte skoot net agter die blad wat die longe baie seergemaak het, maar nie die hart getref het nie. Ons haal die pens uit en laai die bok op terwyl die son in die weste nader beweeg aan die horison.
“Ons kom môre weer”, sê Jan.

Die aand word daar murgbene oopgekap voor die kaggelvuur. Stories en insidente van die manne se skooldae in die sewentigerjare. Kattekwaad en stoutighede wat nou tot my ore kom, maar deesdae is daar ‘n wet teen lyfstraf! Ons sal dit nou maar nie hier uitlap nie, maar wat duidelik bleik is dat hierdie manne nooit ‘n tekort aan inisiatief gehad het nie en dit dan ook later in ‘n rigting gekanaliseer het wat hulle uiters suksesvolle sakemanne gemaak het.

Dit is voor sonop toe ek wakker word en ek kyk deur die groot venster. Voor my is ‘n spruit en dan daarvandaan ‘n steil randjie – so 70 meter van my af. ‘n Beweging vang my oog en ek pluk die verkyker nader. Vier takbokooie staan onrustig en tuur in my rigting en ek raak weereens bewus van die ongelooflike skerp sintuie van wildsbokke. Hulle het my darem ‘n paar sekondes gegun om hul mooi te bekyk voordat hulle met grasie oor die rug verdwyn.

Na ‘n beker lekker moerkoffie en beskuit, bestyg ons weer die bakkie. Nou is dit Niklaas se beurt om iets neer te trek. Sy eerste twee skote is mis. Ek kon sien hy is nie heeltemal vertroud met die 300 H&H nie. Hy deins bietjie terug as hy die sneller trek, want die geweer werk bietjie met sy skouer.
“Vat my 270”, sê Jan.
Met die skietstok in die hand, bekruip hy een van die swartwildebeeste wat ons in die leegtetjie kry. Hulle doen hul beskrywing as die “narre van die veld” gestand deur skielik weg te spring, in die rondte te maal en een malle wat die ander malles bestorm en stof maak. Die dowwe dup-geluid nadat die skoot geklap het, dui op ‘n raakskoot, maar daar val niks. Nog ‘n skoot en weer ‘n dup-geluid, maar hy val nie. ‘n Derde skoot is ook raak, maar toe verdwyn hulle oor die rand. Niklaas en ‘n gids volg ‘n duidelike bloedspoor en ons ry vorentoe met die bakkie. Anderkant die rand staan ‘n bok, kop onderstebo. Jan kyk deur die verkyker en laat weet dat dit die kwesbok is. Arrie meet die afstand. Dit is 334 meter.
“Laat waai, Sniper”, kom dit van Jan.
Die teleskoop se stelknop kirr as ek ses minute op stel en toe klap die skoot. Genadiglik sak hy net daar in sy spore neer.
Ek het daarna nog ‘n swartwildebees en ‘n scimitar (sahara) gemsbok geskiet – al drie die wildsbokke was eerstes wat ek by my lysie van wild kon voeg.
Niklaas en Arrie het later elkeen ‘n pragtige springbokram geskiet – ‘n nekskoot en ‘n kopskoot, onderskeidelik.
‘n Wonderlike dag in die veld en ‘n voorspoedige jag het tot ‘n einde gekom toe ons huiswaarts keer en met groot verwagting uitgesien na die Springbokke se aanslag op die Wêreldbeker 2015. Wat ‘n antiklimaks om ‘n perfekte naweek mee af te sluit toe Japan, van alle spanne, die Bokke in hul spore stuit.
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
User avatar
tripodmvr
Administrator
Administrator
Posts: 21608
Joined: Fri Mar 11, 2011 8:31 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by tripodmvr »

Baie dankie, PW. Daar is min sulke berigte hier op Jaracal. Op die Ozzie forum wat ek besoek is daar baie sulke berigte met baie fotos om dit toe te lig. Ek dink enigiemand sou so jagtog waardeer het - die verniet gedeelte tel natuurlik top punte.
.22 Krico, Howa 223 Varminter, 243 AI Musgrave RSA, Ruger RPR 243, P14 - 7 x 64, BSA 303 Sporter, 375 H&H Musgrave, 30-06 Ruger No. 1A, Khan O/U 12br, Norinco O/U 12br
User avatar
Frederik
Hero Member
Hero Member
Posts: 5022
Joined: Fri Feb 11, 2011 7:30 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Frederik »

Mooi storie het dit geniet om te hoor van die mooi jag
Johan Nel
Hero Member
Hero Member
Posts: 2172
Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Johan Nel »

Oom Pieter,
Elke keer as ek 'n "Ou ballie" opskrif sien word ek sommer opgewonde, want ek weet: Hier kom 'n lekker jagstorie! Hierdie storie het dan nou ook nie teleurgestel nie. Dankie vir die deel, ek het dit geniet om ook hierdie een te lees. Baie geluk ook met die pragtige bokke en geluk in besonder vir die goeie skote. Mens kom agter Gawie 'coach' jou mooi daar op die skietbaan... ++>:
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
User avatar
ruaanb
Hero Member
Hero Member
Posts: 5557
Joined: Thu Aug 14, 2014 10:29 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by ruaanb »

Dankie oom Pieter vir die deel! Mooi gegooi!
User avatar
win270
Hero Member
Hero Member
Posts: 2104
Joined: Tue Nov 05, 2013 11:53 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by win270 »

Mooi vertel en sommer baie goed gevaar in die veld! Daai Scimitar se horings kan vir 'n treinspoor gebruik word! ++>:
Suikermuis
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 290
Joined: Thu Mar 21, 2013 9:44 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Suikermuis »

Dankie vir die deel Oom PWV, was nou baie lekker om te lees.

