Hier is 'n uiteensetting vir die skoonmaak van lope deur ou "Groot Leeu"
RIGLYNE VIR DIE SKOONMAAK VAN 'N GEWEER SE LOOP.
Hendrik van Rensburg.
Ek is altyd half skrikkerig om oor hierdie onderwerp te praat, want daar is deesdae soveel ouens wat op die internet rond kuier, en 'n ou dan aanvat. Die probleem is dat jy moonlik met 10 ouens oor die onderwerp gaan praat, maar dan 10 verskillende antwoorde gaan kry - waarvan nie een antwoord regtig verkeerd is nie.
Ek is geneig om die metode toe te pas wat vir my logies sin maak, en wat werk. Op die Bench Rest baan, wanneer jy kompetisie skiet, is dit baie belangrik om tussen aflossings die loop so skoon as moontlik te maak. So het ek geleer dat jy die koper sowel as die kruit neerslag totaal uit die loop moet verwyder in die kort tydperk tot jou beskikking tussen aflossings - indien jy enigsins kompeterend wil skiet. Die koe?lpunt word deur die loop geforseer, en die dryfmiddel kom al brandende agterna. Dit is vir my dus belangrik om eers die kruitneerslag te verwyder en die aangepakte koperneerslag bloot te l?. Van tyd tot tyd is dit dan ook belangrik om die loop te polleer om hardnekkige koper te verwyder en die raak-oppervlak glad te hou sodat koper minder aanpak en makliker skoonmaak.
Daar is tans 'n geweldige klomp produkte op die mark om een of meer van hierdie skoonmaak funksies te vervul. Daar is ou tegnologie en "nuwe" tegnologie. Die sogenaamde "nitro solvents" waarmee 'n mens die kruitneerslag verwyder is in samestelling baie dieselfde tussen die verskillende vervaardigers (tipiese produkte in hierdie lyn is Hoppe's No.9, RAM, Bore Tech se nitro solvent en ander). Die neiging van vervaardigers is egter deesdae om "nitro solvent" ook 'n eienskap te gee om koper-en loodneerslag te verwyder en is dus meer agressief. Voorbeelde hiervan is Butche's Bore Shine, Shooter's Choice en Bore Tech se Eliminator. Hierdie produkte is volgens my baie meer effektief en vinniger vir die verwydering van kruitneerslag as die tradisionele "nitro solvent".
By die verwydering van koper ("coppersolvent"), raak die kontraversie / argumente altyd warm. Daar is algemeen hoofsaaklik drie soorte / tipes "coppersolvent" op die mark. Die "ou" tegnologie werk met ammoniak wat die koper aanval. Die vervaardigers van hierdie produkte waarsku op hul houers meestal dat die skoonmaakmiddel binne 'n paar minute geheel uit die loop verwyder moet word, aangesien die ammoniak ook die staal sal aanval indien dit langer in die loop gelos word. Ek het persoonlik deur onkunde 'n klompie jare gelede 'n loop afgeskryf toe ek die loop aan die eenkant toegeprop het en dit toe vol van een van hierdie produkte gegooi het. Ek het die loop so oornag laat staan, en die volgende dag was daar byna geen groewe oor nie. Voorbeelde van sulke middels is Sweets 7'62, Robla, Barnes CR10 en Shooter's Choice Copper Remover. Dit is gewoonlik enige van die middels wat jou laat snak na jou asem wanneer jy daaraan ruik.
Die "moderne" tegnologie werk sonder ammoniak. Die vervaardigers van hierdie produkte beweer dat die middels in die loop gelos kan word aangesien dit glad nie die staal aanval nie, maar baie agresief is met die verwydering van koper. Ek wou niemand glo nie en het 'n 300 H&H matrys (die) waarin 'n dop vasgesit het binne-in 'n bottel van hierdie skoonmaakmiddel gegooi en dit daar gelos. Na twee weke was daar geen merkbare of meetbare erosie aan die staal nie, dog die brons het baie verweer en ook bros geraak. Hierdie produkte werk regtig en ek gebruik dit met gemoedsrus. Voorbeelde hiervan is Bore Tech se Copper Solvent en Hoppe's se Elite Copper Terminator Bore Cleaning Solvent.
