Die tannie op die lughawe

Enige iets pas hier/ discuss anything here
Post Reply
Koos Barnard
Hero Member
Hero Member
Posts: 1673
Joined: Fri Feb 11, 2011 10:28 am
Contact:

Die tannie op die lughawe

Post by Koos Barnard » Sat Nov 21, 2020 11:25 am

Hier is nog 'n paar woorde - dalk ken van julle so 'n tannie:


Nes my gewese man

Die lughawe was gepak met mense wat woel en beur om by die plekke te kom waar hulle moes aanmeld om hul bagasie op die vliegmasjiene te kry. Ander weer het hekke toe gemik om in die groot ystervoëls se pense te gaan klim.

Dis wyl hy op pad was Doeane toe om die opgestopte springbokkop te loop verklaar dat die antie die jong man voorkeer. Haar hare was duidelik gekleur, ’n byderwetse sonbril het het hoog teen haar voorkop vasgeklou en haar arms en hande was behang met blink goed – amper soos Philemon se dorp-toe-gaan-fiets. Háár blinkers was net duurder.

Haar designer jeans, met designer stukkende plekke op die knieë en een bobeen het die antie se bene styf omhels en haar toppie was, wel... net-net nommerpas. Natuurlik het sy ’n bypassende handsakkie gehad van fake krokodilvel. Ja, sy was mooi opgedollie, so mooi jy sou sweer sy het een of ander pedigree onder lede.

“Het jy daardie arme mammabok geskiet, jong man,” het sy rooigesig en beskuldigend gevra en met ’n ellelange, bloedrooi vingernael na die bokkop gewys. “Ja,” beduie die kêrel, “ek het hom geskiet, maar dis nie ’n mammabok nie, dis ’n ram, ’n pappabok.” Toe raak die antie se gesig eers rooi. “En het jy nie gedink wat se hartseer jy sy gesinnetjie sou aandoen toe jy hom skiet nie, jou barbaar,” het sy byna geskree.

Eers wou die man hom vererg maar toe kom die gedagte by hom op, “mutton dressed as lamb in a desperate attempt to draw attention”. Skielik voel hy jammer vir haar en begin toe maar geduldig verduidelik. “Dame, springbokramme het nie gesinne nie. Enkelramme en -ooie maak nie maats nie. Springbokke is kuddediere. Die ramme kry vir hulle ’n loopgebied waarbinne hulle beweeg en ieder ooi wat daardie territorium kruis word aangekeer om deel van hulle harems te raak – maak nie saak of sy mooi of lelik, vet of maer, jonk of oud, gewillig of skaam is nie. So ’n ram tjaaf die girls links en regs, pronk grootdoenerig rond en show grootmeneer af. Net soos sommige mansmense op die strand doen as hulle jong Eva’tjies sien verby trippel.”

“En só Mevrou, verwyl die ramme hulle dae. Afsprake maak en flikflooi met elke liewe bokkie-dametjie neem elke dag die ram se hele dag in beslag.”

Die tannie het eers rooier geraak en toe wit van woede. Haar oë het geblits maar die jong man het deurgedruk. “En wat meer is tannie... uhh, ek bedoel dame. Die ramme help glad nie met die jong bokkies se geboorte of opvoeding nie. Hulle help ook nie beskerm as roofdiere soos jakkalse, jagluiperds en luiperds die kleintjies wil vang nie. Ooie moet maar self sien en kom klaar.”

“Ergste van alles, as paartyd verby is, sny die ramme ’n lyn om saam met hul tjomme in ramtroppies te gaan rondhang. Dan verwyl hulle hul tyd met allerlei ander dinge wat springbok-mansmense hulself mee vermaak.”

“Dis eers wanneer die ooie weer ontvanklik vir attensies begin raak dat hulle skielik belangstelling toon in die wel en weë van die Eva’s. O ja, en dan boender hulle sommer die jong rammetjies – soms hul eie seuns – uit die trop. Pure jaloersbokke, sulke volwasse ramme. As die ooitjies vir hulle beginne glimlag, raak hulle weer nes verspotte tieners.”

Die tannie se gesig het weer bloedrooi geraak. En al het hy so mooi verduidelik, het die jong man die ergste verwag. Maar in plaas daarvan dat sy hom ’n goeie skrobbering gee, het sy haar hand byna moederlik op sy voorarm geplaas.

“Jongman”, sê sy toe, “daai streke van die springbokramme klink vir my presies soos dié van my gewese man. Ek is só bly jy het die helsem geskiet. Roei al daai belustige bliksems uit.” Toe trippel sy weg in haar mooi, geskeurde designer jeans.

User avatar
alecjohnson
Hero Member
Hero Member
Posts: 2431
Joined: Tue Mar 05, 2013 10:01 pm
Location: Upington

Re: Die tannie op die lughawe

Post by alecjohnson » Sat Nov 21, 2020 12:20 pm

Jis het ek nou lekker gelag!

User avatar
PWV
Hero Member
Hero Member
Posts: 6855
Joined: Sun Jul 15, 2012 6:21 pm
Location: Paarl

Re: Die tannie op die lughawe

Post by PWV » Sat Nov 21, 2020 12:53 pm

Koos, jy kan maar nog murgbene oopkap!!
Many people are alive, only because it's illegal to shoot them.

Groetnis
Pieter Willem Vorster

JDKey
Sr. Member
Sr. Member
Posts: 265
Joined: Fri Apr 12, 2013 9:14 am
Location: Roodepoort

Re: Die tannie op die lughawe

Post by JDKey » Sat Nov 21, 2020 10:56 pm


User avatar
airhunter
Hero Member
Hero Member
Posts: 502
Joined: Sun Apr 30, 2017 6:44 pm
Location: Queenstown EC

Re: Die tannie op die lughawe

Post by airhunter » Mon Nov 23, 2020 1:18 pm

Koos my tande is ook maar aan die lank word.
Smaak my jy verduidelik n vrou van om en by ons fighting size jong :laugh: :laugh: :laugh:

Lekker storie

Doen asseblief so voort.
The trouble ain't that there is too many fools, but that the lightning ain't distributed right.
Mark Twain

Post Reply

Return to “Algemeen/General Discussion”