https://lh3.googleusercontent.com/-Laz9ShDT9YI/TtU264xKrdI/AAAAAAAAC1U/J6xyX9-YpT0/w800-h533-no/IMG_2409.jpg
Ek het vroeër in my jagte op die plaas die elande mooi in die oopte gekry, eenkeer was ek 60m van hulle af en hulle het nie eens geweet van my nie. Nou ja soos met enige dier as hy op die jag lys kom verander sy gedrag handomkeer. Verlede naweek het ek die trop gekry, in 'n effe rui deel van die plaas. Ek het net eland lywe gesien maar kon nie 'n bok identifiseer nie. Lank het ek stil gesit en luister na hulle lawaaierige eet gewoontes, maar nooit 'n skoot gekry nie. Ek probeer toe om in 'n oostelike rigting hulle voor te lê, maar niks gebeur nie. Eintlik het 'n hulle in 'n westelike rigting gewei,
Ek was die lang naweek weer op die plaas. Saterdag oggend net na sonop vat ek weer die pad met my 30-06. Die rooioog tortelduiwe groet die oggend saam met die bospatryse. Ek soek spoor eers in die een hoek wat windaf is, sodat ek meer wind het om mee terug te werk tot die ander hoek van die plaas. Die heeltyd sien ek vars spoor in die pad, maar die is in albei rigtings. So die groot vraag is watter spoor is die varste. Na 'n lang draai is ek terug op die pad wat deur al die gaste gebruik is as ingangs roete Vrydagaand. Ek sien eland spore oor gisteraand se wiel spore. Ek volg die spore tot hulle afdraai in 'n bos padjie in, die jag kan begin.
Dis die ruigste deel van die plaas maar dis hier waar die wild beskut is in die winter en hier is nog heelwat kos, olienhout, gewone haakdoring, hak-en-steek en karee. Dis my gunsteling plek om te jag, al is dit ruig weet ek daar is openinge en gange en natuurlike die paaie wat die bos deurkruis. Hier stap ek net in die pad, want dan kan jy baie stil beweeg, meestal hoor jy die wild wei. Ek sien aan die spore die elande is ook hoofsaaklik in die pad. Ek volg die vars spoor sonder om presies te kan beoordeel hoe vars dit is. Maar dis lekker om te kan spoor sny vir 'n slag, rooibok jag is mos anders. In my gedagtes dink ek aan Oom Pine en Jas wat op 'n buffel se spoor is en so droom ek toe ek amper teen 'n eland vasloop. Dertig meter van my in die bos staan en vreet 'n eland. Ek slaan dekking dat die nartjie in my sak ontplof soos een op Loftus wat vir Richie McCaw gemik was.
Toe die eland draai sien ek dis die koei met die skewe horing, een van die oues. Sy is so naby maar die takke is net op die verkeerde plek. Sy draai stadig en vreet, sy draai dwars ek skuifel nader teen 'n graspol. 'n Ander koei kom staan in die pad, 50m en kyk terug. Asem op, sy staar stip. Skewe horing hou aan vreet pad toe stap in die oopte in en volg haar maat se voorbeeld. Sy kyk ook stip na die plat ding in die pad, met 'n Lister enjin wat in sy bors kas loop. Die skoot is aan maar die agterste bok bly staan. Soos vrouens maar is besluit die 2 toe om gelyk verder te shop in die bos in.
Ek sleep myself om die draai en daar is niks. Ek kry daai droë bek gevoel dat erens 'n alarm afgegaan het. Maar ek het niks gehoor weghol nie!? Ek skuifel, en kruip verder pad af. Ek hoor hulle weer, en sien vlugtig 'n koeie oor die pad stap. Ek kruip verder, later gemeet 110 tree op my maag gewees. Net toe ek wou hande vier voet, kom 'n vark sog uit die bos oor die pad. Ek maak my plat soos 'n leeu wyfie.https://lh4.googleusercontent.com/-4HwkT2_O2t4/UQprXonlmwI/AAAAAAAAEK0/8cyKxSl4Id8/w511-h800-no/IMG_1536.jpg
Vark mamma stap verby steek vas en kom terug. Aita, daar is 'n kleintjie by en die gaan dalk haar laat storm!? Sy stap nader, steek vas. Die Lister loop nog lekker maar mis nou so slag of twee. Sy draai om en verdwyn op haar pad. Eers 'n slukkie water vat.
Ek skuifel so aan en kry uiteindelik die koei in die pad waar sy aan 'n Karee vreet,effe Q-A. Sy kyk terug die 50m in die pad af. Ek lê en skiet, daar is nie 'n ander bok agter haar nie. Ek weet die 150gr HV sal so effens hoër skiet op die kort afstand maar die teiken is groot. Toe die skoot klap sien ek sy trek skeef en die regter voorbeen is onbruikbaar. Ek het vertroue in die skoot, hoor sy hardloop nie ver en los haar vir 'n 1 minuut of 2. ek stap nader, kry die skewe spoor maar sien geen bloed. Ek kry haar so 50m verder, been is af maar sy draf so entjie en gaan staan weer. Ek skiet 'n genade skoot sommer so uit die vuis.
Die bok was spek vet wat my skoonpa se vrees van te min kos in die "droogte" gerus stel. Haar tande was afgeslyt en sy't baie haarverlies in die gesig gehad. Sy het wel 'n maand oue bul kalf in haar gehad, dalk sou sy hom nog groot gemaak het.
Ek sal terug kom met die fotos van die skootplasing en die koeël prestasie.

