Dagsê
Ek het verlede week as gids opgetree vir 'n vriend en sy skoonseun wat in die Klein-karoo net noord van Riversdal kom jag het. Die jag het plaasgevind op die plaas waartoe ek toegang het. My vriend Marinus is ook in sy middel sestigs en die skietgogga het hom so twee jaar gelede vir die eerste keer behoorlik gebyt. Hy het intussen 'n lekker ghongbaan op sy plaas naby Montagu opgestel (ons het 'n suksesvolle ghongskiet daar aangebied einde 2024). Marinus besit reeds 'n .22-geweer en wag tans vir die goedkeuring van sy 6.5 Creedmoor-geweer se lisensie.
Ek het tans 'n paar van die nuwe Vortex Viper HD-teleskope hier by my waarmee ek so 'n bietjie speel en vir die jag het ek toe 'n 2-10x42 op my .30-06 monteer - dis die geweer wat Marinus sou gebruik. Ek is hoogs beïndruk met die nuwe Viper-teleskope, Vortex het beslis die Vipers opgradeer.
Marinus se skoonseun, Lohan van der Vyver het ook saam gejag. Op die spyskaart was 'n koedoebul vir Marinus en 'n gemsbokbul vir Lohan.
Koedoes is normaalweg nie die taaiste bokke wat jy kry nie en ek het dus sommer 168gr Nosler Custom Competition-koeëls gelaai vir die .30-06. Ek het S335-kruit gebruik omdat dit is wat ek gehad het - 45.8gr wat 'n beginlading is. Die ammunisie het ek gou een môre gaan toets op forumlid Nico de Jager se plaas en gelukkig was die gode my goedgesind. Die .30-06 Remington het die Noslers (vier skote) in ongeveer 14mm laat bondel. Ek het nie die snelheid van die koeëls gemeet nie maar raai dis iewers tussen 2550 en 2600vps.
Die Viper 2-10x42 het 'n BDC-kruishaar met afmikmerkies en ek het die geweer so ingestel dat dit effens hoog skiet op 100m met die normale kruishaar en in die kol op 230m as jy met die eerste afmikstrepie mik. Op die plaas het Marninus die ghong (afstand 228m) sonder enige moeite van die skietstokke af raakgeskiet.
Ons het sommer op die eerste namiddag na die inskietsessie 'n draai gaan ry en twee keer koedoes bekruip oor 'n reeks lae rante. Die bokke het egter wes van ons gestaan, en met die sakkende son byna op die horison en reg in ons oë, was dit uiters moeilik om hulle deur die teleskoop raak te sien. Koedoes 6, jagters 0.
Die volgende oggend is ons na die verste oostelike gedeelte van die plaas aangesien die wind wes gewaai het. Die plan was om teen die wind in te jag. Aan die oostekant daal die veld tot 'n diep vallei met verskeie berge, klowe, vlaktes en twee rivierlope met digte soetdoringbome omsoom. Voordat ons in die vallei afgesak het, het ons eers gestop en met die verkykers gesoek. Ons het 'n troppie koedoes en ook 'n gemsbok opgespoor en is toe af in die vallei met die voertuig om dit iewers naby die rivierlope te los.
Lohan het die gemsbok probeer bekruip maar die bul het intussen van posisie verander en iewers tussen die klowe verdwyn. Ons het toe oor 'n rantjie gery en aan die anderkant op 'n groot koedoebul afgekom wat so pas uit die digte soetdorings verskyn het. Hy het egter gehardloop waarna ek hom later 'n ent verder byna reg bo-op die kruin van 'n baie hoë kop gewaar het. Ons het die voertuig gaan haal en 'n bietjie nader gery. Die bul het intussen verskuif na 'n twee hoë klipkop en ons is toe te voet van die voertuig af om hom te bekruip. Om buite sig te bly, het ons al teen die voet van die eerste kop langs beweeg. Toe ons weer die bul te siene kry, was hy byna op die kruin van die tweede kop maar daar was toe 'n enkele koedoekoei by hom. Dis nou die koedoes se paartyd in dié geweste en die bul se aandag was by die koei. Ons het dus weer buite sig al teen die helling van die kop nader geskuifel totdat ons 236m van hom af was.
