Page 1 of 1

NEGE3 se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 11:03 am
by DWB
Oom Koos aka NEGE3 se storie:

Dit is weereens een van daai ervarings wat altyd by jou sal bly. Die plaas is 8000ha groot en tipiese Noord Kaap habitat. Die letstels van die diamant era is nog duidelik sigbaar oral waar jy in die veld loop. Moet ook noem dat ‘n man se oe dwaal maar so oor die uitgewaste gruis klippe ingeval iemand iets blink misgekyk het jare gelede.

Die boerdery word bestuur en bedryf sonder enige swart arbeiders. Ek verstaan die Oupa en Ouma was aangeval in hulle huis en vandaar die besluit. Die seuns en hulle seuns werk op die plaas en doen alles self.

Jy kan kies hoe jy wil jag, bakkie ry, loop, kruip, sit ens. Jy word ook alleen afgelaai en jy kan jou ding doen soos jy wil. Voorsit werk natuurlik glad nie want die die plaas word deurkruis met kanale wat deel vorm van die Vaalharts waterskema. Die plaas grens ook aan die Vaalrivier en ek sal beslis volgende jaar 'n dag of twee langer bly en 'n visstok of twee saamvat. Daar is ook hele paar spilpunte en hulle plant koring. Die manne het die vlakvarke daar gaan voorle want die jagpakket sluit 'n gratis vark vir elke grootbok wat jy skiet in. As jy suksesvol is moet jy maar jou moue oprol en help laai. Die seuns doen die slagwerk.
Die manne vat die ouens in die nag na die koringlande om die ystervarke in toom te hou. Hier moes die manne sien hoe die oom 'n ystervark met sy 270Win in die hardloop in die kop skiet. Natuurlik net geluk maar dwing so bietjie respek af by die jonger hotshots.
Die jagkamp is 'n ou plaashuis met al die moderne geriewe en baie netjies. Weereens moes ons alles self doen. As jy vuilmaak moet jy skoonmaak. Mense is geneig om baie minder te mors as hulle self moet skoonmaak.

Die Woensdag met ons aankoms moes ons die gewere inskiet. Daar word klippe op die beeskraal se pale neergesit en as jy die klip afskiet kan jy gaan jag. Nadat almal tevrede is met hulle roere is ons veld toe. Na 'n uur se ry word die eerste koedoebul geskiet. Ek sit voor in die bakkie en kyk maar hoe die manne skiet. Na 'n lekker vleisbraai met pap en sous kruip almal maar vroeg in. Ons het 3-uur die oggend vertrek uit Pretoria en was redelik moeg die aand. Dit was ook hier waar ek ontdek het dat ek my verversings by die huis laat staan het. Ai tog wat 'n ramp.
Donderdag oggend is ek op die voet veld toe terwyl van die minder ervare manne besluit om liewers saam met die bakkie te ry. Daar is niks lekkerder om alleen die veld in te stap en net die natuur vir geselsskap te hê nie. Een van die manne skiet 'n koedoekoei van die bakkie af. In totaal stap ek ongeveer 8 kilometer die dag en die spiere voel dit die aand. Die manne wil toe na ete 'n draai ry by die lande en dis hier waar die ystervark toe sy kop verloor. Een van die jagters skiet ook 'n Rooihartbees.
Vrydag vat ek weer die pad op 'n ander deel van die plaas en bekruip die Gemsbokke. Hulle is wakker en na 4-ure skiet ek 'n groot koei. Afgeslag weeg sy 110kg. een van die ander manne skiet ook 'n Rooihartbees en 'n Gemsbokbul. Die slegte nuus vir die dag is dat 'n jagter kwes 'n Elandkoei ongeveer kwart voor vyf die middag. Hulle het 'n bloedspoor gekry maar dit het gou donker geword en hulle moes omdraai. Dit het gesorg vir 'n somber atmosfeer om die vuur en almal het probeer om die man moed in te praat.

Saterdag oggend en die manne vat die Eland se spoor maar kon die dier nie opspoor nie en het die middag tou opgegooi. Die manne op die bakkie skiet nog twee Gemsbokke en in totaal word daar 4 Gemsbokke, 2 Rooihartbeeste en 3 Koedoes geskiet. Ek het probeer vir Springbokke maar die wind het vreeslik gewaai en ek dink hulle het maar gaan skuiling soek in die bosse. Saterdag aand is die manne Barkly Wes toe om die wedstryd te gaan kyk en bietjie te kuier. Ek was moeg geloop en het maar by die kamp gebly en my roere skoon gemaak en ingepak vir Sondag oggend se vertrek.
Weereens was dit 'n voorreg om 'n paar dae in die natuur te wees en vertrou te word om alleen die veld te verken en jou jagvernuf te toets.
Ek wag nog vir ons kameraman dan sal ek ‘n paar kiekies pos.
Groete.
Koos

Re: NEGEDRIE se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 11:09 am
by DWB
Sorry manne, het so bietjie gehakkel maar daar is hy nou in sy volle glorie

Re: NEGEDRIE se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 11:16 am
by Flip Nel
Dankie Deon, mooi geskryf. kan nie wag vir die Foto's nie

Re: NEGEDRIE se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 1:27 pm
by stan man
dankie deon. ek is bly daar is ander manne wat ook hulle stories met ons deel.

Re: NEGEDRIE se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 2:14 pm
by FHM
Yislaaik ou Deon dit klink of julle sommer baie lekker gejag het. Jammer vir daai kwesbok - maar dis maar jag jong. Weinig manne wat elke jaar jag wat kan se hulle nog nie n kwesbok gehad / gesoek nie. ;)

Re: NEGEDRIE se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 2:30 pm
by DWB
Julle manne moet mooi lees, dit is NEGE3 aka Koos se storie wat ek net gehelp posit het :D

Re: NEGE3 se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 6:22 pm
by NEGE3
Dankie Deon. Ek waardeer jou moeite om die storie te pos. Hoop ek en jy kan volgende jaar saam die veld aan durf.
Groete.

Re: NEGE3 se ja te Barkley-Wes

Posted: Tue Jul 30, 2013 7:55 pm
by JPS
Oom Koos,

Mooi geskryf het nou lekker saam gejag met oom.

Kan nie wag ir die foto's nie. Hoop oom plaas so paar van die jag habitat ook vir ons.

mooiloop
JP