Die derde kategorie skoonmaak middels om koper te verwyder is die tiepe wat grootliks deur middel van 'n skuur aksie werk. Hierdie middels kom gewoonlik in die vorm van 'n pasta in 'n buis of potjie. Daar is ook verskillende grade van grofheid wat dien ooreenkomstig meer en growwer skuur en fyner en blinker skuur. Voorbeelde hiervan is J&B Bore Cleaner wat relatief grof is en dan J&B Bore Brite wat 'n fyner samestelling het. Wheeler maak Bore Braking-in Compound wat begin by 220 "Grid", 350, 420 en 600 "Grid" wat die fynste is. Iosso en Flitz maak skuurpastas wat in die omgewing van 5000 "Grid" fyn is. Hierdie skuurmiddels is nie net belangrik om hardnekkige koperneerslag uit te haal en die loop van tyd tot tyd te polleer nie, maar is uiters belangrik by die inbreek van 'n nuwe loop.
Die laaste middels wat uiters belangrik is by die skoonmaak van 'n loop is olie. Ek glo daar's drie tipes olie wat jy in jou skoonmaak kis moet h?:
? Industrie?le "pennetrating" olie. Daar is basies twee van hierdie olies op die mark wat ek vir 'n baie spesiale doel gebruik - "Kroil" en Hoppe's Bench Rest Oil. Hierdie olies gebruik ek soos volg : Ek deurweek die loop daarmee direk nadat ek klaar geskiet het, en los die loop so vir 'n paar dae. Tydens hierdie "los" priode laat l? ek die loop horisontaal en draai dit so van tyd tot tyd (twee keer 'n dag) om dat hy weer op die anderkant l?. Tydens hierdie tydperk deurweek hierdie olie alle neerslag in die loop en maak alles los. Ek het dit al met 'n loop gedoen en 'n paar dae later, wanneer ek 'n lappie daardeur stoot, kom daar letterlik sulke lang drade koper voor by die loop uit. Dit is dus belangrik dat 'n mens eers die loop skoonmaak voordat jy weer met dit gaan skiet.
? 'n Gladde mengsel van olies om op die dele te smeer wat teen mekaar skuur is baie belangrik. Daar is so baie soorte olies op die mark, maar ek het gevind dat die volgende mengsel die beste resultate gee waar yster op yster skuur: Neem 1 derde Wynn's Charge en meng dit met 2 derdes automatiese ratkas olie. Hierdie rooi mengsel gooi jy in 'n bruikbare olie botteltjie en smeer dit ook aan die grendel, en vee dit weer af. Dit laat 'n baie gladde oppervlak wat die gevoel gee dat die bewegende dele op ball bearings hardloop.
? Die laaste olie is gewone geweer olie wat die eienskappe het om vog af te weer. Bore Tech en Hoppe's maak volgens my die beste olie in hierdie verband. Hierdie olie gebruik jy om aan te wend nadat jy skoongemaak het.
Die toerusting wat jy nodig het om 'n geweer se loop deeglik skoon te maak, is die volgende:
? 'n Ordentlike skoonmaakstok. 'n Bore Snake is 'n belangrike "moet h?" item en is baie nuttig om saam veld toe te neem om stof en sulke dinge uit die loop te verwyder, maar dit kan nooit 'n goeie kwaliteit stok vervang nie. 'n Goeie stok se handvatsel moet absolute gladde rollaars (bearings) in sy handvatsel h?. Die stok moet ook met nylon of grafiet oorgetrek wees sodat dit nie die loop op enige wyse beskadig nie. Die stok moet ook lank genoeg wees sodat die lappie wat jy deur die loop druk reg deur gedruk kan word sodat dit voor uitkom.
? 'n Ordentlike "Bore Guide" wat die stok begelei om in die middel van die loop te sentreer. Bore Tech, Sinclair en Stoney Point maak goeie "Bore Guides".