Gelukkig was al sy aandag by die koei en ek het die 4DeadHold-skietstokke vir Marinus opgestel. Hy het uit die sittende posisie aangelê en toe die skoot klap, het die koedoe effens inmekaar getrek en probeer hardloop maar skaars 15m gevorder voordat hy geval het. Soos die geluk dit wou hê, rol die bul toe byna die volle lengte van die steil helling af. Daarvoor was ons baie dankbaar want dit was net ek, Lohan en Marinus op die plaas en ons moes dus al die laai- en slagwerk self doen (sonder die luukse van 'n wenas/winch). Toe die koedoe tot stilstand kom, was ons mans dit eens... die vroulike geslag was weereens 'n man se ondergang. Dit was 'n pragtige Karoobul met horings wat 51.9" gemeet het. Ek het sy uitslaggewig op 150kg geskat maar was teleurgesteld om later te verneem hy het net oor die 139kg uitgeslag.
Hierdie was een van die grootste bulle nog wat op die plaas geskiet is en Marinus se eerste groot bok. Om so 'n mooi koedoe te skiet, was dus uitsonderlik.
Ek het daar in die veld die koedoe se pens en die hele hartslag uitgehaal om dit so lig as moontlik te maak. Gelukkig hoef ons die bul net so 15m verder te gerol het en toe kon ons met die Toyotabakkie tot reg by hom ry vir die laaislag. 'n Handige rotsriffie het as "ramp" gedien en ons kon die bul maklik op die bakkie sleep. Die 168gr Nosler het al die are aan die bokant van die hart afgesny en letterlik ontplof in die longe. Ons het met die afslag 'n klein stukkie lood, bietjie groter as 'n .22-koeël, onder die vel van die verste blad gekry.
Die volgende oggend het die wind steeds wes gestaan en ons het toe in die middelgedeelte van die plaas begin en weswaarts gejag (die vorige dag het ons min gemsbokke aan die oostekant gesien en ek het aangeneem die meeste wild het teen die wind in beweeg na die westelike deel van die plaas). Ons het sommer vroeg twee baie mooi gemsbokke gesien wat teen 'n hoë berg aan ons noordekant uitgeklim het. Bo-op die berg is 'n plato en al raad was om voet te slaan berg uit. As jy 66 is, is sulke klimtogte effens moeiliker as toe jy 26 was. Eens bo-op die berg het ons die plato en ook 'n paar klowe daar deursoek en op 'n mooi trop gemsbokke afgekom onder in 'n kloof. Twee bulle het ons 'n mooi kans gegee op 172m sonder dat hulle van ons bewus was, maar ongelukkig was Lohan se skoot mis. Nadat ons seker gaan maak het die skoot was mis, het ons die pad aangedurf na die bakkie toe. Ek was maar bly dat ons nie daardie gemsbok geskiet het nie want dit sou beteken dat ons hom in stukke moes sny en uitdra uit daardie kloof.
Die namiddag is ons na die noordelike deel van die plaas waar ons weer 'n trop gemsbokke opgespoor het tussen die voue van 'n paar lae rante. Ons het die bokke begin bekruip en eers net koeie gesien (ons mag net bulle skiet). Terwyl ons nog die gemsbokke bekruip, kom draf daar toe twee jakkalse in die kloof af en ek sê toe vir Lohan ons moet sommer 'n jakkals skiet aangesien ons nog twee jagdae oorgehad het. Marinus, wat skuins links van ons was, sien toe egter nog gemsbokke en maak ons attent daarop. Ek en Lohan gaan sit toe en skuifel verder op ons boude vorentoe. Na 'n lang gewag het die bokke in sig gekom en daar was twee jong bulle en twee mooi volwasse bulle by die groepie. DIe bokke het egter baie stadig en agter bosse langs in ons rigting gewei. Toe die bulle uiteindelik mooi sigbaar was, het hulle slegs 104m van ons af gestaan. Lohan het sy .308 Brno laat praat en die koeël het goed getref.
Die bul het egter weggespring en oor die volgende riffie gehardloop en daar gestop. Ons kon net sy horings sien uitsteek. Lohan het toe nader gestap en hom die doodskoot gegee. En gelukkig was dit weer op 'n plek waar ons deur die bossieveld tot reg by die bul kon ry met die tweewieltrek-bakkie. Ek het weereens die pens en hartslag uitgehaal wat die laaiwerk baie vergemaklik het.
Hierdie was dié twee manne se eerste stapjag ooit en hulle het dit terdeë geniet. Die foto's van die koedoebul wys glad nie hoe steil of hoog die berg werklik was nie.
Mooi loop
Karoojag 2025 met kliënte
-
Koos Barnard
- Hero Member

