Oplossings soos neksize, krimp meer/minder, die doppe is te oud/nuut, moenie PMP/Norma/Lapua/Remington/Winchester/watookal gebruik nie, ensovoorts word aanbeveel terwyl al wat moet gedoen word is om die eerste matrys, die vormmatrys, reg in te stel.
Hier is wat om te doen en moenie stappe uitlaat nie. Die instel is 'n gehele stelsel soos 'n resep. As een van die bestandele uitgelaat word, werk die resep nie.
1. Gebruik altyd dieselfde shellholder en vormmatrys saam met mekaar.
2. Sorg dat die doppe binne die regte lengteperke is.
3. Sit die vormmatrys in die pers en skroef dit in totdat die matrys liggies raak aan die shellholder wanneer dit op die hoogste posiisie is.
4. Smeer 'n dop en vorm dit.
5. Maak die dop deeglik skoon van smeermiddel en stoot dit in die geweer se kamer in. Met Mauser aksies moet mens die dop so halfmas in die magasyn druk sodat dit steeds voer wanneer die slot en uitrekker die dop optel en vorentoe stoot.
6. Indien die slot toemaak op die dop asof daar niks in die kamer is nie, plak 'n laag maskeerband op die agterkant van die dop en probeer weer.

7. Hou aan met maskeerband byvoeg tot die slot begin sleep wanneer dit toemaak en daar duidelike tekens is dat die slot druk op die maskeerband uitoefen.
8. Meet die dikte van die maskeerband lagies almal tesaam en stel die vormmatrys op (weg van die shellholder af) met dieselfde mate. Meet die hoogte met 'n feeler guage. (Mens het dit in die ou dae gebruik om die punte of vonkproppe van 'n motorenjin reg te stel en dit kan by enige onderdele plek gekoop word vir baie min geld) of:
9. 'n Standaard matrysstel het 'n skroefdraad met 14 draaie per duim. Een volledige draai is dus 'n hoogteverskil van 1.8mm. Maskeerband se dikte wissel van 0.080mm tot 0.100mm. Vir elke laag maskeerband moet die matrys dus ongeveer 5 minute op 'n horlosie se gesig uitgedraai word. (Maar dit is beter om te meet, dan weet mens.)
10. Sluit die matrys op die nuwe posisie en meot dit nie weer verstel vir daardie geweer nie.
Die idee is om die afstand tussen die skouer van die kamer en die kop van die slot te dupliseer tussen die skouer van die matrys en die shellholder.
Indien die matryse nie sluitringe met sluitskroewe het nie, verkoop die stel aan iemand wat jy nie van hou nie en kry 'n regte stel matryse.
Dit sal nodig wees om eenkeer deur al die doppe te skiet voor die effek van die regte instelling werklik posvat. Moet nie die vormmatrys verstel nie.
Nuwe doppe moet gevorm word voor hulle gelaai word. Moet nie die vormmatrys verstel nie.
As die ammunisie reg pas, moet die slot sleep wanneer die slot toegemaak word. Dit moet die gevoel van 'n stewige handdruk gee. Moet nie die vormmatrys verstel nie.
Indien die ammunisie te styf begin toemaak, is dit tyd om die lengte van die doppe reg te sny en die doppe uit te gloei (anneal). Moet nie die vormmatrys verstel nie.