? 'n Ordentlike stewige "cleaning cradle". Dit is die apparaat met twee mikke waarop jy die geweer neersit wanneer jy dit skoonmaak. Dit is volgens my baie noodsaaklik, aangesien jy die geweer nie net beter kan hanteer nie, maar dit so kan plaas dat die loop afwaarts wys tydens die skoonmaak proses. Dit is belangrik om te verseker dat die skoonmaak middels nie in die aksie terug loop nie maar voor uit.
? 'n Passtuk of "jag" wat voor op die stok skroef wat gemaak is om die lappie deur die loop te stoot. Ek hou van die tipe wat 'n pennetjie vooraan het wat jy deur die lappie druk. Die "Parker Hale" tipe waar jy die lappie om draai het te veel skerp punte en kante na my sin, en bowendien hou ek niks daarvan om 'n lappie deur die loop terug te trek nie, dit moet voor uitgaan en met vuilgoed en al afval.
? Skoonmaak lappies. Daar is deesdae lappies op die mark wat vooraf gesny is vir die kaliber wat jy mee skiet.
? Fosfor Brons Borsel. Baie mense hou nie van hierdie borsels in die loop nie, maar as ek sien hoeveel w?reldklas benchrest skuts sulke borsels gereeld gebruik, dan wonder ek hoekom. Ek gebruik dit om die kruitneerslag los te skrop heel aan die begin wanneer ek begin skoonmaak. Moet net nooit die borsel indie loop omdraai nie. Jy neuk nie net die borsel op nie, maar jy maak pitmerke in die loop.
? Nylon borsel met 'n staal draad kern. Ek gebruik dit gewoonlik om die loop te deurweek met "Copper Solvent" of met Kroil.
? 'n Ou lap. Daar mors gedurig tydens skoonmaak 'n klomp olie of iets dergliks op die geweer, tafel of vloer.
? 'n Muzzel Mate is 'n baie handige apparaat wat jy voor aan die "neus" van die geweer sit om al die spatsels en vuil lappies op te vang. Bore Tech maak ook 'n "Patch Hog" vir dieselfde doel waarin jy 'n 2 liter plastiese bottel kan skroef.
? Al die skoonmaak middels soos bo bespreek. Ek sal hierby nog 'n bietjie "bolt ghries" voeg. Dit is 'n spesiale ghries wat in 'n plastiese spuit beskikbaar is om aan die geweer se sluitnokke (locking lugs) te smeer.
? 'n "Action Cleaning Kit" om die kamer en aksie skoon te maak.
? Beslis 'n trommel waarin al hierdie skoonmaak parafinalia kan pas.
Wanneer ek 'n geweer se loop dan skoonmaak, is daar 'n paar stappe wat ek gewoonlik volg:
1. Plaas die geweer in die mikke van die "cleaning cradel" met sy loop afdraende. Plaas 'n Muzzel Mate oor die punt van die loop, en die teleskoop se klappe oor die lense (om te verhoed dat die skoonmaak middels op die lens spat). Plaas ook die "Bore Guide" in die kamer en 'n "stock boot" oor die kolf. 'n "Stock Boot" is 'n tipe kous wat van seil en 'n waterdigte binnekant gemaak is om die kolf te beskerm teen die chemiese effek van skoonmaak middels.
2. Neem die skoonmaakstok met 'n koper borsel en deurweek die borsel met een van 4 middels: Butch Bore Shine, Shooter's Choice, Hoppe's No.9 of Bore Tech Eliminator. Borsel die loop deeglik (ongeveer 10 tot 20 keer) en maak seker dat die borsel met elke borsel aksie dwarsdeur die loop gaan.
3. Laat staan die loop vir ongeveer 5 minute so met die skoonmaak middel daar binne. Plaas die "jag" of passtuk op die stok en druk 'n paar skoon lappies deur die loop.
4. Herhaal punt nr. 2 en 3 hier bo totdat die lappie relatief skoon uitkom. Die lappie sal die eerste paar keer swart uitkom en die swart sal algaande verander na 'n effense blou.