- Posts: 2150
- Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am
Karoojag 2025 met kliënte
You do not have the required permissions to view the files attached to this post.
- Capt. Yoda
- Hero Member

- Posts: 13524
- Joined: Thu Apr 11, 2013 12:35 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Bitter mooi Gemsbok daai
A child of five would understand this. Send someone to fetch a child of five.
-
partner
- Hero Member

- Posts: 982
- Joined: Sun Jun 19, 2011 8:24 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Baie Dankies vir Mooi Storie en Fotos Koos. Nou Lekker gelees.
- snakker
- Hero Member

- Posts: 1382
- Joined: Sun Jul 12, 2015 7:28 am
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Jislaaik, mooi kudu daai!
Sent from my 23090RA98G using Tapatalk
Sent from my 23090RA98G using Tapatalk
-
Johan Nel
- Hero Member

- Posts: 2172
- Joined: Sat Jun 16, 2012 12:42 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Dis altyd lekker om sulke jagstories te lees. Beide bokke is baie mooi.
"If a cluttered desk is a sign of a cluttered mind, of what, then, is an empty desk a sign?'
- Laurence J. Peter
- Laurence J. Peter
- sako 30-06
- Hero Member

- Posts: 1986
- Joined: Mon Mar 19, 2012 2:45 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Baie dankie Oom Koos, dis lekker om weer te lees en te sien dat die manne darem nog jag.
Baie mooi koedoe en gemsbok, ek is jaloers.
Baie mooi koedoe en gemsbok, ek is jaloers.
-
honda2
- Full Member

- Posts: 194
- Joined: Wed Sep 23, 2015 2:16 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Geluk met die mooi bokke! Nou raak ek self.opgewonde oor my planne Kalahari toe einde Junie.
Sent from my SM-A346E using Tapatalk
Sent from my SM-A346E using Tapatalk
-
Wouter Roets
- Administrator

- Posts: 7548
- Joined: Wed May 19, 2010 2:06 pm
Re: Karoojag 2025 met kliënte
More Koos
Dankie vir die mooi storie. Jy kan jouself baie bevoorreg ag dat jy nog die gesondheid het om hierdie tiepe jagte aan te pak. Well done!
Geluk aan die twee jagters ook, glo hierdie sal hulle vir altyd na aan die hart le.
Groetnis
Wouter
Dankie vir die mooi storie. Jy kan jouself baie bevoorreg ag dat jy nog die gesondheid het om hierdie tiepe jagte aan te pak. Well done!
Geluk aan die twee jagters ook, glo hierdie sal hulle vir altyd na aan die hart le.
Groetnis
Wouter
-
Koos Barnard
- Hero Member

- Posts: 2150
- Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am
Re: Karoojag 2025 met kliënte
Dag Wouter
Baie dankie, ek waardeer. Ja, die manne het dit geweldig baie geniet. Die skoonpa, Marinus, is nou net baie spyt dat hy die lekker van jag en skiet ontdek het eers toe hy al oor 60 jaar oud was.
Mooi loop
Baie dankie, ek waardeer. Ja, die manne het dit geweldig baie geniet. Die skoonpa, Marinus, is nou net baie spyt dat hy die lekker van jag en skiet ontdek het eers toe hy al oor 60 jaar oud was.
Mooi loop
