Miskien is ek bietjie laat. Maar ek wil ook 'n opmerking maak. Ek wil ook net beaam dat Chris se boodskap baie deeglik opgesom is, en ek kan regtig niks wegvat of byvoeg wat hy geskryf het nie. Ek volg ook die draad en is beide trots en soms bietjie skaam oor die manier wat ons met mekaar werk. Maar daar gelaat..
Self is ek nie betrokke by wild telery nie, maar ek bly 'n belanghebbende, want ons almal is. En boonop gaan ek oor 'n paar jaar moet boer op 'n plaas wat ek erf (lucky me

). Die plaas is geskik vir die intensiewe teel van wild (met die nodige kennis natuurlik). So ek gaan moontlik self voor daardie besluit kom (dit is natuurlik nou as die "bedryf" nog nie sy agterent gesien het nie).
Dit wat ek wil skryf is nou nie so mooi gestruktureerd soos baie van julle manne s'n nie. Dit wat ek wil skryf en my redenasie is regtig meer op die vlak van 'n std. 3 leerling, maar soms kyk ons bo-oor die eenvoudige goed. Dit handel nie oor SAJWV en staat se ingryping nie, en is nou wel so klein bietjie van topic af. Maar ek weet nie waar anders om dit te plaas nie.
Dit gaan vir my spesifiek oor die snaakse kleur variasies. Ek dink nie ek het meer so verskriklike groot probleem met "teel" vir beter genetika of horinglengtes nie, maar dit hang ook af op watter manier dit geskied. Die wild telers en kenners het my baie goed geleer op die draad waarvan ek voorheen onbewus was.
Soos my vorige deurmekaar vraag gelui het, worstel ek baie oor wat ons as mense vir ons medemens bydra deur ons daaglikse werk.
M.A.W wat dra jy by tot die samelewing? Waartoe lei die energie wat die Here vir jou gegee het? Hoe wend jy jou dryfkrag en talente aan?
Wat is die eindproduk van jou handewerk??? Dit is my siening (en almal mag dalk nie met my saamstem nie) dat 99% van werke of professies 'n definitiewe eindproduk/diens oplewer waarby die samelewing baat. En mense het respek vir iemand wat hard werk en sy bydra lewer, en mens voel dat die man sy geld verdien.
Ek gaan nou regtig nie almal opnoem nie, die boer, prokureur, onderwyser, makelaar, polisieman, verkoopsman (smous), sakeman, joernalis, rugbyspeler en akteur (selfde kategorie

), dokter, die ou wat vrugte op die straathoek verkoop. Almal dra by op een of ander manier. Vat maar so minuut om oor dit te dink.
Nou kom ons by die ou wat boer met wild. Hoe dra hy by? Sjoe, julle sal my moet help want ek weet die lys is lank en ek kan nie alles opsê nie (ons is in die std.3 klas onthou

).
- Die wildsboer (saammet die jagter as verbruiker) het gesorg dat vele boksoorte gered is van uitsterwe. Ons almal ken die suksesverhale.
- Die getalle van algemene wild is meer as 50 jaar terug te danke aan die boer.
- Binnedrade van makvee plase is verwyder om groot "corridors" te skep waar ons natuurlike fona en flora kan voortbestaan. Die eindgebruiker is in so geval ons nageslag.
- Dewald het genoem hoe sy pa en Mr. Kriek groot getalle skaarser wild help vestig het in baie nationale parke. En dit is net een van vele sulke stories.
- Ek is seker die inteel van nuwe gene in 'n populasie van 'n spesie dra by tot die algemene genetiese welstand van daardie wildsoort in ons land?
- Die biltongjagter baat natuurlik. Hy kan sy passie uitleef in die natuur saammet sy familie en die wildsvleis geniet.
- Trofeë jagters van regoor die wêreld kan hul drome uitleef, en boonop bring dit baie geld van die buiteland in en stimuleer ook toerisme in ons land. Die boer wat homself hierop toespits gaan verseker gereeld beter gene inbring, of selfs nuwe boksoorte vestig om by die aanvraag te hou.
Ek is seker daar kan nog tien punte opgenoem word, maar elke punt hier is al klaar genoeg op sy eie. Niemand kan die wildboer ontken van sy bydra tot hierdie land se welstand nie.
Die ding waaroor ek egter worstel is hierdie sogenaamde smartie bokke waarvan julle praat. Op watter wyse help spesifiek daardie bedryf die samelewing?
Werk daardie boer hard? Verseker
Is dit winsgewend? Verseker
Skep hy werk? Ja natuurlik is dit 'n spinoff
Help hy sy medemens op 'n volhoubare manier? Ek kan dit net eenvoudig nie insien nie.
Ek weet hierdie was net 'n baie lang manier om te sê: Daar is geen eindverbruiker nie. Maar ten minste kan ek sê ek het oor dit gedink. So miskien is daar 'n gevoel van die algemene Suid-Afrikaner dat hy respek verloor het vir
sekere wildboere, wat nie meer hard werk om die land 'n beter plek te maak nie, maar net hard werk om geld te maak deur 'n baie duur spelletjie te speel met sy tjommies.
Mense, ek verkondig nie my opinie as die absolute waarheid nie. Dit is maar net 'n punt wat ek wou uitlig benewens al die meer feitlike en wetenskaplike besware wat teen die bedryf gerig is.
Nou toe. Ek wag in spanning vir die swaap wat gaan vra of std. 3 vir my baie moeilik was