5. Plaas nou 'n nylon borsel op die stok en deurweek dit met "Copper Solvent". Moenie 'n koper borsel gebruik nie, want onthou - dis 'n "Copper Solvent" - die koper borsel sal opgevreet word. Gebruik verkieslik die nylon borsels met 'n yster / draad kern. Los die solvent vir ongeveer 5 minute in die loop. Stoot daarna weer ongeveer 3 lappies deur die loop. Jy sal sien dat die eerste lappie pot blou uitkom. Elk van die lappies moet deur die loop gestoot word en voor afgehaal word. Moenie die gemors wat jy uitstoot weer terugtrek deur die loop nie.
6. Herhaal die vorige punt totdat die lappie skoon uitkom.
7. Indien jy baie sukkel om die loop skoon te kry, kan jy die volgende doen: Of jy deurweek die loop met 'n mengsel van een derde Kroil of Hoppe's se Bench Rest olie en twee derdes Shooter's Choise, of selfs suiwer van hierdie olie, en laat l? die geweer vir 'n paar dae. Vol dan die stappe van 1 tot 6. Of / en wanneer jy die geweer skoon het, gebruik jy J&B bore clean of 'n soortgelyke skuur middel om die loop te polleer. Neem 'n lappie en drup 'n paar druppels olie op die lappie. Neem van die skuurmiddel / pasta met jou finger en vryf dit in die lappie sodat die lappie geheel deurweek is daarvan. Begin dan aan die kamer se kant en met kort hale skuur jy die loop heen en weer en werk hom stadig vorentoe totdat jy voor uit is. Wanneer jy by die voor kant van die loop kom moet jy dat iemand 'n harde stukkie hout voor teen die loop se punt hou om te verhoed dat die lappie by die loop uit glip. As dit eers uit geglip het moet jy weer voor begin. So moet jy dan seker maak jy skuur die laaste deel van die loop ook. Jy sal merk dat die lappie pik swart is en basies deurweek is met so 'n swart teer. Neem dan 'n nylon borsel en maak dit nat met nitro solvent en skrop die loop skoon. Gaan dus deur die volgorde soos punt 2 en 3 hierbo totdat die lappie skoon is. Moenie hierdie skuur metode elke keer doen nie. Doen dit so nou en dan wanneer jy 'n paar honderd skote geskiet het.
8. Gebruik 'n "action Cleaning kit" met 'n "bore mop" waarop jy Zippo Lighter Fluied drup om jou kamer skoon te maak. Gebruik ook die spesiale stokkie met die tandarts watte om die gedeelte skoon te maak waar die locking lugs van die grendel sluit.
9. Wanneer die loop dan skoon is, druk 'n nat olie (gewone geweer olie) lappie deur die loop en 'n droe? lappie daarna, sodat daar 'n dun lagie olie in die loop agter bly. B?re dan die geweer so.
10. Ek gebruik "Brake and Clutch Cleaner" wat jy by Midas koop om die grendel skoon te spuit. Hierdie blik skoonmaak middel is soos alkohol wat al die olie en taai vuiles van die slot verwyder, en ook die kruit aanpaksel van die gesig af verwyder. Smeer daarna 'n mengsel van een derde Wynn's Charge en twee derdes Automatic Transmission Fluied aan die grendel en ook 'n bietjie "Bolt Ghrease" aan die agterkant van die locking lugs. Plaas die slot terug en werk hom bietjie heeen en weer dat die olie lekker versprei op al die raakpunte.
11. Die beste olie vir die kolf is maar die getroue ou Schaft?l olie.
Onthou om altyd 'n geweer veilig te maak voor jy dit skoonmaak.
Al of meeste van hierdie produkte wat ek hier genoem het is verkrygbaar by Safari & Outdoor Warehouse buite Stellenbosch. Kontak my by die kantoor by 086 111 4330 of / en e-pos my by:
hendrik@safariandoutdoor.co.za
Besoek ook ons web werf by:
www.safariandoutdoor.co.za
Lekker Skoonmaak en lekker skiet.