Groete
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by PWV »

Kyk by
www.ratelfontein.com

Dit is mooi!!!
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 7343
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by PWV »

Johan Nel wrote:Oom Pieter,
Elke keer as ek 'n "Ou ballie" opskrif sien word ek sommer opgewonde, want ek weet: Hier kom 'n lekker jagstorie! Hierdie storie het dan nou ook nie teleurgestel nie. Dankie vir die deel, ek het dit geniet om ook hierdie een te lees. Baie geluk ook met die pragtige bokke en geluk in besonder vir die goeie skote. Mens kom agter Gawie 'coach' jou mooi daar op die skietbaan... ++>:
++>: ++>:
henning
Hero Member
Hero Member
Posts: 1315
Joined: Tue Nov 12, 2013 9:15 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by henning »

Pieter ek het jou gemis op Riebeeck maar jou storie geniet, geluk met jou mooi skote.

Groete
Henning
300 WSM Savage
303 Lee-Enfield
Dbl 12 g Belguim
308Win
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 493
Joined: Sun May 12, 2013 1:15 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by 308Win »

Ek moes eers gaan googel voordat ek mooi agter daardie vreemde gemsbok kon kom.
scimitar (sahara) gemsbok.
https://en.wikipedia.org/wiki/Scimitar_oryx
https://fossilrimblog.wordpress.com/201 ... to-africa/
Lyk my hulle is maar skaars in hul natuurlike omgewing. Weereens sou daar geen meer van hul oor gewees het as dit nie was vir privaatwildtuine wat hul bewaar het nie. Ook die Addax.
Geluk met die mooi bokke. Werklik 'n een 'n miljoen kans om so 'n bok te mag jag. ;D
User avatar
joe rocket
Hero Member
Hero Member
Posts: 3326
Joined: Thu Mar 06, 2014 11:00 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by joe rocket »

Mooi gegooi uncle'! Daardie jag kan oom afmerk van oom se "bucket list"
GROETE

__________________________



Perfection is hard to achieve but hell it is worth striving for.
vossie1
Hero Member
Hero Member
Posts: 2106
Joined: Thu Sep 27, 2012 8:16 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by vossie1 »

Kyk hoe mooi pose die "Silver fox" by sy trofees. Baie geluk Oom,dit klink voorwaar of Oom dit baie geniet het.
User avatar
Smitstertjies
Hero Member
Hero Member
Posts: 1988
Joined: Sat Aug 10, 2013 7:42 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Smitstertjies »

Baie mooi Oom. Lekker lang skote gegooi!
416 Rigby,338 Lapua Magnum,9.3x62; 30-06 Springfield,7.62 Soviet; 6.5x55 Sweed,6 Dasher,.22LR,40S&W;9mmParra,12Br
JohanvB
Hero Member
Hero Member
Posts: 2593
Joined: Thu Jun 30, 2011 9:28 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by JohanvB »

Mooi storie Oom Pieter...dankie...dink Silverfox ga nou bly!!
User avatar
LRLaubscher
Hero Member
Hero Member
Posts: 568
Joined: Mon Apr 29, 2013 2:06 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by LRLaubscher »

Mooi geskryf Oom Pieter. Het nou lekker myself ingeleef!!
-Winchester Model 52 .22LR
-7mm/300WM Long Range
-260 Remington Ackley Sporting/Hunting
-300 Win Mag LR
-Barretta A300 semi auto (wanted)
Wouter Roets
Administrator
Administrator
Posts: 7553
Joined: Wed May 19, 2010 2:06 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Wouter Roets »

Geluk Oom PW

Pragtige storie, skote en bokke!

Groetnis
Wout
User avatar
Chevvy SS
Hero Member
Hero Member
Posts: 3137
Joined: Thu Mar 01, 2012 11:55 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Chevvy SS »

Baie geluk oom- oom ken beslis daai Nikon se "kirre".
User avatar
Stephan86
Hero Member
Hero Member
Posts: 551
Joined: Thu Feb 26, 2015 10:00 am

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by Stephan86 »

Baie lekker storie vir my om te lees so in die middel van die week, dankie oom.
.22 LR Webley & Scott Xocet
.243 Win Tikka T3
.308 Win Sako 85
.375 H&H Steyr Mannlicher Mod S.
12 Ga Franchi Affinity
Glock 19
Glock 43X
User avatar
tau
Hero Member
Hero Member
Posts: 3946
Joined: Sun Feb 21, 2010 11:07 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by tau »

Geluk Oom PWV. Lekker as mens sulke studente het wat jou onthou. Daai BWB maak so en dan kry mens binne sekondes 'n gevoel van "ek is te min" as hy net hol na 'n prag skoot.
Moet nooit 'n goeie storie met te veel waarheid vernietig nie!!!
The Tool from Toolbag.
User avatar
FHM
Hero Member
Hero Member
Posts: 3887
Joined: Tue Mar 20, 2012 2:58 pm

Re: DIE OU BALLIE JAG OP RATELFONTEIN

Post by FHM »

Dit was n lekker lees oom PW - dankie en mooi geroer daarso! ;)
Francois
.22 Rem mod 597
6.5 Cr WBY VMC
.45 Beretta PX4 Storm SD
Post Reply